20 maniere om ma wees te geniet

NOEM JOUSELF SOMMER Mamma da Gama, want as ma kan jy elke dag saam met jou kinders ontdekkingsreisiger speel. Wat is nou lekkerder as om opnuut te ervaar hoe potblou die lug is, of om vir die heel eerste keer die groen gras onder jou voete te voel? Min dinge verwonder ’n mens so as om die wêreld deur jou kleinding se oë te sien en saam die vreugde van al sy eerstes te ervaar.

JOU SEUNTJIE GÁÁN op jou piepie en jou engelagtige dogtertjie in haar pienk tutu se windjies gáán stink. Lag daaroor! ’n Plakkaat op die sosiale webtuiste Pinterest stel dit mooi: “Om ’n ma sonder ’n humorsin te wees, is soos om ’n rekeningkundige te wees wat nie wiskunde verstaan nie.”

BESKOU MA WEES AS jou lisensie om laf te wees. Dis nie net goed vir jou baba se ontwikkeling as jy jou tong uitsteek en snaakse gesigte trek nie, dis soms presies wat jý nodig het om jou gemoed te lig wanneer jy nie kan onthou wanneer laas jy gestort het nie, of wanneer dit lyk asof ’n orkaan die huis getref het. Rek jou oë so groot as wat jy kan, pof jou wange op, blêr soos ’n skapie en tjoeke-paffe-paf soos ’n babatrein, want jy mág en móét.

AS DIE WÊRELD druk, gaan sit, lê, kruip of speel net ’n klein rukkie saam met Superman, Spider-Man en prinses Elsa op die mat. Daardie paar minute se kind wees sal jou oombliklik rustiger laat voel en jou in jou kinders se oë in Wonderwoman verander.

Lees: Lewensredders vir moderne ouers

ELKE MYLPAAL, GROOT of klein, is iets vir die boeke. Hou dagboek, skryf ’n blog of stuur gereeld ’n spogbrief vir oumas en oupas sodat jy eendag die besonderhede kan onthou van daardie eerste glimlag, tree en woord.

HOU VAN DAG een af ’n “onthouboks” met al die spesiale herinneringe van jou kleinding se grootwordtyd. As die dag moeilik is, kan jy die boks uit die kas haal en die mooi oomblikke herleef.

AS ’N MENS eers ’n grootmens is, kan die lewe soms eentonig voel: opstaan, aantrek, werk … Wanneer jy eers kinders het, is onvoorspelbaarheid die norm. Verander jou perspektief wanneer dit die dag vir jou voel of jou gesin se roetine by die venster uitwaai en vier die feit dat jou lewe nooit weer vervelig sal wees nie. Leef in die oomblik, al pak jou kleinding die kas uit. Onthou, selfs dít is ’n belangrike mylpaal.

SKEP RITUELE OM alles te vier wat op grootword dui, soos om ’n dekadente  sny sjokoladekoek te eet elke keer as sy (uiteindelik) nog ’n tandjie gekry het, of om elke Vrydag ’n selfie van julle twee te neem om te kyk hoe sy groei.

Lees: Nuwe baba? Só maak jy tyd vir ousus

VOOR JY MA geword het, was jy ’n vrou met belangstellings en tydverdrywe wat jou opgewonde en vervuld laat voel het. Gee weer ’n bietjie aandag aan haar – die ou jy – sonder om skuldig te voel. Stof jou drafskoene af, doop jou kwaste in verf of woon ’n boekklubbyeenkoms by en laat pa na die kinders kyk. Dit sal goed wees vir jou siel en jou gesin sal die verskil aanvoel.

DOEN ELKE DAG minstens een ding vir jouself, al het jy net ’n paar minute. Blaai deur jou gunsteling-tydskrif, drink ’n koppie tee op die stoep of verf jou naels (al kom jy net by een hand uit).

WOON ’N JOGA-KLAS saam met jou baba by. Yoga Warrior (www.yogawarrior.co.za) bied klasse in Johannesburg aan en in Kaapstad kan jy Sunshine Health (www.sunshinecolouracademy.com) kontak. Mamma-en-baba-jogaklasse hou baie voordele in. Dit versterk daardie spiere wat jy nodig het om by jou besige klein mensie te bly en skep gehaltetyd.

PAK ’N AKTIWITEIT saam met jou kind aan. Wat van ’n opvoedkundige musiekklas soos Kindermusik (www.kindermusik.co.za), waar julle op die koop toe ander ma’s en kinders kan ontmoet? Of waarom plant jy nie ’n groentetuin saam met jou peuter nie, sodat julle die wortels wat julle geplant en sien groei  het vir aandete kan voorsit?

Lees: 7 verbode sêgoed

VERMY FACEBOOK EN Instagram ’n paar dae lank om ander ma’s se foto’s mis te loop. Dis nie goed om jou gedurig te vergelyk met al die oënskynlik perfekte gesinne op (geredigeerde) foto’s nie. As jy weer ’n slag deur jou eie albums blaai, sal jy sien julle is net so mooi en uniek.

OMRING JOU DEUR ’n binnekring van mammas, vriendinne wie se kinders min of meer dieselfde ouderdom as joune is. Maak ’n afspraak om mekaar weekliks te ontmoet en skep ’n WhatsAppgroep Hier kry jy raad en ondersteuning, die bevestiging dat jy oukei is en besef jy ander ma’s sukkel ook om hul seuntjies se tande te borsel.

AS DAAR NIE ander ma’s in jou vriendekring is nie, kan jy gerus ’n geselsie aanknoop met die ma en haar span kleuters wat jy elke week in die park sien. Sy smag tien teen een net soos jy na iemand wat verstaan.

VERTROU WEER ’N slag jou instink– daardie ingeboude moederlike kompas wat ingeskop het die oomblik toe jy uitgevind het jy is swanger. Ons ma’s kan ons mos gedurig kasty oor alles wat ons verkeerd doen, veral omdat elke tweede blog, boek en tannie vir ons probeer voorskryf hoe ons moederskap nou eintlik moet aanpak. Onthou, jy is die beste mamma waarvoor jou kind kan vra. Is sy gevoed, gelukkig en gesond? Klop jou gerus op die skouer.

Lees: Pa voel afgeskeep

MAAK ROETINETAKE SPESIAAL vir jou en jou kroos deur bewustelik te leef. Gee jou seuntjie ’n soen as jy hom in sy karstoeltjie vasmaak en kyk jou dogtertjie in die oë wanneer jy haar doek ruil. So jag jy nie deur jou dagtake om dit agter die rug te kry nie, maar skep jy kosbare oomblikke om die verhouding met jou kinders te bou.

AS JY NIE ’n huiswerker in diens het nie, kan jy gerus ’n professionele skoonmaakdiens se nommer byderhand hou. Bederf jou af en toe deur iemand anders te betaal om jou huis skoon te maak. Stel Marvellous Maids (www.marvellousmaids.co.za) of Mollywood Maids (www.mollywoodmaids.co.za) op die proef.

KIES LEESSTOF WAT jou gaan laat lag terwyl dit jou onderskraag. Vicki Iovine se boek The Girlfriend’s Guide to Surviving the First Year of Motherhood is net die ding. Vickie gee raad oor alles van hoe om ná jou swangerskap vrede met jou nuwe lyf te maak tot hoe om jou sekslewe weer woema te gee.

VERWONDER JOU AAN die manier waarop jou kind die wêreld met haar hele wese indrink: of sy nou wikkel en dans op die maat van vrolike musiek,jillend voordeur toe storm wanneer papa tuis kom, of haar handjies spontaan begin klap omdat kos lekker smaak. Haar spontaneïteit is ’n voorbeeld van hoeveel pret die lewe regtig kan wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters