Kom ons praat oor poef
baba

Selfs in daardie eerste paar dae nadat boetie sy opwagting gemaak het, speel sy poefdoeke al ’n baie belangrike rol. Jou pasgebore baba se stoelgange is aanvanklik

’n taaierige swart of donkergroen kleur as gevolg van mekonium, ’n stof wat opgebou het in sy ingewande terwyl hy nog in die baarmoeder was. Sodra jou baba begin melk drink, word die mekonium uitgeskei.

Kolostrum (die heel eerste moedersmelk wat jou liggaam pas ná die geboorte produseer) help hom om vinniger van die mekonium ontslae te raak. Jy moet baba dus so gou moontlik ná sy geboorte voed sodat die melk sy lyfie aan die gang kan skop.

Die kolostrum tree byna soos ’n lakseermiddel op en sodra jou melk inkom, sal die kleur en tekstuur van sy stoelgange begin verander. Aanvanklik sal dit bruinerig wees en minder klewerig.

Lees: Wat steek jou baba in sy doek weg?

Onthou, ’n opbou van mekonium in sy lyfie kan geelsug veroorsaak, dus is dit belangrik dat jy minstens twaalf keer binne 24 uur borsvoed. Hy behoort ook nie vir langer as drie dae mekonium uit te skei nie.

As hy dit doen, raadpleeg jou dokter. Die kleur van baba se stoelgange kan wissel na gelang van wat jy eet (as jy borsvoed) of na gelang van die soort formulemelk wat hy kry. ’n Borsbaba se stoelgang is gewoonlik geel of groen.

’n Pasgebore baba kan agt tot 12 stoelgange per dag hê – dit is heeltemal normaal. Tog is daar ook nie rede tot kommer as hy net een vuil doek per dag produseer nie (by borsbabas is selfs een vuil doek in 10 dae normaal).

Lees: V&A: Nommer twee 'n probleem

As jou baba geborsvoed word, kan die sagte, waterige stoelgang jou aanvanklik laat wonder of hy nie dalk diarree het nie. Die antwoord is nee: Sommige borsbabas se stoelgang is maar so waterig en word ook gekenmerk deur klein bruin-geel “mosterdsaadjies”.

As jou kind aanhoudend waterige, groen stoelgange het, kry hy dalk net voormelk in pleks van die voedsamer borsmelk wat hy behoort te kry as hy langer drink. Sorg dat hy eers ’n bors goed leegdrink voor jy hom aan die ander bors laat suig. Borsbabas se stoelgang is gewoonlik reukloos.

’n Baba wat formulemelk drink, se stoelgangse stoelgangis ’n bietjie fermer as borsbabas s’n – ’n mens kan dit byna met grondboontjiebotter vergelyk.

Lees: Hewig hardlywig

As dit baie harder as dít is, is dit dalk ’n teken van hardlywigheid en moet jy liefs dokter toe gaan.

Onthou, sommige babas kan van ’n paar stoelgange per dag oorskakel na ’n paar dae sonder enige stoelgang. Dis geen rede tot kommer nie.  Hardlywigheid word nie bepaal deur die hoeveelheid kere wat jou baba se magie werk nie, maar deur die hard- en droogheid van sy poef.

Sodra jy vaste kos soos babapap aan jou baba begin bekendstel, gaan die reuk, kleur en tekstuur van sy stoelgang dramaties begin verander. Onthou, kom so gou moontlik by ’n dokter uit as daar helderrooi bloed in jou baba se stoelgang is.

HARDNEKKIGE HARDLYWIGHEID

Jou baba se unieke patroon van poef en pieps hang af van wat hy eet en drink, hoe aktief hy is en hoe vinnig hy sy kos verteer en van afvalstowwe ontslae raak. Moenie bekommerd wees nie, jy sal mettertyd sy roetine begin ken. Dié is dalk tekens dat hy hardlywig is:

• Hy het skielik baie minder gereeld ’n stoelgang as in die verlede,

• Daar verloop drie tot vier dae tussen stoelgange en hy is ooglopend ongemaklik wanneer sy magie wel werk,

• Hy het harde, droë stoelgange wat moeilik uitgedruk word, selfs al is dit baie gereeld.

HOEKOM WORD BABAS HARDLYWIG?

FORMULEMELK Babas wat net borsmelk drink, is selde of ooit hardlywig. Dit is omdat borsmelk die perfekte balans het van vet en proteïne, dus is die stoelgange gewoonlik altyd sag, selfs al het jou baba se magie dae lank nie gewerk nie. As jou baba formulemelk drink, is dit moontlik dat iets in die formulemelk hom hardlywig maak. Vra jou klinieksuster om raad oor ’n ander soort formulemelk. (Daar is baie gerugte dat die hoeveelheid yster in formulemelk ’n invloed op hardlywigheid het. Dit is onwaar.)

DIE BEKENDSTELLING VAN VASTE KOS

Moenie verras wees as jou baba skielik hardlywig raak wanneer hy vaste kos begin eet nie. Pap (wat gewoonlik eerste gegee word) het ’n baie lae veselinhoud.

ONTWATERING As jou baba te min vloeistowwe inkry, sal hy begin ontwater en sy lyfie sal reageer deur meer vloeistowwe te absorbeer van wat hy ook al eet of drink – selfs uit die afvalstowwe in sy derms. Die gevolg is harde, droë stoelgange wat baie moeilik uitdruk.

’N MEDIESE TOESTAND Hoewel dit onwaarskynlik is, kan jou baba hardlywig wees vanweë ’n probleem met sy metabolisme. Hy kan selfs allergies wees vir sekere kosse. Spreek gerus ’n dokter as jou baba harde, baie pynlike stoelgange het.

WAT JY KAN DOEN OM TE HELP

• Doen oefeninge met jou baba. Selfs ’n klein babatjie se beentjies kan in die lug fietsry. Laat hom op sy rug lê terwyl jy sy beentjies sagkens pomp. As jou baba kruip, kan jy hom aanmoedig om entjies te kruip.

• Masseer sy magie. Meet drie vingers onder sy naeltjie en druk ferm, maar saggies met jou vingerpunte. Druk tot jy ’n harde deeltjie voel. Druk sowat drie minute lank op sy magie.

• Soms help ’n teelepel bruinsuiker in sowat 200 ml afgekoelde kookwater vir hardlywigheid.

• Verander sy ryspap na koring- of mieliepap vir babas, of voeg ’n klein bietjie pruimedantpuree by sy pap.

• Sodra jou baba ’n groot verskeidenheid vaste kosse eet, kan jy dalk sy veselinhoud vermeerder deur ’n bietjie semels by sy pap te voeg. Wees versigtig vir kos soos rys, piesangs en gaargemaakte wortels omdat dit hardlywigheid aanspoor.

• Sorg dat hy baie vloeistof drink.

• As jou baba ouer as twee maande is, kan jy hom ’n bietjie pruimsap gee wat om die helfte met water verdun is.

• As jou baba erg hardlywig is, kan jy selfs ’n gliserien-setpil by die apteek vra. Moet dit egter nie gereeld gebruik nie omdat jou baba se derms daaraan gewoond kan raak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters