Nuwe ritme vir jou en baba

Die ritme van ‘n gesin verander met ‘n nuwe baba in die huis en een van die groot uitdagings is om ’n nuwe roetine te vind waarmee julle almal gemaklik is. Moet jy baba op aanvraag voed of is ’n vaste skedule beter? Behoort jy ’n vaste roetine te volg wat by jou bestaande dagprogram inskakel of moet jy jou deur baba se lyftaal laat lei en ’n meer informele benadering volg?

Daar is geen enkele regte of verkeerde antwoord nie en selfs kenners se menings verskil. Die geheim bly om ’n nuwe lewenspatroon te vind wat by jul unieke behoeftes en persoonlikhede pas. Maar wat is jou opsies?

Mamma in beheer

’n Ouergesentreerde roetine beteken dat ouers die daaglikse roetine vir hul kleinding bepaal, sê Inamarie Greyson
van die Mother and Baby Clinic in Johannesburg.

“Ouers besluit dus wanneer en waar hul baba gaan eet, slaap en speel. Die ouers volg ’n streng voedingsroetine waar die baba net op geskeduleerde tye gevoed word en op vaste tye gaan slaap en weer wakker gemaak word vir die volgende voeding.”

Suster Ida Bester van die Boeps2babesbabakliniek in Centurion is ’n voorstander van ’n ouergesentreerde roetine met vaste voedingstye. Sy meen babas wat met geboorte minder as 3 kg geweeg het, moet drieuurliks gevoed word om hul bloedsuikervlak konstant te hou, en daarom moet jy jou baba elke drie uur wakker maak om te keer dat sy bloedsuiker te veel daal. Babas van meer as 3 kg moet vieruurliks gevoed word.

“As jy jou baba drie- of vier-uurliks voed, kom julle vinnig in ’n roetine en dit is soveel makliker vir mamma en baba.”

Moontlike voordele

  • Voorstanders van hierdie benadering meen dat hulle die kleinding se natuurlike ritme so gou moontlik stabiliseer sodat hy gouer deur die nag kan slaap, sê Inamarie.
  • Vir nuwe, onseker ouers gee hierdie streng roetine ’n mate van versekering dat hul kleinding genoeg slaap, voeding en stimulasie kry.
  • Dit gee vir ouers ’n gevoel van beheer in daardie onseker begindae met ’n nuwe baba in die huis.
  • As jy boonop ’n kleuter ook het, kan jy jou dag beplan sodat jy genoeg tyd vir albei kleingoed het.
  • Jy het meer beheer oor jou lewe, wat uiteindelik lei tot ’n gelukkige mamma en gelukkige baba, sê Ida.
  • As jou kind na ’n crèche toe moet gaan, is daar reeds ’n vaste roetine waarvolgens hulle hom kan voed en versorg.

Moontlike nadele

  • ’n Baie streng, onbuigsame roetine kan veroorsaak dat baba nie genoeg voedings inneem nie, veral in die eerste paar weke wanneer die melkvoorraad nog nie so goed gevestig is nie, sê Inamarie. “Dit kan veroorsaak dat die baba nie genoeg gewig aansit nie.”
  • ’n Ma wil haar kleinding instinktief aan die begin byna heeltyd vashou en koester, en ’n te streng roetine wat daarmee inmeng, kan haar ontoereikend laat voel. “As jy ’n baie streng roetine volg, ontneem dit jou dikwels van spesiale tye waar jy net rustig op jou baba kan fokus en die baie spesiale oomblikke van die nóú en die kosbaarheid van jou mensie kan geniet,” sê Inamarie.
  • Ouers kan begin skuldig voel as die roetine nie elke dag stiptelik gevolg word nie.
  • Ouers wat ’n te streng roetine volg, wil dikwels nie met hul baba uitgaan nie omdat dit sy slaap- of eetroetine kan deurmekaarkrap. Dit kan jou sosiale lewe beduiwel en jy loop die gevaar om geïsoleerd te raak, sê Inamarie.
  • Ouers wat ’n streng roetine wil volg,raak soms baie angstig as hulle nie tuis is wanneer dit baba se slaaptyd is nie sê Inamarie. Daar is die gevaar dat jy jou angstigheid aan jou baba oordra.

Vir wie kan dit werk?

Inamarie reken ouers wat self baie gedissiplineerd is en self in hul daaglikse omgang ’n baie streng roetine het, sal baat vind by ’n ouergesentreerde roetine vir hul baba. “Dit skep ’n gevoel van beheer en veiligheid vir sekere ouers as hulle weet en kan bepaal wanneer wat gaan en moet gebeur.”

Baba in beheer

'n Babagesentreerde roetine behels gewoonlik dat ouers heeltemal op die baba fokus. Geen roetine word gevolg nie en jy versorg jou kleinding na gelang van die boodskappe wat sy vir jou stuur oor honger, moegheid en speelgereedheid, sê Inamarie.

Ouers kyk dus of baba haar handjies suig want dan is sy honger, en of sy haar ogies vryf en moeilik word, want dan is sy moeg. “Dié benadering kan net werk as jy baie ingestel is op jou baba se gedrag en weet dat jy al die tekens reg interpreteer,” waarsku Inamarie.

Moontlike voordele

  • Albei ouers en baba het baie meer vryheid as dit kom by slaap- en voedingstye, wat die druk op jou kan verlig, sê Inamarie.
  • Sommige mense meen dat ’n babagesentreerde benadering ’n hegter band tussen ouers en baba verseker.
  • Hierdie babas kan dikwels makliker op vreemde plekke en ongereelde tye slaap.

Moontlike nadele

  • As jy ’n baba met ’n lae geboortegewig los om verder te slaap en haar nie wakker maak vir voedings nie, kan haar bloedsuiker te laag daal en kan selfs ’n koma volg, waarsku Ida.
  • As daar geen roetine of patroon is nie kan dit moeilik wees om te bepaal of jou kleinding honger, moeg, ongemaklik of verveeld is wanneer sy lastig raak, sê Inamarie. “Dit kos ’n geruime tyd voor jy jou baba se tekens van moegheid en honger leer ken.”
  • Ouers kan die baba se vertroostingsbehoefte met honger verwar. “Babas se natuurlike refleks is om te suig, maar hulle suig nie altyd omdat hulle honger is nie,” verduidelik Ida.
    “Soms soek hulle net vertroosting en kan ’n fopspeen werk. As jy die baba se roetine volg, gaan sy elke uur wil suig. As die mamma dit as voedingstyd interpreteer en die bors aanbied, drink die baba elke uur net ’n kort rukkie en los weer. Die baba kry dan eintlik net voormelk in, wat nie so sterk is nie.”
  • Dit kan geweldig uitputtend raak as die baba maande lank gereeld in die nag wakker word, veral as jy weer moet gaan werk.
    “As jy jou baba toelaat om jou te lei, gaan sy nooit deurslaap nie, sê Ida. “Jy moet haar lei en dan val sy later self in daardie roetine.”
  • As ouers so ’n streng babagesentreerde program volg, word dit byna onmoontlik vir enigiemand anders om na die kleinding om te sien omdat sy dikwels net deur mamma getroos of aan die slaap gemaak kan word – veral as sy boonop borsvoeding nodig het om rustig te word.
  • Hierdie opsie is dikwels uitmergelend vir ma’s. As die baba haar eie roetine volg, kry jy nie soveel rus nie, want daar is nie ’n vaste patroon waarvolgens jy kan beplan nie.
    “Dit is gewoonlik hierdie ma wat voel sy is nie ’n goeie ma nie en kan nie meer nie, want sy is oormoeg as gevolg van te min slaap. Dit is dan dat nageboortelike depressie ’n vastrapplek kry,” sê Ida.
  • Jy kan in ’n situasie beland waar jy onophoudelik aan die voed is. As jy elke keer jou bors aanbied wanneer baba huil of wil suig, gaan jy niks anders gedoen kry nie, sê Ida.
  • Babas met hierdie roetine kan sukkel om hulle self te troos en soms oorgestimuleer raak.
    “Jou baba gee tekens as sy moeg en oorgestimuleer is. As jy dit vinnig kan interpreteer en jou baba nog in gelukkige wakker tyd kan neersit om aan die slaap te raak, is dit nie ’n probleem om haar aan die slaap te kry nie. Maar as jy te lank wag dat sy wys sy is vaak, gaan jy sukkel om haar aan die slaap te kry.”

Vir wie kan dit werk?

Ouers wat glo aan hegtingsouerskap en wat baie fyn ingestel is op hul baba se lyftaal en nieverbale kommunikasie, kan baat by ’n babagesentreerde roetine.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters