Borsvoeding en seks

Is daar seks ná geboorte?

Niks kan ’n mens voorberei op die werklikheid van die lewe met ’n nuwe baba nie. Die eerste weke is dol, ongeag of jy borsvoed of bottelvoed. Die meeste nuwe ouers voel of hul net-net oorleef. Slaapontneming is ’n passiedoder en wanneer baba eindelik insluimer, haal julle net verlore slaap in.

Babasorg is ’n 24/7-taak en julletyd iets van die verlede. Jou liggaam moet boonop ná die geboorte herstel, veral as jy ’n perineale skeur, episiotomie of keisersnee gehad het. Emosionele faktore speel ook ’n rol. Wipplankemosies weens hormoonskommelinge is algemeen. Soms is moederliefde aanvanklik so allesoorweldigend dat ’n vrou haar maat afskeep.

Ma’s is ook óp gevoel. Jou klein mensie is heeldag in jou persoonlike ruimte – teen slaaptyd wil jy asseblief net jou lyf vir jouself hê. Toenadering deur jou maat is net nóg een van die nimmereindigende liggaamlike eise wat jou energie tap.

Verlaag borsvoeding jou libido?

Omdat navorsingstudies gemengde resultate oplewer, het ons gaan kers opsteek by ma’s op die borsvoedorganisasie La Leche League se Facebook-blad. Die meerderheid voel inderdaad minder amoreus, hoewel dit vanselfsprekend ook ’n gevolg van vroeë moederskap kan wees.

“Borsvoedingshormone kan jou libido onderdruk,” meen Veronica. “Albei ouers moet oopkop bly en kompromieë aangaan. Ek moet darem byvoeg dat niks meer sexy is as ’n man wat borsvoeding heelhartig ten koste van homself ondersteun nie.”

“My lewensmaat wil teen die mure uitklim,” vertel Petro. “Die arme man is totaal ontneem van erotiese aandag en voel of hy gestraf word. Die tweeling dreineer my. Ek borsvoed én melk uit en wil nie hê nóg iemand moet aan my oorwerkte borste raak nie.

Saans wil ek op die bed neerval en ’n uiltjie knip voor ek die deurnag-restaurant heropen. My fantasieë? Slaap. ’n Lang bad. Om rustig ’n koppie tee te drink. Seks is nommer 999 op my prioriteitslys.

Die boonste items is: Bly wakker, voed die babas, ruil doeke, maak aandete, trek self aan …” Colleen se baba is nege maande oud en haar libido is steeds soek.

“My maat aanvaar dit brom-brom, maar besef borsvoeding is my keuse en die beste vir ons kleinding.”  

Is daar goeie nuus?

Ja, borsvoedingshormone kan jou libido ’n hupstoot gee. Oksitosien (die sogenaamde liefdeshormoon) en prolaktien (die moederskapshormoon) skep ’n gevoel van welbehae wat na jou liefdeslewe kan oorspoel. Moederskap is die hoogtepunt van vroulikheid – dis moontlik dat jy begeerliker as ooit voel.

Wanneer seks seermaak

Jou estrogeenvlak is laag terwyl jy borsvoed, en dit kan vaginale droogheid en ongemak meebring. Catharina, ook op die Facebook-blad, het geweldig daarmee gesukkel. “Ek het vyf maande lank van die pyn gehuil wanneer ons liefde gemaak – of selfs net daaroor gepraat – het.

Dit was só frustrerend. Borsvoeding het my behoefte verhoog, tog wou my lyf nie saamspeel nie. Nadat ons elke smeermiddel op die mark probeer het,

het ’n vriendin kokosneutolie voorgestel. Dié keer was my trane van vreugde. Wees net versigtig; dit kan kondome beskadig.” Pynlike seks begin ’n bose kringloop: Hoe banger jy is, hoe groter die kans dat jou vaginale wande saamtrek en verdure ongemak veroorsaak. Wag dus liefs tot jy volkome herstel het en jou dokter intimiteit die groen lig gee. Smeermiddels en genoeg voorspel is noodsaaklik.

Jou dokter kan ’n estrogeenroom of setpil voorskryf. In hierdie vorm onderdruk estrogeen nie melkproduksie nie. Beproefdie eerste paar kere posisies waarin jy die diepte van penetrasie beheer sodat jy seks nie met pyn verbind nie.

Oksitosien en orgasme

Wanneer jou baba drink, stel jou brein oksitosien vry. Dit skop jou sakrefleks aan die gang en die spierselle om jou alveoli (melkblasies) trek saam en stort borsmelk in jou melkbuise. Oksitosien word ook tydens ’n orgasme vrygestel. Dit kan ’n nat spulletjie afgee, hou dus maar jou bra aan of ’n handdoek byderhand. Voed baba vroegtydig indien julle planne vir die aand het.

“Ek sal nooit die poel melk onder my vergeet nie,” sê Marian. “Niemand het gewaarsku dat ek sou lek tydens ’n orgasme nie. Toe die ergste skrik oorwaai, het ek en manlief byna die baba wakker gelag.”

Baba se sesde sintuig

In die eerste paar weke is dit asof ’n baba ’n telepatiese band met sy ma het. Sodra jy sterk emosies soos begeerte ervaar, is hy wakker. Sonika kan hiervan getuig: “Ons het daardie tipiese ervaring gehad wat ’n mens in flieks sien: Net toe ons lekker opgewerk raak, huil boeta vir melkies. ’n Sin vir humor is belangrik – oor jul skreeuende baba of jou druppende borste.”

Gee jul liefdeslewe weer woema

Dr. Elmari Craig Mulder, ’n kliniese seksuoloog van Pretoria, gee raad aan nuwe ouers.

1. Gun jouself ’n blaaskans. Jul lewe het pas onherroeplik verander – moenie skuldig of bekommerd voel as seks die laaste ding in jou of jou maat se gedagtes is nie. Nuwe ma’s kan vind dat borsvoeding, die aanpassing by ’n nuwe roetine en moontlike seksuele druk hul seksdrang knou.

2. Dit is normaal. Ná swangerskap duur dit ’n geruime tyd voor jou hormone stabiliseer en jy gemaklik in jou vel voel. Respekteer mekaar se behoeftes en fokus op sensuele eerder as seksuele intimiteit. Hou mekaar vas of vryf jou maat se rug en voete.

3. Beplan vir seks. Dink vooruit en bestuur jul tyd sinvol. Afwagting kan net so stimulerend wees as spontaneïteit. Kry soms ’n babaoppasser of werk rondom baba se behoeftes.

4. Kry hulp. Aanvaar familie en vriende se bystand. Oorweeg meer wegneemetes, stel ’n huishulp aan, betaal rekeninge oor die internet. Só spaar julle ure en energie en skep julle meer saamweestyd.

5. Respekteer jul gesondheid. ’n Gesonde leefstyl help jou liggaam herstel. Eet gesond en kry matige oefening. Gaan stap as gesin om die blok. Slaap wanneer baba slaap.

6. Ontspan en wees goed vir jouself en jou maat. Jy besef dalk nie hoe gespanne jy of jou maat is tot julle doelbewus probeer ontspan nie.

7. Wees geduldig. ’n Vrou se liggaam keer nie onmiddellik ná kindergeboorte terug na normaal nie. Vaginale penetrasie kan tydelik ongemaklik en selfs pynlik wees. Beëindig die seksdaad dadelik as dit seer is. ’n Goeie silikonbasissmeermiddel is dikwels al wat nodig is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters