10 dinge wat jy oor jou preemie moet weet

As jy nou net aan ’n vroeggebore baba die lewe geskenk het, het jy waarskynlik talle bekommernisse, vrae en verwagtinge. In die volgende paar weke sal jy gewoond raak aan hoe hy lyk, wat hy nodig het en hoe om na hom om te sien. Hier is belangrike feite wat jou kan help.

1. Jy is nie alleen nie

Die vroeë geboorte van jou baba kan traumaties wees, maar baie ma’s was al waar jy nou is. Sowat 14 persent van babas wat in privaat sorg in Suid-Afrika gebore word, word te vroeg gebore. Hierdie syfer neem tot 23 persent toe as jy openbare gesondheidsorg bytel.

Jy het ’n kits-ondersteuningstelsel in die ander ma’s daar in die neonatale intensiewesorg-eenheid (NISE) – leer hulle gerus ken. Onthou ook dat hospitale baie ervaring het in die versorging van vroeggeborenes, jou kleinding is dus in goeie hande.

2. 'n Goeie kans op oorlewing

Danksy voortdurende vooruitgang in die mediese wetenskap oorleef meer as 90 persent van vroeë babas wat 800 gram of meer met geboorte weeg. Hoe kleiner en vroeër jou baba gebore word, hoe groter is die gevaar van komplikasies.

3. Jou baba het jou nodig

Alle babas, maar veral vroeggebore babas, oreer op hul ma se aanraking. As jy jou baba teen jou bors vashou, help dit om sy liggaamstelsel te stabiliseer, maak dit borsvoeding suksesvoller en bind julle beter.

Vra om jou baba so gou moontlik vas te hou, al is hy nog aan monitors gekoppel. Bespreek dit met jou dokter.

Selfs al kan jy jou baba nie vashou nie, kan jy positiewe aanraking beproef – dit het ook baie voordele en dis eintlik ’n moet vir vroeggebore babas. Vra die verpleegsters of jy sy hand met jou vinger mag vashou. Jou baba het jou liefde en aanraking nodig. Probeer om waar moontlik betrokke te wees by jou baba se versorging.

Skrop jou hande goed (infeksie is altyd ’n gevaar in die NISE en preemies is veral vatbaar daarvoor) en vryf sagkens oor jou baba se arms of bene as die mediese personeel dit toelaat.

4. Grootte tel

Jou baba se uitkoms hang van heelparty faktore af. Hoe later in die swangerskap jou baba gebore is (veral ná 26 weke), hoe groter is die kans dat hy oorleef.

’n Baba wat vroeg gebore is, is baie kleiner en minder ontwikkel en sal moontlik langer mediese versorging nodig hê.

Ander faktore wat ’n rol in jou baba se uitkoms speel, is sy gewig, die volwassenheid van sy organe (veral die longe) en of daar ’n infeksie of ander mediese probleem is

5. Hy lyk effens anders

Jou piepklein vroeggebore baba se brose liggaam kan jou dalk laat skrik. Hy is baie klein en sy kop kan te groot vir sy klein ly¬e lyk. Dis omdat baie vroeë babas nog nie vet onder hul velletjies het wat in die laaste paar weke voor geboorte vorm nie. Jou baba se velkleur kan rooierig en deursigtig wees.

Afhangend van hoe vroeg hy gebore is, kan sekere dele soos sy geslagsdele nog onderontwikkeld wees, of dalk het hy nog nie naels nie.

6. Die hospitaal is deel van jou lewe

Die NISE is toegerus om jou baba die sorg te gee wat hy nodig het onder die toesig van kundige dokters en verpleegsters.

Dit is aanvanklik ’n vreemde omgewing vol mediese toerusting (en soms luiende alarms) en met min beligting, maar dit is in hierdie stadium die beste plek vir jou baba.

Dit is moeilik om te aanskou hoe jou kleinding aan soveel buise en toestelle gekoppel is, maar dit is gerusstellend om te weet dat hierdie dinge hom in staat stel om te voed, en sy lewenstekens, asemhaling en temperatuur te monitor.

Dit is nie ongewoon dat preemies lank in die hospitaal bly nie. Die meeste bly daar tot min of meer hul verwagte geboortedatum, maar ander faktore kan ook hul ontslag beïnvloed, soos of hulle self kan asemhaal, kan suig en sluk, en of hulle ’n konstante liggaamstemperatuur kan handhaaf.

7. Kleinding se spesiale behoeftes

Omdat jou preemie so min vet op sy liggaam het en nog nie ten volle ontwikkel het nie, is dit vir hom moeilik om sy liggaamshitte te onderhou. Broeikaste en ander masjiene word gebruik om hom warm en sy temperatuur konstant te hou.

Die ander belangrike behoefte is voeding. Jou preemie groei teen ’n vinnige tempo, dus is sy voedingsbehoeftes taamlik hoog. Sommige vroeggebore babas kan nog nie goed genoeg suig om uit jou bors of ’n bottel te drink nie. Melk word dan deur ’n neusbuisie na jou baba se maag vervoer.

Oorweeg dit om jou preemie te borsvoed. Jy sal aanvanklik moet uitmelk sodat jou baba die melk deur die buisie kan ontvang. As jy hiermee aanhou, sal jou baba later na die bors kan oorskakel wanneer hy sterk en volwasse genoeg is om te suig. As jy nie kan nie, sal jou baba formulemelk kry wat spesi¬ek vir vroeggebore babas ontwerp is.

8. Jou baba ontwikkel anders

Moenie jou baba vergelyk met jou vriendinne se babas van dieselfde ouderdom nie. Die mylpaalontwikkeling van vroeggebore babas is baie verskillend as dié van voltermynbabas. Probeer van jou baba se ouderdom vergeet wanneer jy na sy ontwikkeling kyk; hou liewer die ouderdom in gedagte wat hy sou gewees het as hy op sy verwagte datum gebore was.

Doen dit so: Neem jou baba se ouderdom van die dag dat hy gebore is (chronologiese ouderdom) en trek die aantal weke wat hy vroeg was, daarvan af. Byvoorbeeld: ’n agt maande oue baba (chronologiese ouderdom) wat agt weke vroeg gebore is, het ’n gekorrigeerde ouderdom van ses maande.

Jou baba hoef sy mylpale eers te haal wanneer hy sy gekorrigeerde ouderdom bereik, en as hy baie siek was, selfs later. Vroeggebore babas toon dikwels ’n agterstand tot hulle omtrent twee jaar oud is.

9. Mediese probleme

Hoewel die tegnologie die laaste dekades dramaties ontwikkel het, kan probleme ook ontstaan. ’n Preemie vaar gewoonlik taamlik goed in die eerste 72 uur, en dan kan hy skielik agteruitgaan en komplikasies begin opdoen. Dit is normaal, maar kan skrikwekkend wees.

Preemies sukkel in die NISE dikwels met onstabiele bloeddruk, hulle hou soms vir rukkies op asemhaal, en hulle het ekstra suurstof nodig. Hulle kan breinbloedings of gevaarlike infeksies opdoen.

Op langer termyn is daar moontlike komplikasies soos sigprobleme, gehoorprobleme, bewegingsprobleme en ontwikkelingsagterstande.

Dis dus baie belangrik om jou preemie gereeld te laat evalueer en selfs vir terapie te neem om langtermyn-probleme betyds te behandel.

10. Pas jouself op

Dit is baie normaal om ’n warboel van emosies te ervaar, soos woede, depressie, hulpeloosheid of skuldgevoelens. Dit is daarom belangrik om ondersteuning te hê. Praat met die verpleegsters in die NISE, of sluit by ’n ondersteuningsgroep aan.

Onthou ook dat jou klein baba jou nou nodiger as ooit het. Die beste moontlike kans wat jy hom kan gee, is om jouself op te pas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters