Hap vir hap, stap vir stap

Jou ma spog dat jy al op drie maande pap geëet het, die dokter sê begin op vier maande met groente en die klinieksuster sê jy kan vleis eers op nege maande gee. Jou vriendin sweer hoog en  laag dat hulle almal die kat aan die stert beet het, en jy is so deurmekaar soos ’n verkleurmannetjie op ’n Smartieboks. Wat jy nodig het, is die feite sodat jy jou baba rég en met selfvertroue kan leer eet.

STAP 1

Begin op die regte tyd.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beveel aan dat babas op 6 maande vaste kos begin eet. Borsmelk alleen gee nie meer genoeg voedingstowwe nie, en die meeste babas se lyfie is dan gereed vir eet. Om hierdie rede sal jy sien dat die babakos op die winkelrakke ook aandui dat dit eers van 6 maande af gegee kan word. 

Sommige dokters beveel aan dat babas op 4 maande begin eet om allergieë te help vryspring. Behalwe dat meer navorsing nodig is oor die voorkoming van allergieë, is die meeste vier maande oue babas nog nie gereed om te eet nie. Die beste tyd is dus wanneer jóú baba gereed is, maar nie voor 4 maande en ook nie later as 6 maande nie

Jou baba se ontwikkeling moet op so ’n vlak wees dat sy maklik kan eet: 

Sy moet regop in ’n eetstoeltjie kan sit wat net haar ruggie ondersteun, sy moet haar kop kan regop hou en wegdraai as sy nie wil eet nie en sy moet belangstel in kos. As jou baba begin gryp na kos en dit in haar mond probeer druk is dit dus ’n goeie teken en nie slegte maniere nie. Alle babas het ’n refleks wat maak dat hul tongetjies kos uitstoot. Dit verdwyn teen ongeveer 6 maande en as jy probeer kos gee voor dit weg is, sal jy dit vir jouself net baie moeilik maak.

Die beste vir jou baba is dus om te wag tot al hierdie tekens daar is voor jy aan babakos dink. As jou baba skielik meer gereeld wil drink of meer wakker word in die nag beteken dit nié dat sy gereed vir vaste kos is nie.

STAP 2: Onthou die beginsels

Daar is soveel verskillende maniere om kos te gee as wat daar ma’s op planeet aarde is. Die presiese volgorde waarin jy die kosse gee sal nie jou baba maak of breek nie, maar dit is belangrik dat jy ’n paar babakosbeginsels ken voor jy die bakkie en lepel nader trek.

  • Gee so gou as moontlik kos wat baie yster bevat. 
  • Gee een nuwe kossoort op ’n slag, twee tot drie dae uitmekaar.
  • Gee nuwe kos altyd in die oggend, die eerste twee kere net ’n teelepel of twee.
  • Gee elke keer ’n nuwe kossoort uit ’n ander voedselgroep sodat sy gou gebalanseerd kan eet.
  • Gee elke kossoort apart sodat sy kan leer hoe elkeen lyk en proe.
  • Gee kosse met verskillende kleure en geure; soveel moontlik in die eerste jaar.
  • Gee kos wat maklik allergieë veroorsaak ook van die begin af; moet dit nie uitstel tot ná ’n jaar nie. 
  • Gee kosse met sterker geure en dié wat gasvormend is ’n bietjie later.
  • Gee geleidelik growwer kossies, en kos met stukkies in van ongeveer agt maande af.
  • Gee kos wat nie suiker of sout by het nie.

STAP 3: Doen dit reg

Jou enigste doel is nie net om kos in jou woelwater se lyfie te kry nie. Wanneer jy jou baba leer eet, leer jy haar ook gewoontes en maak sy assosiasies wat haar lewe lank by haar sal bly. Hóé jy dit doen is dus net so belangrik. 

Maak oogkontak, skep ’n rustige, vrolike atmosfeer en laat haar reg van die begin af saam met die res van die gesin eet. Moet haar nooit dwing of omkoop om te eet of haar aandag aftrek om ’n happie in te kry nie. Sy kan nog nie praat nie en sal daarom haar lyfie gebruik om vir jou te wys dat sy honger of versadig is.

As sy honger is sal sy reik na kos, wys na kos, haar kop draai na die lepel of haar mondjie oopmaak vir die lepel. Wanneer sy versadig is sal sy stadiger eet, belangstelling in kos verloor en meer belangstel in wat om haar aangaan, haar kop wegdraai of haar kop skud om nee te sê, haar lippies toeknyp of die kos wegstoot. Let op hierna en hou dadelik op voer wanneer sy wys dat sy versadig is. 

Deur te troos met ’n melkie as sy hartseer of alleen is, leer jy haar om ’n emosionele eter te word; gee dus liewer ’n stywe druk en soen en hou die kos en melk vir ’n honger magie.

STAP 4: Die plan

Hierdie baba-eetplan is nie die enigste regte manier nie, maar is ’n goeie voorbeeld. Dit sal jou help om jou kleinding te leer om ’n verskeidenheid kosse te eet, sorg dat sy al die belangrike voedingstowwe inkry, en dat sy sommer van vroeg af gebalanseerd leer eet.

Kos wat jy self maak is baie beter as gekoopte kos. Dit het meer tekstuur, is nie gemeng nie en is meer ekonomies. Jy kan ook ’n baie groter verskeidenheid soorte en kleure kos gee as wat in die winkel beskikbaar is. Tuisgemaakte kos proe soos mamma se kos en dit is tog wat jou baba moet leer eet. 

Te moeilik om te maak is dit glad nie: Stoom dit, maak dit fyn en vries in ysbakkies. Nou kan jy net elke keer ’n blokkie of twee uithaal van wat jy nodig het. Jy gaan aanvanklik omtrent dieselfde hoeveelheid melk gee en dit later geleidelik verminder. Onthou om vir haar saam met elke ete water uit ’n bekertjie te gee. 

Hoe doen ek dit?

Stoom

Stoom baba se kos in ’n voedselstomer of kook ’n klein bietjie water in ’n pot en plaas ’n vergiettes met die kos wat jy wil stoom, in die pot. Die water moenie aan die kos raak nie. Plaas die deksel op en prut tot die kos gaar gestoom is. So gaan baie min vitamiene verlore en dis ook ’n vinnige manier om kos gaar te kry.

Puree

As jy die kos klaar gestoom het, laat dit afkoel. Maak dit met ’n menger of stokmenger fyn.

Vries

Skep die puree in ysbakkies. Vul elke ysbakkie met puree soos wat jy dit met water sou vul om ysblokkies te maak. Trek kleef-plasties oor die ysbakkies sodat dit goed verseël is en vries dit. 

As die kos gevries is, haal die kosblokkies uit die ysbakkies, plaas in ’n plastieksakkie en vries verder.

Klik hier om ons eetplan af te laai. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
12 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters