Bind speel-speel
BABA

(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba en Kleuter, Junie 2016) 

1. WIEG HEEN EN WEER

Beweging is vir babas wonderlik, want dit herinner hulle aan die sagte gesus wat hulle in die baarmoeder ervaar het. Gaan gerus voort met baarmoedertipe-bewegings deur haar styf toe te draai en ritmies heen en weer te wieg. Jy kan vanaf drie weke ’n abbasak gebruik. As jy boonop saggies vir haar kan sing terwyl julle beweeg, het jy ’n wenner beet.

2. KRUIP OF STAP SAAM

Met dié speletjie is jy die vriendelike leeu en sy bly die kruipende baba. Kruip saam en maak geluide terwyl jy met jou welpie speel. Namate sy ouer word, kan die leeu ál kwaaier word en die baba probeer vang. As dit begin lyk of sy haar eerste treetjies wil gee, kan julle dié gewilde speletjie begin speel: Laat haar op jou voete staan, hou al twee haar handjies vas en laat haar met jou voete stap. Gee lekker groot treë. Dit sal haar nie net aanmoedig om die groot stap te neem nie; dis pret ook.

Lees: Peuter-pret!

3. RYM EN KLAP

Dink aan Duimpie en sy maats, die apie op die stokkie, handjies klap en koekies bak, en al om die huisie: Aksierympies en -liedjies bly treffers! Skaf ’n verseboek aan – bykans almal, die oues en die nuwes, het ’n hoofstuk met aksierympies. Of koop ’n CD met aksieliedjies wat julle saam kan uitvoer. Jou kind sal elke keer skaterlag en gou ’n gunstelingrympie of -liedjie hê wat jy oor en oor sal moet voordra.

4. ROFSTOEI

Hierdie speletjie is ’n baie gewilde bindspeletjie. Rol bo-oor mekaar en veg speelspeel op ’n sagte mat binnenshuis of buite op die gras. ’n Kussinggeveg op die bed in die hoofslaapkamer is ook altyd groot pret.

5. JY KAN MY NIE VANG NIE

Sekere dinge verander nooit nie ... soos die lekkerte van die vang-my-speletjie! Raak saam met jou kinders uitasem terwyl julle mekaar probeer vang. As hulle nog klein is, sal jy goed toneel moet speel en maak asof hulle te vinnig is, maar pasop, later jare sal jy moet laat spaander om nie gevang te word nie!

Lees: Mylpale wat mamma gelukkig hou

6. BLAAS SEEPBELLE

Betower jou kind met seepbelle. Vir die kleineres kan jy die blaaswerk doen terwyl baba net met haar ogies die blink belle volg (wat terloops baie goeie oefening vir daai oogspiere is). Bewegende babas kan die ewig ontwykende seepbelle wat jy blaas probeer vang terwyl peuters en kleuters self kan blaas en jóú laat hardloop. Maak seepbelle: Voeg twee eetlepels opwasmiddel by ’n koppie water. Laat staan die oplossing ’n dag of twee vir die beste resultate. As jy ’n eetlepel gliserien byvoeg, is die seepbelle nóg beter.

7. DANS SAAM

Dans gerus saam met jou kind – dans as daar ’n lekker liedjie oor die radio speel, of sit jul gunsteling-liedjies op. Probeer om jou kind aan verskillende soorte musiek bloot te stel, van klassiek tot ritmiese Afrikadromme. Jy kan ook vir jou kinders lang linte of een van jou serpe gee om mee te dans. Peuters sal daarvan hou om voor ’n lang spieël te dans.

Maak groot bewegings as julle saamdans; jou kind sal jou naboots. Ander musiekspeletjies wat julle saam kan speel is die bekende stoeledans, waar jou kind moet dans tot die musiek ophou en dan baie gou ’n stoel (gebruik kinderplastiekstoeltjies) moet kry om op te sit. Dieselfde geld vriesspeletjies, waar jou kind in ’n standbeeld moet verander en so moet bly staan as die musiek skielik ophou.

Lees: Klein baba, Groot mylpale

8. SOEK SAAM SKATTE

Bykans alle kinders is versamelaars. Hulle hou daarvan om blare, klippe en soms, tot jou afgryse, lewendige slakke en wurms op te tel en vir jou as geskenk te bring. Om buite saam ’n skattejag te hou kan ’n wonderlike deel- en leerervaring wees. Sorg dat elke kind en jy ’n sak, emmer of enige soort houer het en soek dan saam na skatte in die tuin of park. Jy kan die skattejag vir ouer kinders moeiliker maak met spesifieke opdragte soos dat hulle 10 ronde klippe moet versamel of net langwerpige of bruin blare moet optel.

9. MET DAPPER EN STAPPER

Stap is ’n perfekte gesinsuitstappie en kan met baie ander leersame dinge gekombineer word. Ouboet kan self stap (trek net vir hom gemaklike skoene aan) terwyl kleinsus in ’n rug-drasak gedra kan word waar die pad te steil is. Baba kan in haar stootwaentjie saamgaan. Julle kan om die blok stap, in die naaste park, of ’n heuweltjie in jul omgewing aandurf.

Maak net seker julle neem genoeg water saam. Maak die staptog interessant deur dit soms ’n luistertog te maak. Dan moet jou Kleuter en ouer kind fyn luister na alles wat hulle buite kan hoor: voëlgeluide, motors, dalk water in ’n afvoerpyp. Julle kan dieselfde doen met ’n sien-staptog, waar kleine ogies alles wat hulle sien, met jou moet deel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters