Laat die katel ratel!

Jy het pas ’n baba gehad. Behalwe dat jy nou elke drie uur opstaan vir voedings, doeke ruil en ’n honderd ander dinge voel jou lyf glad nie soos jou eie nie. Dis nog besig om ná die geboorte te herstel en tussendeur maak dit ook melk vir jou baba.

Ons weet jy is lief vir jou man en dat jy voor die geboorte seks baie geniet het. Maar ons verstaan ook dat jou seksdrang nou laag is. Voor jy weer maak of jy ’n kopseer het, gaan ons jou help om jou sekslewe weer op dreef te kry.

Tydsberekening

Dit word nie aanbeveel dat jy jou sekslewe begin opkikker voor jou seswekeondersoek nie – en dit sluit voorspel in.

Ses weke gee jou liggaam kans om te genees, en ons sal verstaan as jy dit as verskoning wil gebruik om op die bank aan die slaap te raak pleks daarvan om verleidelike onderklere aan te trek. Of jy nou normaal die lewe geskenk of ’n keisersnee gehad het, gaan jy dalk steke hê op plekke waarvan jy jou skoonma beslis nie wil vertel nie.

As dit die geval is, is intimiteit buite die kwessie. Wag tot jou dokter of vroedvrou die groen lig gee. Intussen is daar niks verkeerd met lepellê en soen om die vonk aan die gang te hou nie.

Begin van voor

Die eerste struikelblok wat jy sal moet oorkom wanneer jy weer intiem met jou man wil verkeer, is jou seksdrang – wat waarskynlik net so ’n vae herinnering is as ’n goeie nag se slaap. ’n Paar gelukkige vroue vind dat die hormoonveranderinge ná die geboorte hul libido aanvuur, maar vir die meeste is die teenoorgestelde waar.

Dis nie net jou hormone se skuld nie. Kom ons wees eerlik: Nadat jy ’n baba gehad het, voel jy nie juis sexy nie. Die donker kringe onder jou oë, jou lyf wat nog nie lyk soos voor jou swangerskap nie, jou borste wat nie meer vir seksuele plesier gebruik word nie maar vir ander doeleindes … dit alles kan ’n nuwe ma se selfbeeld knou.

Dis belangrik om te weet dit is normaal! As jy dalk soos Heidi Klum lyk wanneer jy uit jou hospitaalbed spring, haal ons ons hoed af vir jou. Maar die meeste vroue is nie so gelukkig nie. Begin dus deur jou selfbeeld reg te ruk, sê Nicola Byrne, ’n ma en die eienaar van Good Vibrations, ’n stout, maar nuttige Amerikaanse webtuiste oor sekssake.

“ ’n Groot deel van vroue se belangstelling in seks spruit voort uit hoe sexy hulle voel; daarom is dit belangrik om jou so goed moontlik te versorg. Eet gesond, oefen, rus soveel jy kan en trek mooi deurskynende nagklere aan – dit sal jou help om die oorskakeling te maak van oppasser en ma na sexy, begeerlike vrou,” sê Nicola.

Wanneer jou dokter dus goedkeuring gee, beplan ’n romantiese ete by die huis (as jy nie ’n baba-oppasser het nie), skeer jou beenhare en trek ’n sexy nagrokkie aan wat sommer ook jou drillerige magie toemaak. As jy selfbewus voel voor jou man, onthou: Hy het ses weke laas seks gehad en gaan beslis nie na jou rekmerke kyk nie!

Gaan oor tot aksie

Noudat julle besluit het om seks te hê, wonder die meeste vroue hoe hulle dit gaan doen sonder dat dit seer is. Net soos voorheen moet jy eers in ’n mate gestimuleer word voor jou man jou penetreer. Voorspel is dus baie belangrik.

Verduidelik vir jou man dat as hy wil hê dit moet vir julle albei werk, moet hy nie haastig wees nie. As jy droog bly ongeag wat hy doen, stel Nicola voor julle gebruik ’n gehalte-smeermiddel, verkieslik een met ’n silikoonbasis. Droogheid kan ’n probleem wees as jou hormoonvlakke aan die daal is.

As jy natuurlik en sonder skeurtjies die lewe geskenk het, behoort seks makliker te wees. Skeurtjies kan jou ’n bietjie sensitief maak, selfs al het die plekkies genees – hou dinge dus rustig.

As jy ’n keisersnee gehad het, kan diep penetrasie miskien ongemaklik wees. As dit die geval is, vra jou man om versigtig te wees tot die pyn weg is.

’n Goeie manier om die regte atmosfeer te skep is om met ’n sensuele massering te begin. Kry masseerolies en maak beurte om mekaar te masseer. Steek ’n paar kerse aan vir ’n romantiese atmosfeer en om jou lyf in die beste lig te vertoon.

Die sleutel tot pynlose seks is om te ontspan. Hoe meer gespanne jy is, hoe groter is die kans dat jy pyn gaan ervaar.

Posisie, posisie, posisie

Nicola stel voor julle hou by die tradisionele posisie (jou man bo en jy onder) aangesien dit die natuurlikste posisie is en die vrou toelaat om te ontspan. Plaas ’n kussing onder jou onderrug vir meer gerief. Jy kan ook probeer om bo te wees – so kan jy die diepte en mate van die penetrasie beheer.

Seks moet aanvanklik stadig en versigtig benader word sodat jy gemaklik is. Maak seker jou man verstaan dit en dat hy nie die eerste aand wilde kaskenades verwag nie.

Maar ek wil nie

Dis hier waar die “waarom” inkom. Waarom moet jy sexy onderklere aantrek, jou beenhare skeer en probeer seks hê wanneer jy eintlik net wil slaap?

Nicola verduidelik: “Intimiteit met jou man is ’n geleentheid om van jou spanning oor moederskap te vergeet en ’n blaaskans daarvan te neem. Gee jou oor aan ’n bietjie liefkosing. Beskou dit as ’n tyd om jou kragte op te bou en jou band met jou man te versterk. Dis immers dié einste daad wat jul bondeltjie vreugde geskep het.”

Orgasmes stel ’n golf endorfiene vry wat jou beter sal laat voel en lyk en is dus beslis die moeite werd. Selfs al voel jy oorweldig, is dit dalk net die ding wat jou weer in voeling sal bring met jou, jou lyf en jou wederhelf.

“Dis ’n noodsaaklike deel van ’n gesonde verhouding, en dis goed as jou kind grootword met die voorbeeld van tevrede en gelukkige ouers,” sê Nicola. Skraap dus moed bymekaar en trek daai sexy onderklere aan ...

1. Kan ek weer swanger raak?

Ja. Hoewel daar gevind is dat borsvoeding jou kans om swanger te raak verklein, is dit glad nie ’n feillose voorbehoedmiddel nie. As jy dus nie van plan is om dadelik weer swanger te raak nie moet jy voorbehoeding gebruik. Gesels met jou dokter oor ’n middel wat vir julle albeiwerk.

2. Is daar iets wat ek kan doen om my bekkenbodemspiere te versterk?

Swangerskap verswak jou bekkenbodemspiere, veral as jy natuurlik die lewe skenk. Hoe fermer en sterker dié spiere is, hoe beter gaan seks vir jou én jou man wees. Hoewel Kegeloefeninge help, stel Nicola voor jy gebruik Ben Wa-balle as jy regtig daardie spiere wil oefening gee.

Dit is honderde jare gelede uitgevind en versterk nie net die spiere nie, maar verhoog ook seksuele stimulasie. Gebruik dit met ’n smeermiddel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters