Is jou huis al baba-bestand?
veiligheid

Hier is 41 dinge wat jy nou al kan doen om jou baba te beskerm

1. Natuurlik hou jy gif weggesluit, maar het jy geweet baie skoonmaakmiddels is ook gevaarlik? Bêre dit in ’n hoë kas of ’n kas wat kan sluit. Dieselfde geld vir medisyne en aanvullings.

2. Belê in ’n hekkie vir die bo- én onderkant van jul trappe.

3. Maak seker kragpunte het spesiale veiligheidsdoppies.

4. Skaf veiligheidsknippe aan vir kaste, deure, laaie en toiletdeksels.

5. Kom nou al in die gewoonte om eerder die agterplate van jou stoof te gebruik en pothandvatsels altyd na agter te draai. 

Lees: Veilige bottels vir baba

6. Gebruik ’n skerm om jou baba weg te hou van jou kaggel of houtoond.

7. Babas kan maklik verstrengel raak in koorde van gordyne en blindings. Hou dit so kort moontlik en bind dit hoog weg.

8. Hou skerp kombuistoerusting soos messe, skêre en raspers in ’n laai wat jy kan sluit of wat ’n veiligheidsknip het.

9. Maak seker die bewertjie bo baba se bed of doekruilstasie is buite bereik en stewig vasgemaak.

10. Nagliggies moet minstens ’n meter weg van die kot of gordyne wees.

11. Lugbevogtigers wat met stoom werk, kan brand. Gebruik dit net waar jou baba dit glad nie kan bykom nie.

Lees: Waterveiligheid

12. Maak seker die gaping tussen die stange van die kot is minder as 6 cm sodat jou baba se kop nie daardeur kan glip nie.

13. Maak seker die kot is behoorlik aanmekaargesit en dat daar nie skerp skroewe of skroefkoppe is waar baba dit kan bykom nie.

14.Baba se beddegoed moenie lang linte hê waarin baba verstrengel kan raak nie.

15. Jy het ’n lys noodnommers by jou telefoon, nè?

16. Verwarmers moet gereeld nagegaan word en nie naby gordyne, beddegoed of papier wees nie.

17. Jou gesin weet wat julle gaan doen as daar ’n brand uitbreek, of hoe? Praat voor die tyd oor jul plan en oefen dit. Skaf ook ’n brandblusser aan.

18.Boekrakke moet verkieslik teen die muur vasgesit word sodat dit nie omval as jou kind daarop klim of hom daarteen optrek nie. Televisiestelle moet ook verkieslik hoog teen die muur gemonteer word waar ’n baba dit nie kan bykom nie. Staande stelle val maklik om.

Lees: Is Rescue Remedy veilig?

19. Afstandbeheerders vir die hek of enige elektriese toerusting moet buite baba se bereik gehou word. Maak ook seker dat nuuskierige vingertjies dit nie kan oopkry nie, want die batterye is lewensgevaarlik.

20. Deksels van speelgoedkiste moet lig genoeg wees om nie vingertjies seer te maak as dit sou toeklap nie.

21.Kom in die gewoonte om jou handsak altyd buite bereik te bêre sodra jy by die huis kom. Handsakke het dikwels gevaarlike dinge soos pille, sigarette, vuurhoutjies of batterye in.

22.Sorg dat glasdeure plakkertjies op het sodat niemand per ongeluk daarin vasloop as dit toe is nie. Belê in veiligheidsglas.

23.Gebruik deurstuiters sodat klein vingertjies nie per ongeluk vasgeslaan word as ’n deur weens ’n trek toeklap nie.

24.Hoë stoele en draagbare stoele moet ver van die stoof af staan. Wees bewus daarvan dat jou kind dalk ’n stoel kan nader sleep om iets op die stoof of toonbank in die hande te kry.

Lees: Speel veilig

25.Hou die ketel en broodrooster se prop uitgetrek wanneer julle dit nie gebruik nie.

26. Asblikke moet ook buite bereik wees. 

27. Gebruik glyvaste matjies in die bad en op die badkamervloer.

28. Stel die warmwatertenk se temperatuur laer, sowat 60 grade, om verbranding deur warm kraanwater te verhinder.

29. Geen elektriese toebehore hoort in die badkamer nie.

30. Onthou om skeermesse, lemmetjies en skoonmaakmiddels wat in die badkamer gebruik word, ook veilig te bêre.

31. Maak dit ’n reël dat jou kind nooit alleen in die badkamer mag wees nie.

32. Vuurwapens en ammunisie moet apart en in kluise geberg word.

33.Onthou dat houtvloere baie glad is wanneer dit gepoets word. Moenie dat jou kind in sokkies rondloop nie – kry spesiale sokkies met rubber of rubbersoolpantoffels. Sorg ook dat los matte ’n glyvaste onderlaag het.

Lees: Plante in babakamer

34. Brei- of hekelnaalde en naaldwerkgoed moet ook hoog gebêre word.

35. Vensterknippe keer dat vensters so wyd oopgaan dat ’n kind daardeur kan val.

36. Haal die sleutels uit jul deure, want ouer kinders sluit hulself dikwels iewers toe en kan die deur dan nie weer oopkry nie.

37. Bedekking van meubels met skerp hoeke kan baie einas voorkom.

38. Tafeldoeke kan snaaks genoeg ook gevaarlik wees, want ’n baba kan ’n hele tafel vol skerp en warm dinge op homself omtrek.

39. Daar moet nooit plastieksakke in jou huis rondlê nie. Kinders trek dit graag oor hul kop en kan versmoor.

40. Gee jou kind net ouderdomsgepaste speelgoed, want speelgoed vir ouer kinders kan gevaarlik wees. Albasters is byvoorbeeld ’n verstikkingsgevaar. Babas druk ook graag klein voorwerpe in hul neus en ore op en kan hulleself so seermaak.

41. Gee jou troeteldier buite die huis

kos waar jou baba nie die bakke kan

bykom nie

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters