Wat steek jou baba in sy doek weg?

BABA SE EERSTE POEFDOEK

Jou baba se heel eerste stoelgang word kort ná sy geboorte, of soms al sommer ten tyde daarvan, uitgeskei. Hierdie eerste poef is taai en swartgroen. Die mediese word daarvoor is mekonium en dit is die pakkie wat jy in die eerste drie dae in jou baba se doeke te wagte kan wees. Swart, teeragtige stoelgange by ’n ouer baba kan op bloed in die spysverteringskanaal dui. Raadpleeg jou klinieksuster, dokter of pediater as jy dit oplet.

GEEL POEF

Die aanvanklike swartgroen poef van ’n pasgeborene word geleidelik bruin en dan geel. Borsbabas se doeke is byna mosterdgeel. Kenners skryf dit toe aan die lactose in borsmelk.

KORRELTJIE-POEF

Borsbabas se doeke is nie net geel nie, maar het dikwels ook klein stukkies binne-in wat soos sade lyk. Hierdie tekstuur, wat soms as los roereier beskryf word, is ook te danke aan die laktose in borsmelk. Moet jou dus glad nie oor die korreltjies kwel nie.

GROEN, GEEL OF ORANJE POEF

Moenie jou te veel oor enige van hierdie kleur stoelgange bekommer nie. Groen poef kan daarop dui dat jou baba te veel lactose inkry. Dít gebeur as sy baie gereeld voed en meer van die waterige voormelk as die ryk, voedende agtermelk kry. Raadpleeg egter ’n dokter of suster as jou baba se poef dae aaneen groen bly.

WIT POEF

Droë, wit stoelgange is abnormaal. As dit lank voorkom, kan dit dui op ’n onvermoë van die lewer om kos te help verteer. Raadpleeg jou dokter

ROOI POEF

Kom so gou moontlik by ’n dokter uit as daar helderrooi bloed in jou baba se stoelgang is.

MIN POEF

Borsbabas is selde hardlywig. Borsmelk is baie gekonsentreerd en bykans alles kan deur die baba se liggaam geabsorbeer word – daarom kan borsbabas dae lank sonder ’n vuil doek wees. Borsbabas kan ’n week en selfs langer laat verbygaan sonder dat hulle opelyf het. Solank die stoelgang nie hard is nie, is baba nie hardlywig nie. As baba se stoelgang hard en droog is, of klein en rond soos ’n bokkie of haas se mis, is hardlywigheid gewoonlik die sondaar. Hier is raad as jou baba se magie nie wil werk nie (moenie al die wenke op een slag beproef nie!). Sien ook bl. 80:

• Gee hom ekstra vloeistof soos water of verdunde vrugtesap.

• Voeg ’n teelepel bruinsuiker by sy bottels of gee rooibostee met bruinsuiker.

• Gee hom pruimedantsap, maar hou in gedagte dat party babas krampe daarvan kan kry.

• Gee ’n gliserien-setpilletjie.

BAIE POEF OF DIARREE

As dit slymerig, loperig en geel, wit of groen van kleur is, het jou baba moontlik diarree. Poef wat uitspuit kan ook ’n teken van diarree wees. Kom onmiddellik by ’n dokter uit as jou pasgeborene se stoelgang herhaaldelik so lyk of as sy skielik baie meer as gewoonlik poef, aangesien dit ’n simptoom kan wees van gastroënteritis, ’n ernstige siekte wat selfs tot die dood kan lei as ’n baba nie gou genoeg behandeling kry nie.

GENOEG POEF

Hoewel baie babas ’n stoelgang ná elke maaltyd het, is dit beslis nie die reël nie. Drie stoelgange tydens ’n enkele voiding – een kort nadat hulle begin drink het, een in die middel van ’n drinksessie en een kort daarna – is net so normaal. Hoeveel stoelgange genoeg is, hang af van die soort melk wat jou pasgeborene kry. Só verskil borsbabas en bottelbabas se poef en poefgewoontes:

BORSBABAS

Jy het dalk al gehoor ma’s praat van agt vuil doeke op een dag of een vuil doek elke agt dae. Dit is beslis nie net ’n storie nie. Dokters en susters bevestig dat ’n borsbaba enigiets van agt vuil doeke per dag tot een vuil doek per week kan hê. Borsbabas se poef ruik nie sleg nie, maar dit is lekker morsig aangesien dit baie los is en maklik regoor die lyfie beland.

BOTTELBABAS

se stoelgang het ’n groter verskeidenheid kleure, teksture en reuke as dié van hul maters wat moedersmelk kry. Hulle poef verskil ook van dag tot dag selfs al het julle nie die formule verander nie. Die tekstuur is meestal soos dié van tandepasta. Die algemene reël is een stoelgang per dag om ongemak te voorkom. Die stoelgang van ’n baba op koeimelkformule is gewoonlik geelbruin. As daar yster bygevoeg is, is dit dikwels donkergroen. Hou in gedagte dat jou baba se stoelgangroetine waarskynlik sal verander as sy minder gereeld begin drink, vaste kos begin eet of siek is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters