Gholfkar-ongeluk verander ons lewe

Die ongeluk het ’n dag voor die veteraanmotorskou Cars in the Park by die Zwartkops-renbaan in Centurion gebeur.

My pa, Frik, reël dié skou al die afgelope twee jaar. Leani het die dag saam met my ouers by die renbaan deurgebring. Ek was by die huis met longontsteking. Leani het saam met studente op ’n gholfkarretjie geklim. Hulle het skaars weggetrek toe die gedraaide wiele vassteek en die karretjie omslaan – bo-op Leani.

Albei my ouers het die ongeluk sien gebeur. Daar was gelukkig ’n paar mans wat die karretjie vinnig kon oplig om Leani te help. ’n Baie gawe man wat lid is van die brandweer, het aanbeveel dat hulle haar dadelik neersit om verdere beserings te voorkom.

Hy het sy hande gebruik om haar duidelik gebreekte been reguit te trek en stabiel te hou tot die ambulans opgedaag het. Niemand het in daardie stadium geweet hoeveel beserings sy opgedoen het of hoe ernstig die beserings was nie. Die studente het niks oorgekom nie.

My vriend het my gebel en vir Leani se mediesefonds-besonderhede gevra. Ek het my natuurlik boeglam geskrik. Hy vertel toe dat ’n gholfkarretjie op Leani geval het. Ek wou met alle mag renbaan toe ry, maar hy het voorgestel dat ek eerder na my broer Gerco toe gaan tot ons hoor in watter hospitaal sy is.

By die hospitaal

My ouers wou nie gehad het ek moet sien hoe sleg Leani lyk wanneer sy uit die ambulans getel word nie. My ma, Leonie, was saam met haar in die ambulans. Ek kon egter nie anders as om na haar toe te hardloop nie.

Ek was daar toe die ambulansdeur oopgaan en niks kan jou voorberei op of is erger as die skok om jou kind in so ’n toestand te sien nie. Haar gesiggie was flenters, haar broek oopgesny en vol bloed. Sy het suurstof ontvang en was op ’n morfien-drup. By ongevalle het sy begin braak. Die dokter was die hele tyd by haar om te kyk of sy verswak.

Leani het geskreeu van die pyn toe hulle x-strale neem. Sy het aanhoudend gesê: ”Mamma, asseblief, moenie dat hulle dit doen nie.” Dit het my hart gebreek om my dogter in soveel pyn te sien. Gelukkig was Leani se pa ook daar om haar te ondersteun.

Alles het lank en oneindig uitgerek gevoel. Wat ek gedink het ure is, was in werklikheid minute wat verbygesleep het. Leani het heelwat x-strale laat neem en toetse ondergaan voor hulle bepaal het dat net haar dybeen gebreek was. Ek het half asem geskep en gedink dat dit dan nie so erg is nie, want ek het gehoor dat Leani nie gips sou kry nie. Min het ek geweet hoe ernstig die breuk was.

Die dokter het haar vir die nag in traksie gesit. Ek en die hele familie het buite die kamer gestaan, maar het gehoor hoe Leani gil van die pyn. Ek was naby breekpunt – as dit nie vir die ondersteuning van my wonderlike ouers was nie, weet ek nie hoe ek deur daardie aand sou gekom het nie.

Leani het ’n susmiddel gekry sodat sy kon slaap en ek is huis toe gestuur. Ek is die volgende oggend halfvyf terug hospitaal toe. Leani wou piepie, maar kon dit nie regkry nie. Die verpleegpersoneel het ’n kateter ingesit en die dokter het haar onvermoë om te urineer aan inwendige seerkry toegeskryf.

Leani was daardie oggend baie ontsteld dat sy nie haar oupa se motorskou kon bywoon nie. Maar daar het groter dinge op haar gewag. Sy is kort daarna teater toe om die breuk te laat herstel. Sy het twee penne in haar been gekry tydens die operasie.

Ek is saam teater toe. Sy het histeries geraak toe hulle die gasmasker op haar gesig wou sit. Ek het vir haar gesing en getel tot 50 voor sy aan die slaap geraak het. Ons het twee uur en 40 minute buite die teater gewag.

Twee dae ná die operasie het die fisioterapeut Leani besoek om haar aan die beweeg te kry. Sy sou van vooraf moes leer loop. Leani het met elke fisioterapiesessie soveel pyn ervaar; elke sessie was ’n nagmerrie waarteen ons opgesien het.

Ek het egter geglo dat as ons alles reg doen en hard oefen, haar beentjie vinnig en ten volle sou herstel. Dié gedagte het my deur die moeilike tyd gedra. Dit was aaklig om te weet dat sy met elke oefensessie seer gaan hê en ongemaklik gaan wees, terwyl ek vir haar moet vertel dat alles oukei gaan wees.

Ses dae ná die operasie het Leani ’n infeksie gekry. Haar koors het die hoogte ingeskiet en sy het aanhoudend gebraak. Dit het my omgekrap om haar so te sien. Ek het magteloos gevoel en kon net mooi niks vir haar doen nie.

Leani se gemoed was sleg. Sy wou nie eet nie en haar maag wou nie werk nie. Ons dokter het lakseermiddels gegee, maar selfs dit het geen verskil gemaak nie. Ek het ook vir haar pruimsap ingejaag.

Ons was verplig om in die hospitaal te bly tot haar magie gewerk het, dus was ek uiters verlig toe sy uiteindelik badkamer toe is.

Terug by die huis

Leani is 10 dae later uit die hospitaal ontslaan. Ek en sy het die eerste week by my ouers gebly omdat my huis trappe het. Ons het haar oral heen gedra, gehelp om op die bed te klim en weer af, haar broekie uitgetrek as sy toilet toe wou gaan, haar op die toilet getel en weer afgetel.

Die onaangenaamste van alles was om haar aan te trek – dit het omtrent 25 minute geduur en dit het haar elke keer seer gemaak. Badtyd was ook uitdagend, want die wond mag nie nat geword het nie. Leani het ook ’n vrees ontwikkel vir wanneer die pleisters vervang en die wond skoongemaak moes word. Elke pleisterruiling was dus ’n groot gedoente. Ek en my ma het dit gedoen.

Ek is ’n spraakterapeut en werk daagliks met kinders in hospitale, maar die verpleging soggens en saans was steeds moeilik. My ma het Leani bedags versorg, en my pa het drie keer per week met haar fisioterapeut toe gery. Ek sou dit nie sonder my ouers kon gedoen het nie.

Ná sowat drie weke tuis is Leani vir kort rukkies terug skool toe: eers vir ’n uur per dag en toe twee tot sy stelselmatig gewone skoolure kon bybring.

Sy het dit aanvanklik moeilik gevind om vir lang rukke te sit en haar skoolwerk was taamlik agter, al het ons dit tuis probeer inhaal. Ek het haar vir ses weke met die skooltrappe opgedra en my pa het haar weer ná skool aan haal.

Sy kon natuurlik nie die klas verlaat met pouse nie, maar haar juffrou en maats was fantasties. Hulle het beurte gemaak om haar tydens pouses geselskap te hou.

Dit het vir ’n ruk na die operasie baie goed gegaan. Ons het spelterapie bygewoon om Leani te help om die ongeluk te verwerk. Sy het glad nie daaroor gepraat nie en die woord “gholfkarretjie” mag nie eens in ons huis genoem word nie.

Leani het skielik gewig begin verloor, sleg geslaap en ál minder gelag en gesels. Sy was angstig en het haar self
stukkend gekrap. Haar skooljuffrou het my laat weet dat haar skoolwerk agteruitgaan en dt sy nie in die klas wil speel of reageer nie.

Ek was bekommerd en het ’n kinderpsigiater gekontak. Toe ons by hom uitkom, het Leani reeds sewe kilo’s verloor. Hy het posttraumatiese stres en depressie gediagnoseer en medikasie voorgeskryf.

Die medikasie het vinnig ingeskop en ná maande het dit vir die eerste keer beter begin gaan. Sy het weer begin lag, eet en skool begin geniet. Sy het weer begin met ballet en trompoppies – albei aktiwiteite waarvoor sy baie lief was voor die ongeluk.

Dei nare besef

By die trompoppie-optredes en balletklasse kon ek sien Leani se voet draai uit. Sy het ook snaaks geloop en ek is na ’n ortopediese chirurg toe. Hy het haar deeglik ondersoek en ons vertel dat Leani “baie, baie seergekry het” en dat die chirurg wat haar geopereer het “baie goeie werk gedoen het”.

Maar toe hy haar voete na binne draai, het hy gesien dat die been gedraai het terwyl dit teruggegroei het, iets wat niemand kon vermy nie. Leani was funksioneel mank.

Vir my as terapeut was dit onmoontlik om die woorde “daar is niks wat gedoen kan word nie” te verwerk. Hoe sê jy vir jou dogtertjie sy gaan nooit kan hardloop, dans, spring en aan sport deelneem nie?

Sy het my onlangs een aand geroep terwyl sy bad en gesê dat haar been seer raak wanneer sy dans. Ek het probeer verduidelik dat ’n mens soms, in sekere gevalle, nie iets klaar hoef te maak nie en dat sy maar kan ophou as sy wil. Haar antwoord was dat sy pas haar eksamen voltooi het en dat sy dink sy eerder gaan ophou.

Ek was hartseer, want al wat sy heeldag wou doen, was dans. Sy het toe genoem dat sy dan ’n akrobaat wil word. Ek het verduidelik dat ander mense dit nou wel nie kan sien nie, maar dat haar beentjie gedraai het en dat sy nooit n akrobaat sal kan wees nie. Ek was verpletter.

Sy vra my steeds gereeld om haar balletklas toe te neem sodat sy kan gaan kyk hoe haar maats dans. Ons gaan in die toekoms fokus op musiekinstrumente en koor. Sy sing reeds in die skoolkoor en swem, en geniet albei aktiwiteite baie.

Een jaar later

Dervaring het ons geleer dat ons baie mense om ons het wat vir ons lief is en omgee. My ouers verwyt hulleself – dit help nie hoeveel keer ek vir hulle sê dat hulle niks kon gedoen het om dit te vermy nie; dit was net ’n nare fratsongeluk.

My kind is pragtig en perfek met haar nuwe opgeboude tandjies, maar die ongeluk het ons lewe verander. Leani wil nie kaskarwedrenne by die skool bywoon nie en klein dingetjies ontstel haar hewiglik.

Ek wens ek kan my ou kind wat nie so maklik angstig en emosioneel geraak het nie, terugkry. Dis nie soos ’n fisieke seerplek waar jy ’n pleister kan opplak nie. Ons lewe word steeds elke dag regeer deur ’n ongeluk wat ’n jaar gelede gebeur het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters