Borsvoeding en aanneming

Vraag:

Ons gaan ’n baba aanneem van ’n familielid wat tans swanger is. Ek wil baie graag probeer borsvoed. Ek moet blykbaar ’n pilletjie begin drink twee weke voor die geboorte. Wat moet ek nog doen om melk te produseer? Sal ek ook kolostrum produseer? Wat is die sukses van dié proses?

Antwoord:

Jy kan verskillende strategieë beproef. Hoe meer daarvan jy uittoets, hoe groter is jou kans op sukses.

Party ma’s oorweeg voorskrifmedisyne en ander beproef kruie. Voorskrifmedisyne word net aanbeveel vir ma’s wat nie genoeg melk het nie, surrogaatma’s of, soos in jou geval, iemand wat ’n baba aangeneem het.

Baie ma’s het ook gevind dat sekere kruie in spesifieke dosisse hul melkproduksie verhoog, mits dit met gereelde borsvoeding gepaard gaan. Die krui fenegriek kan alleen of saam met geseëndedistel gedrink word – in albei gevalle is drie kapsules drie keer per dag nodig. Jy moet dit tussen 24 en 72 uur neem voor jy ’n verhoging in borsmelkproduksie sal ervaar.

Jy kan ook ’n borsvoedingsaanvuller gebruik wat vir die baba ekstra voeding gee terwyl hy aan jou bors suig. Dit behels dat ’n dun buisie (die soort wat vir buisvoedings gebruik word) aan ’n houer met melk gekoppel word.

Die los punt van die buisie word dan op die tepel geplaas sodat die melk uit die houer deur die buisie vloei en in die baba se mondjie drup. Die soort melk kan uitgemelkte borsmelk, skenkerborsmelk of formulemelk wees.

Die baba dink dan dat die aanvullingsmelk uit die bors vloei en dit moedig suig aan die bors aan. Die aanvuller kan gestaak word wanneer die ma voel haar melkproduksie is waar sy dit wil hê.

Gewigstoename en die hoeveelheid nat doeke moet egter deurentyd gemonitor word om seker te maak baba kry genoeg melk.

Laat die baba toe om so lank as wat hy aktief suig aan die eerste bors te suig. Wanneer hy nie meer aktief drink nie, kan jy windjies uitvryf en die ander bors aanbied. As baba nie lank aktief suig nie of vinnig aan die bors aan die slaap raak, kan jy hom help deur jou bors saam te pers. Dit laat die melk vinniger vloei, mits hy goed aan die bors geheg het.

Hou jou bors met die een hand vas met jou duim aan die een kant en die ander vier vingers aan die ander kant. Druk dan jou duim en vier vingers na mekaar toe om druk op die bors uit te oefen. Dit moet ferm wees, maar nie seer nie!

Met elke saampersing behoort jy jou hand-posisie effens te verander sodat jy ’n ander deel van die bors saampers. Jou baba kan weer begin drink en jy moet dan aanhou met die saampersing tot jou baba self die voeding stopsit. Plaas jou baba dan aan die ander bors en herhaal die prosedure. Eksperimenteer met hierdie tegniek en pas dit aan soos vir jou gemaklik is. Solank jy nie seerkry nie en die baba melk kry, werk dit.

Watter tegniek jy ook al kies, maak seker jy het vel-tot-vel-kontak met jou baba. Sit ook gereeld jou baba aan die bors om stimulasie te verseker. Probeer om minstens elke een tot twee uur bedags en elke drie uur snags te borsvoed.

Maak seker jy weet watter posisie die gemaklikste is en hoe baba moet vassuig dat die melk doeltreffend kan vloei. Bied met elke voeding albei borste aan.

Vermy fopspene en bottels omdat jy jou borsmelkproduksie probeer verhoog. Met toewyding en uithouvermoë kan jy melk vir jou baba maak. Dit sal egter tyd en energie verg, en jou motivering en selfvertroue is die sleutel tot sukses.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters