Voorgeskrewe leeswerk vir pa’s
pa ma en baba

Die een oomblik is jou vrou heeltemal versot op die baba en die volgende is sy ’n maalkolk van hormoonversteurings wat almal se kop wil afbyt. Moet nou net nie dinge gaan staan en vererger deur opmerkings oor haar gewig en jul sekslewe te maak nie. Let op die volgende moets en moenies. Plak dit op langs die toilet of tatoeëer dit op jou voorarm – moet net nooit sê jy is nie gewaarsku nie.

Die moets:

1. "Jy lyk pragtig"

Jou vrou se lyf het 9 maande van swangerskap deurstaan, haar silhoeët wys ’n paar ekstra rondings en nagte van min slaap doen haar geen gunsies in die skoonheidsdepartement nie. Maar sy is jou vrou en sy het pas vir jou ’n baba gebaar.

Al sit sy dus daar voor jou met vuil hare en donker kringe om haar oë, vertel haar sy is in jou oë steeds die pragtigste vrou op aarde. Dat dit jou knieë lam maak as jy sien hoe sy jou baba vashou en koester en dat jy vir altyd en altyd haar grootste bewonderaar sal bly.

2. "Jy is ’n fantastiese ma"

In haar vorige lewe het jou vrou waarskynlik die wêreld op haar eie platgereis. Sy het whisky op vreemde plekke gedrink, tot ounag gefuif, haar eie huurgeld betaal en lang ure op kantoor deurgebring sodat sy die lekker lewe kon bekostig.

Maar noudat sy ’n man en klein baba het, voel sy plotseling onseker van alles en heeltemal onbevoeg. En ja, soms gebeur dit dat daar met baba se badtyd nie droë frokkies beskikbaar is nie. Moet haar nie aankyk asof sy mal is nie. Sy het nodig dat jy haar elke af en toe nader trek, styf vashou en in haar oor fluister: “Jy is die wonderlikste ma!”.

3. "Jy lyk moeg. Laat ek oorneem"

Dit is ’n feit: Teen vyfuur die middag is jou vrou gedaan. Natuurlik weet sy dat jy ’n moeilike dag by die werk gehad het. Sy weet ook dat jy vanoggend ’n cappuccino by Vida gaan drink het, dat jy middagete by daardie trendy restaurant naby jou werk was en dat jy die hele dag tussen grootmense deurgebring het. Sy het nie.

Sy het probeer slaap inhaal, ’n eindelose aantal doeke omgeruil en ’n uur lank by die kliniek tussen skreeuende babas gesit en wag, net om teen laatoggend te onthou dat sy toe nooit daardie stukkie roosterbrood geëet het nie.

As jy dus vanaand by die huis instap, jou baba in jou arms neem en aanbied om kos te maak, sal sy nie woorde hê om vir jou te sê hoe dankbaar sy is nie.

4. "Ek is lief vir jou"

Dit klink dalk taamlik voor die hand liggend, maar jou vrou het ’n behoefte aan verwoording van jou liefde vir haar. Sy is op die oomblik oor soveel dinge onseker: hoe om te borsvoed, hoe om die baba te bad, hoe om deur die dag te kom sonder om haar humeur te verloor teenoor ’n klein mensie wat blykbaar ure aaneen kan skree. Tussen al hierdie onsekerhede wil sy seker wees van een ding: Jy is lief vir haar, kom wat wil.

Die moenies:

1. "Maar jy sit dan heeldag by die huis"

Ja, sy ís heeldag by die huis. Maar sy is heeldag by die huis met ’n baba wat 100% van haar afhanklik is. Babas word nie in presiese tydvalle honger nie. ’n Mens kan ook nie wiskundig bereken wanneer daardie vuil doek geproduseer gaan word wat ’n nuwe uitrusting gaan noodsaak nie.

Daarby moet sy ’n paar keer in die nag opstaan en die tye wanneer die klein rakker wel slaap, moet hy skuins bo-oor haar lê, wat beteken sy slaap nie saam nie. Met ander woorde: Sy is nie beskikbaar om jou nuwe gholfstokke te gaan oplaai nie. Sy sal ook nie die deur oopmaak as die wynaflewering arriveer en sy tot by haar elmboë in poef is nie. Maak ’n ander plan.

2. "Maar almal het meer seks as ons"

Baie vroue sal erken dat hulle tydens daardie eerste paar maande (ag, kom ons draai nou nie doekies om nie, minstens die eerste jaar) slaap bo seks verkies. Dis nie jy nie: Jy is nog net so aantreklik en begeerlik as voorheen. Sy wil net nie seks hê nie. ’n Lekker rugmassering, ja. Dis ’n kombinasie van moegheid, hormone en dalk frustrasie oor hoeveel (of min) jy in die huis rond help. Gun haar tyd, dit sal wel beter gaan.

3. "Is dit nie tyd om van daardie ekstra gewig ontslae te raak nie?"

Ja, daar is vroue wat twee weke ná die geboorte weer in hul nommer-6-jeans pas, maar hulle is die uitsondering. Jy hoef nooit te noem hoeveel ekstra gewig sy ronddra nie, want sy is deeglik van elke laaste gram bewus. Sy weet ook hoe styf haar klere span en hoe moeilik dit is om van daardie kilogramme ontslae te raak.

Moet om vadersnaam nooit noem dat jy dink haar vriendinne lyk beter as sy nie, sy weet dit. Onthou jy toe jy belowe het om haar deur dik en dun by te staan? Daardie tyd is nou hier.

4. "My ma het dit en dat gedoen"

Hou tog net jou ma hieruit. Die vrou het jou dalk geborsvoed tot jy ’n twee en ’n half jaar oue tjokker was en ja, sy het met groot opoffering ophou werk sodat sy persoonlik jou lapdoeke kon was. Maar dit was toe en hier is ons nou in die 21ste eeu en sy het nie jare lank geswot om alles op te gee om vir die res van haar lewe snotneusies af te vee nie. Die keuse of sy wil teruggaan werk toe en hoe lank sy wil borsvoed, is hare. Oor en uit.

Stem jy saam? Wat wil jy graag vir jou vrou sê? En wat wil jy hê vrouens moet nooit vir mans sê nie? Stuur vir ons jou kommentaar aan web@babaenkleuter.co.za en ons mag dit dalk publiseer! As jy graag anoniem wil bly, laat weet asseblief.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters