Hy piets, ek praat

Anja* en Waldemar* is al agt jaar getroud en het twee kinders, ’n vierjarige dogtertjie en ’n seuntjie van amper twee.

Anja vertel sy kan nie eens onthou dat sy ooit ’n pak slae van haar vredeliewende pa of ma gekry het nie. “Natuurlik is ons gedissiplineer, maar ’n pak slae? Nooit!” Waldemar vertel graag dat hy en sy boeties meer slae as kos gekry het en sê ’n pak slae op sy tyd is soos brood en konfyt.

“Ek het nooit eintlik besef dat ons so anders oor dinge dink tot hy ons dogtertjie as peuter op haar doek geklop het nie,” vertel Anja. “Ja, dit was seker ’n ligte skrikmaakhoutjie, maar dit was vir my onaanvaarbaar. Dit het tot ’n epiese geveg gelei en ons kan tot nou toe steeds nie klarigheid oor dissipline kry nie. Hy is nou al so dat hy wegstap en sê: ‘Hanteer jy dit nou maar, want jy weet mos van beter!’”

Ouers se dissiplinestyle verskil dikwels aangesien elkeen in ’n ander ouerhuis grootgeword het en elkeen sy eie bagasie na die huwelik neem, maar die manier hoe jy dit hanteer, maak die wêreld se verskil, vertel kenners.

Dr. Arina Lanser, opvoedkundige sielkundige van Strubensvallei, Johannesburg, sê konsekwente dissipline is noodsaaklik. “As ouers oor veral dissipline staamstem, bied dit ’n gesonde basis vir die huwelik. Dit sal konflik, verwyte en manipulasie deur kinders minimaliseer.

“Roetine en konsekwente dissipline maak ouers se gedrag voorspelbaar en dit is juis dit wat kinders geborge en rustig laat voel om in vreemde situasies te waag. As kinders reëls en roetine in hul gesin leer ken, is dit vir hulle makliker om in ’n nuwe omgewing soos by die skool die reëls, dissipline en gesagsfigure te gehoorsaam.” Sy vertel ’n goeie afskopplek vir ’n paartjie is om na elkeen se definisie van dissipline te kyk.

“Ontleed jou eie, maar ook jou man se dissiplinestyl. Kyk of julle min of meer dieselfde dink en indien nie, kan julle die volgende vorm van dissipline probeer. Sê vir jul kind: ‘Ons gaan vir jou ’n taak gee. Ons sal dit herhaal omdat Pappa en Mamma ook vergeet. As jy dit teen die derde keer nie doen nie, sal daar ’n straf wees.’

“As jou kind groter is, kan jy hom ook by die kies van die straf betrek, want dan kan hy jou nie vir ’n te kwaai straf blameer nie. Dit maak dus nie saak of Pappa of Mamma kwaaier as die ander een is nie, teen die derde keer by welke ouer ook, is daar ’n implikasie vir die kind.” Dr. Arina sê hierdie tegniek help kinders ook om later beter in die klas te luister.

Is daar 'n regte dissiplinestyl?

Dr. Arina sê daar was tradisioneel drie style:

  • Outokratiese ouer: “Jy sal dit doen omdat ek so sê.”
  • Permissiewe ouer: “Ag toemaar, doen wat jy wil, wees vry, ons leer deur ons foute.”
  • Demokratiese ouer: Pa: “Hoe laat wil jy gaan slaap?”
    Kind: “Twaalfuur, Pa.”
    Pa: “Ek en jou ma het eerder sesuur in gedagte gehad.”
    Kind: “Pa is seker nie ernstig nie!”
    Pa : “Nou dan maak ons dit agtuur.”

Dr. Arina sê: “Die ouers het lankal agtuur in gedagte gehad, maar voel die kind het ’n sê en kan onderhandel oor dinge wat vir hom saak maak. Die demokratiese ouer is die ideale ouer, veral in vandag se tye.”

Sy vertel daar het ook as gevolg van trauma (egskeiding, ouers wat laat werk, dood, padwoede, ensovoorts) ’n vierde soort ouer ontwikkel en dit is die gehoorsame ouer.

“Dié ouer probeer vir trauma in die kind se lewe vergoed deur alles te doen wat die kind vereis. Hierdie ouerskapstyl het gevaarlike implikasies vir die kind se ontwikkeling, vertroue in die ouerfiguur en selfs vir die huwelik.”

Nie goed vir jou huwelik of jou kind nie

’n Verskil in dissiplinestyle en ouerskapstyle kan tot konflik in ’n huwelik lei en ’n impak op jul verhouding hê, maar die gevolge eindig nie by jou of jou man nie. Dr. Arina verduidelik daar is verreikende gevolge vir kinders as ouers se ouerskapstyl verskil.

“Kinders voel verward en onseker as gevolg van die gemengde boodskappe. Hulle sal natuurlik eerder van geen dissipline of gereelde toegewings as konsekwente disspline hou. Dit maak onmiddellik (onregverdiglik) van een ouer ’n ‘kwaai’ ouer en die ander ’n ‘lekker’ ouer.

“Dit kan kinders ook leer om te manipuleer en ouers teen mekaar af te speel. As daar egter later probleme tussen ouers kom, blameer hierdie kinders hulself vir die egskeiding.

“Nog ’n gevolg is kinders wat leer om nie te luister nie, want hulle weet ouers moet eers hul verskille hanteer voordat hulle as kinders (heel waarskynlik onkonsekwent) gestraf word,” sê dr. Arina.

“Onsekerheid as gevolg van onkonsekwente dissipline kan by kinders verskeie gevolge hê, onder meer swak luistervaardighede, geneigdheid om maats en ander te domineer en spelreëls te dikteer, lompheid in sosiale verhoudings en hulle voel gou verontreg.”

Gegrond op die posisie van die kind in die gesin kan die oudste byvoorbeeld jonger sibbe afknou. Kinders kan ook die wisselvallige dissipline tuis by die skool met negatiewe gedrag en swak luistervaardighede na-aap.

Ernstiger gevolge sluit tekens van obstruktiewe gedrag of selfs depressie en oormatige angs in, verduidelik dr. Arina.

Hoe hanteer ek dit?

Angelique Biagioni, ’n opvoedkundige sielkundige van Fourways, Johannesburg, gee oplossings vir ’n paar ma’s se probleme.

My man glo aan lyfstraf en ek glad nie. Wat maak ons?

Daar is ’n magdom alternatiewe, positiewe en opbouende maniere om kinders te dissiplineer. Hoewel ek ook nie ten gunste is van lyfstraf nie, wil ek in jou geval die volgende voorstel:

Kommunikasie speel ’n ongelooflike belangrike rol en jy en jou man moet saam besluit watter soort oortredings ’n pak slae regverdig en of julle nie dalk ander opsies van dissipline kan oorweeg nie.

As lyfstraf wel toegedien word, moet jou man kalm wees en nie die kind verwyt oor wat gebeur het nie. Jou kind moet ook weet waarom hy pak kry. Julle behoort ná die toediening van die straf weer met jul kind te praat oor wat gebeur het en dat julle nie vir hom as mens kwaad is oor dit wat gebeur het nie, maar dat die gedrag nie aanvaarbaar is nie.

Persoonlik dink ek lyfstraf hoort net in ’n situasie wat lewensbedreigend is soos wanneer ’n kind oor die pad wil hardloop sonder om te kyk en nie vir jou luister nie of ’n kind wat met ’n muurprop vroetel. ’n Raps op die boud is dan net om hom skrik te maak.

My man voel ek is te streng en ek dink weer hy’s te sag met ons kinders. Wat nou?

Kry ’n goue middeweg en besluit watter straf die beste by spesifieke oortredings pas. Kinders kom so vinnig agter wanneer ouers nie as ’n eenheid funksioneer nie en sal die situasie so slim manipuleer dat dit in hul guns tel.

Terwyl julle stry oor wie te hard of wie te sag met jul kind is, sit hy lekker en giggel, want die fokus is weg van sy gedrag en nou op Mamma en Pappa wat stry.

Ek glo aan ’n streng roetine wat slaaptyd, badtyd en dies meer betref. My man is min gepla as die kinders agtuur die aand nog rondhardloop. Hoe hanteer ek dit?

Hoe kan ’n mens verwag dat kinders reëls en roetine aanvaar as Pa dit nie doen nie? Roetine gee vir kinders die gevoel van sekuriteit wat hulle nodig het. Hulle hou daarvan om te weet wat om te verwag en roetine bied daardie grense vir hulle.

Bespreek met jou man die doel van roetine. (Dit laat hulle veilig voel, hulle benodig minstens agt tot tien uur slaap vir konsentrasie en breinontwikkeling en die bonus is dat julle bietjie alleentyd kan hê om op mekaar te fokus.)

Ek laat die kinders in ’n hoekie sit as hulle stout is. My man wil hom doodlag en trek vir die kinders gesigte en laat hulle lag. Wat maak ek?

Hoewel dit nie ideaal is nie, probeer om jou strategie te verander en sodoende jou man terselfdertyd ook ’n les te leer. Verander jou hoekie na die “dinkhoekie”. Die doel van die dinkhoekie is sodat hulle kan dink waarom hul gedrag nie na wense was nie en hoe hulle dit kan verbeter.

Hoe langer hulle neem om oor die situasie te besin, hoe langer bly hulle in die dinkhoekie. Later gaan Pa se gesigtrekkery ook nie meer snaaks wees nie. Maak asof dit jou glad nie raak nie. Hulle kan sien wanneer jy vies raak en deur die gedrag te ignoreer, speel jy nie saam nie.

Kommunikasie

Angelique sê as jy en jou maat oor dissipline vir die kinders stry, moet julle ’n afspraak maak om te gesels oor wat vir jul kinders belangrik is.

“Dit klink dalk soos ’n cliché, maar kommunikasie tussen jou en jou maat is die gom wat jul verhouding versterk,” benadruk sy.

“Om ’n gesonde huishouding met kinders te handhaaf, is harde werk, maar met die konsekwente toepassing van reëls, grense en ’n ouerpaar wat as ’n eenheid funksioneer, word baie struikelblokke uit die weg geruim.”

Sy sê natuurlik gaan kinders steeds hul ouers probeer toets en die reëls probeer buig, maar as Pappa en Mamma uit een mond praat, gaan hulle gou agterkom die reëls is daar om te bly.

“As jou kind vandag met moord wegkom en môre vir ’n kleiner oortreding gestraf word, gaan jy kort voor lank ’n onbeheerbare kind hê.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters