Sluk vir hap deur 12 maande

Babas groei in hul eerste lewensjaar vinniger as enige ander tyd in hul lewe. Teen maand 12 behoort jou baba se gewig te verdriedubbel en haar lengte met sowat 24 cm toegeneem het. Om so flink te groei, het sy die regte kos nodig.

Aanvanklik is dit so maklik soos borsmelk, borsmelk, borsmelk, maar vanaf ongeveer ses maande begin die sports met vaste kos!

Kenners is dit eens dat ma en pa se houding oor voeding ontspanne moet bly. Respekteer dat jul kind dikwels maaltye gebruik om uitdrukking te gee aan haar ontwikkelende onafhanklikheid.

Maand 1

Heg reg vas

Dis van kardinale belang vir borsvoedingsukses dat jou baba se mondjie op die regte manier om jou tepel sluit. Sommige babas kry dit onmiddellik reg, ander het ’n paar dae nodig. Maar een ding is seker: As jou baba dit onder die knie het, drink sy behoorlik en kry jy nie seer nie.

Wanneer is dit reg?

Laat jou baba op dieselfde vlak as jou bors lê. Hou jou tepel weg van haar mond. Sit nou haar onderlip ’n hele ent onder jou tepel. As haar mondjie nie vanself oopgaan nie, druk dit liggies. Plaas dan haar onderkaak ferm op jou bors. Dis dié kaak en haar tongetjie wat die werk gaan doen.

As haar onderkaak te naby aan jou tepel is, gaan sy jou tepel kou. Maak nou seker haar neus en nie haar ken nie is naby jou tepel. Sit genoeg van die areola in haar mond dat jou tepel opwaarts en na die agterkant van haar mond wys.

Ons beste wenk

Dit maak ’n groot verskil as daar met die eerste voeding ’n kundige aan jou sy is. Vra ’n verpleegsuster of borsvoedingskonsultant (iemand kom besoek gewoonlik die kraamafdeling van die hospitaal) om jou te help om jou baba die eerste keer reg aan die bors te sit.

Maand 2

Groeiversnelling

Jy kan ’n groeiversnelling te wagte wees wanneer jou baba sowat vier weke oud is. Wat is die tekens? Jou baba is meer knieserig as gewoonlik, wil skielik meer gereeld drink – tot elke twee uur – en word net rustig as jy aan dié behoefte voldoen.

Wat kan jy doen?

Probeer jou baba eers op ander maniere kalmeer soos om haar doek om te ruil of seker te maak sy kry nie te warm of koud nie. As dit nie werk nie, voed haar. Onthou: ’n Groeiversnelling duur net 24 tot 48 uur.

Ons beste wenk

Verwag nog groeiversnellings teen agt en twaalf weke en weer op vier, ses en nege maande. Waak teen oorvoeding. Dit kan winderigheid en ongemak veroorsaak wat dalk vir jou soos honger of selfs koliek lyk.

Maand 3

Eindelik, 'n roetine

’n Vaste roetine is iets waarna die meeste nuwe ma’s smag want dit stel jou in staat om weer afsprake te reël.

Hoe lyk 'n vaste roetine?

Jou baba behoort bedags drie- tot vieruurliks te drink en snags ses tot agt uur sonder enige melk klaar te kom. Teen 12 weke val ’n nagvoeding weg, gewoonlik die een wat om tien- of elfuur plaasgevind het.

Maand 4

Het jy genoeg melk?

Jy het waarskynlik genoeg melk as jou baba bedags elke drie tot vier uur drink en saans ses tot sewe uur voor die volgende voeding slaap. Sowat ses nat doeke per dag en ’n baba wat oor die algemeen gelukkig en tevrede is, is nog tekens dat daar nie ’n tekort is nie.

Wanneer is daar te min?

As jou baba ná ’n groeiversnelling steeds rusteloos is, het jy dalk te min melk. Probeer dan om jou baba 24 uur lank elke twee of drie uur te voed om melkproduksie te stimuleer. Drink ook baie ekstra vloeistof en rus soveel moontlik. Praat met die klinieksuster of pediater oor ’n aanvulling (vir jou).

Wat van bottelbabas?

Jy kan hierdie formule gebruik om te bepaal of jou baba genoeg melk inkry: 150 ml melk per kilogram liggaamsgewig gedeel deur die aantal voedings per 24 uur. ’n Baba van 5 kg se formule lyk dus so: 5 (kg) x 150 (ml) = 750 (ml) ÷ 6 = 125 ml per voeding. Sommige babas het egter 200 ml per kilogram nodig. As jou baba haar bottel gereeld leeg drink en agterna steeds honger lyk, gee haar gerus meer. Die algemene reël is om met sowat 25 ml meer te begin.

Maand 5

Tyd vir vaste kos?

Jy is seker ’n bietjie pap voor slaaptyd sal hom beter laat slaap, maar is die tyd al reg om met vaste kos te begin?

Wanneer is dit reg?

Alle dieetkundiges is dit eens: Dit is baie belangrik om na jou kind se ontwikkeling te kyk wanneer jy besluit of hy gereed vir vaste kos is. Hier is ’n paar mylpale wat bereik moet word voor daardie lepel mond toe kan gaan.

Jou baba het goeie nek- en kopbeheer (hy kan dus sy kop regop hou) en kan met steun bly sit.

Jou baba kan na ’n lepel of vurk gryp. Kyk ook uit vir tekens soos baba wat jou vurk uit jou hand wil gryp of na jou mond probeer gryp terwyl jy eet.

Kan jou baba kou? Jy kan dalk opmerk dat hy begin om jul gekou tydens ete na te aap.

Sy geboortegewig het verdubbel. Moenie onnodig haastig wees om te begin met vaste kos nie – melk is tot op ses maande voldoende voeding.

Ons beste wenk

Hoewel die meeste ma’s met ryspap begin, kan enige sagte kos voorgesit word. Dit maak nie saak of dit groente, vrugte of stysel is nie, solank dit net sag en loperig is. Gee baie klein hoeveelhede kos vir die eerste happie.

Maak net die punt van die lepel in die kos nat. Jou baba sal dit dalk met sy tong uitstoot, maar dit beteken nie dat hy nie daarvan hou nie.

Maand 6

Yster, yster en nogmaals yster

Voltermyn-babas word gebore met hul eie ystervoorraad terwyl vroeggebore babas ’n groter behoefte – veral in die eerste paar maande – aan dié mineraal het. Die meeste babas begin egter eers regtig van omtrent ses maande af na meer yster smag.

Hoeveel het bab nodig?

Van sewe tot 12 maande het ’n baba 11 mg yster per dag nodig. Hier is ’n lys van ysterryke kossoorte en hoeveel yster daar in ’n porsie is:

  • Gebakte aartappel met skil: 2,8 mg
  • 85 g maer maalvleis: 1,8 mg
  • 1 koppie spinasie: 1,5 mg
  • 1 koppie ertjies: 1,3 mg
  • 1 hoenderborsie: 0,9 mg
  • 1 eier: 0,7 mg

Bykans alle baba-ontbytgrane het toegevoegde yster. Raadpleeg die etiket om vas te stel hoeveel.

Ons beste wenk

Vitamien C verhoog die absorpsie van yster en speel dus ’n ewe belangrike rol as die ysterinname self. Probeer om jou kind vrugte soos lemoen, kiwi of koejawel saam met ysterryke kos te gee.

Maand 7

Hoeveel is genoeg?

Hoeveel moet ek my baba gee? is een van die mees algemene dinge waaroor ma’s wonder. Die antwoord is dat hoeveelhede nie nou belangrik is nie. Alle babas eet volgens hul eie ontwikkelingstempo. Dis belangrik dat jy jou baba se eetgewoontes leer ken, want dit sal jou help om te sien wanneer hy versadig is.

Tekens dat jou baba versadig is

  • Hy gee meer aandag aan die omgewing as die kos of melk.
  • Hy verander sy postuur.
  • Hy weier om sy mond oop te maak.
  • Hy speel met sy eetgerei.
  • Hy maak spoeggeluide met sy tong en lippe.
  • Hy gee sy bottel of koppie vir jou terug.

Ons beste wenk

Jou bab sal hom makliker ooreet aan kos wat met ekstra suiker, botter of sout gegeur is. Hou verby!

Maand 8

Tyd vir vingerkos

Teen die tyd dat jou baba se voortande verskyn, is hy reg vir sagte vingerhappies. Kenners noem dit dikwels die
verkennerstadium, want dis wanneer daardie klein vingertjies wil begin eksperimenteer met teksture, vorms en kleure.

Wat is sagte vingerkos?

  • Gestoofde vrugte of groente wat klein opgekap is*
  • Pasta wat deur klein vingertjies opgetel kan word
  • Repies roosterbrood
  • Ryskoekies en vingerbeskuitjies
  • Gedroogde mango en biltongrepies
    *Babas wat al tande het, moenie kos kry wat hulle met hul tande in klein harde stukkies kan breek of wat nie in hul mond sal sag word nie. Voorbeelde hiervan is repies appel, wortel en komkommer. Eerste vingerkos behoort so sag te wees dat byna in die mond wegsmelt. Deur vingerkos te gee, help jy jou baba om dié twee belangrike grepe baas te raak:
  • Die palmgreep (van ses tot agt maande), waar hy iets met sy vuisies vasgryp;
  • Die knypgreep (van nege tot 12 maande), waar hy iets tussen sy wysvinger en duim optel.

Ons beste wenk

Moet nooit jou baba alleen laat wanneer hy eet nie. Die gevaar van verstikking is te groot.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters