Liefie, nie vanaand nie

Ons seuntjie is vier, ons dogtertjie is ses maande en hulle het ons lewe handomkeer verander. Ma wees is die wonderlikste ding wat nog met my gebeur het, maar dit het sy tol van my en Pieter se huwelik geëis, vertel Anel (35).

“Dis sekerlik deels my skuld. Ek is net nooit meer in die bui nie. Aande in ons huis is ’n chaos: Dis die kinders se goed, huis skoonmaak, kos maak en dan sit my man met die afstandbeheerder voor die TV. Ek bring soms noodgedwonge werk huis toe ook. Teen die tyd dat ek in die bed kom, is ek al onvas op my voete van moegheid en boonop hoogs geïrriteerd met Pieter wat dan amoreus wil wees. Ek het net nie meer tyd of krag vir seks nie.”

Anel en Pieter se probleem is nie ongewoon nie, sê dr. Elmari Mulder Craig, ’n kliniese seksuoloog van Pretoria.

“’n Nuwe baba of klein kinders bied noodwendig uitdagings vir ’n verhouding en jou sekslewe. Dis nie maklik vir vroue om alles te wees nie: Jy’s ma, beroepsvrou, tuisteskepper en dan moet jy boonop in die bed presteer. Jy’s dikwels doodmoeg en seks is net nog iets op jou lysie. Dis ’n plig en nie meer ’n plesier nie.”

Soms kan ’n nuwe baba ’n gelukkige huwelik kwaai uitdaag, sê dr. Marelize Swart, ’n sielkundige en seksuoloog van Somerset-Wes en Kaapstad.

“Die baba neem nou die meeste van sy ouers se tyd in beslag en daar is nie veel tyd vir hul verhouding oor nie. Ouers kry nie genoeg slaap nie en dan is daar nog nuwe verwagtinge en die druk om ’n baba groot te maak terwyl jy tussendeur nog moet werk ook.”

Die eerste paar maande kan droë seksmaande wees, sê Marelize, maar namate jy meer slaap en jou hormone stabiliseer, kan jul sekslewe weer normaal hervat word.

“As ’n mens jou intieme verbintenis verwaarloos en jy verloor die wonderlike emosionele band wat jou goed oor jou en jou geliefde laat voel, kan dit tot ongelukkigheid, eensaamheid en konik lei.

“Paartjies verval maklik in ’n ongesonde patroon van min seks en uiteindelik geen seks. Dit word baie moeilik om weer gereeld intiem te verkeer en sulke paartjies het dan professionele hulp nodig.”

Ja, kinders het baie behoeftes en kry gewoonlik eerste aandag, maar dis ’n groot fout as ma’s al hul tyd en aandag aan hul kinders afstaan en nie aan hul verhouding nie, sê Marelize.

“As jy nie moeite doen om tyd aan jou maat en jou verhouding te bestee nie, nie, sal jou huwelik sonder twyfel skade ly.

Daar moet ’n gebalanseerde benadering wees waar ouers gereeld ’n afspraakaand reël of waar daar ’n vaste roetine is soos geselstyd ná aandete.

“Die belangrikste geskenk wat julle vir jul kinders kan gee, is ’n gelukkige huwelik. As ’n paartjie gelukkig is, funksioneer die hele gesin beter,” sê sy.

Doen moeite

Kinders moet van vroeg af leer dat pa en ma alleentyd nodig het, sê Elmari. “Sluit jul kamerdeur as julle bang is dat die kinders julle betrap. Ongelukkig kan kleuters soms die deur wil afbreek en natuurlik moet ’n mens seker maak dat hulle versorg en veilig is. Word kreatief met maniere om hulle besig te hou.”

Hier is nog van haar wenke:

  • Laat die kinders soms by ’n ouma of vriende slaap en gaan eet uit of bring die nag in ’n hotel deur. Doen moeite vir mekaar.
  • Probeer om elke dag op mekaar in te skakel. Jou man of vrou het steeds (en dalk veral nou) jou erkenning en ondersteuning nodig.
  • ’n Huwelik of verhouding verval maklik in ’n groef. Dit gebeur as die emosionele en fisieke intimiteit nie meer is wat dit moet wees nie. Moenie net oor die kinders kommunikeer nie, maar ook oor wat in jou hart aangaan. Maak tyd om te praat.
  • Die seksuele verhouding verval ook maklik in dieselfde groef, waar mense so gewoond aan mekaar raak dat daar geen opwinding en humor meer in hul sekslewe is nie. Die antwoord is tyd. Fokus op emosionele en fisieke intimiteit.
  • Fokus op die sensuele eerder as seksualiteit en ook op seksuele alternatiewe. Dit hoef nooit alles of niks te wees nie.

Gun jouself ’n blaaskans, sê Elmari. Moenie skuldig of bekommerd voel as seks die laaste ding is waaraan jy wil dink nie. Borsvoeding, die aanpassing by ’n nuwe roetine en moontlike seksuele druk kan ’n nuwe ma se sekslus laat afneem. Dis normaal.

Dit duur ’n hele rukkie voor jou hormoonvlak ná die swangerskap stabiliseer en jy weer gemaklik oor jou lyf voel. Wees dus sensitief vir mekaar se behoeftes en respekteer dit, sê Elmari.

Julle kan dalk eerder nieseksuele sieke aanraking, intimiteit en sensuele nabyheid oorweeg, soos om mekaar vas te hou of jou maat se rug of voete te masseer. Elmari sê dis nou belangrik om goed te beplan en jul tyd sinvol te bestuur.

“Afwagting kan net so stimulerend wees as iets wat spontaan gebeur. Kry soms ’n babaoppasser of beplan rondom jul baba se skedule.”

Moenie skaam wees om jou familie en vriende se hulp te aanvaar nie, sê sy. “Oorweeg meer wegneemetes, kry hulp vir die huistake, betaal rekeninge aanlyn. Só spaar julle tyd en energie om meer tyd saam deur te bring.”

’n Gesonde lewenstyl help ook. “Dit laat jou liggaam gouer aanpas en herstel. Eet gesond en doen matige oefening. Gaan stap as nuwe gesin en slaap wanneer jou baba slaap.”

Jy besef dalk nie hoe gespanne jy of jou maat is voor julle ’n doelbewuste poging aanwend om te ontspan nie. Klim saam in ’n warm bad en moenie vergeet om te vry nie! Los mekaar soms af. Mans kan ook voedings in die nag oorneem (ja, borsmelk kan uitgemelk word).

“Onthou, ’n vrou se liggaam keer nie onmiddellik ná kindergeboorte terug na normaal nie en vaginale penetrasie kan vir ’n geruime tyd ongemaklik en selfs pynlik wees.

“Gesels daaroor. Dit is uiters belangrik om onmiddellik die seksdaad te beëindig as dit vir iemand seer is. ’n Goeie smeermiddel is gewoonlik al wat nodig is,” sê Elmari. 

Ons seks is altyd dieselfde

Talle paartjies se sekslewe verval in ’n groef, sê Elmari. “Woensdae en Saterdae is tyd vir seks en dan is dit stap een, twee, drie en die gewone roetine.”

Seks word maklik voorspelbaar, oninteressant en net nog iets wat afgehandel moet word. Maar jy kan vir die res van jou lewe ’n vervullende en opwindende sekslewe met een mens hê, sê Elmari.

“Al wat nodig is, is tyd, energie en ’n vasbeslotenheid om dinge vars en interessant te hou. Laat jul romanse lewe deur kersligetes, klein geskenkies, onverwagte oproepe, liefdesbriewe en aanhoudende nieseksuele sieke kontak.

“Jou maat (en natuurlik jy ook) wil voel dat jy hom of haar onvoorwaardelik liefhet, dat jy hom waardeer en dat jy hom na waarde skat. Begin dus sommer vandag om elke dag iets spesiaals vir mekaar te doen.”

Wees daar vir mekaar

Soms is die lewe so holderstebolder dat ’n mens saamweestyd in jou dagboek moet aanteken, sê Marelize.

“Fokus op minstens 15 tot 20 minute van ononderbroke gesels elke dag, een lang geselssessie en saamkuier (een tot een en ’n half uur) elke week; en minstens een uitslaap elke twee maande. Probeer om minstens twee naweke per jaar net vir julle as paartjie te reël.” Sy gee nog raad:

  • Bestee tyd alleen as ’n paartjie, selfs al is dit net om vinnig ’n koppie koffie te gaan drink.
  • Doen klein dingetjies vir mekaar soos die skryf van ’n kaartjie of ’n epos. Sulke klein gebare is ’n vinnige, eenvoudige manier om te laat weet dat julle vir mekaar belangrik is.
  • Doen steeds dit wat voorheen vir julle spesiaal was soos om in die sitkamer te dans, kaart te speel, sexy onderklere aan te trek wanneer julle uitgaan (en noem dit ook!).
  • Hou ’n afspraak by die huis, eet ’n pizza in die bed of geniet brood, kaas en wyn.
  • Soek bonustye om seks te hê: ’n paar minute in die oggend, oor middagete of in die vroeë middag.
  • Onthou dat een van julle seks aan die gang moet sit. Moenie wag dat julle eers “gereed” voel nie.
  • Moenie vir jou libido wag nie, laat aanraking jou eerder opgewonde maak. So nie gaan jy dalk lank wag! Maak seker dat julle weer oor seks praat, want jou liggaam is nie meer dieselfde nie. Sê waarvan jy hou en wees so spesiek as wat jy kan.
  • En mans, help meer in die huis! In navorsing is gevind dat mans wat hul vroue meer met huishoudelike take help, ’n beter sekslewe het!

Dít laat die rooi ligte flikker

Marelize sê die volgende is ’n goeie aanduiding van ’n verhouding wat ontspoor:

  • Paartjies lei parallelle lewens en doen min dinge saam.
  • Hulle is emosioneel verwyder en praat net oor die kinders of reëlings.
  • Daar is min of geen aanraking en/of seks nie.
  • Hulle gaan nie meer dieselfde tyd slaap nie.
  • Daar is nie meer rituele soos soengroet in die oggend en aand nie.
  • Rituele soos saam eet of saam koffie of tee drink word verwaarloos.
  • Daar is nie meer pret in die verhouding nie.
  • Die verhouding karring net aan en niemand doen meer moeite om aandag daaraan te gee nie.

Elmari se toptienwenke

1. Moenie seks net tot die slaapkamer en aande beperk nie – wees kreatief!

2. Eksperimenteer met verskillende posisies. Koop ’n goeie sekshandleiding en lees dit saam.

3. Raak van onnodige inhibisies ontslae; spreek ’n seksuoloog indien nodig.

4. Sommige paartjies vind dit stimulerend om na hulself in ’n spieël te kyk terwyl hulle liefde maak.

5. Daar is vandag wonderlike sekshulpmiddels van goeie gehalte beskikbaar.

6. Oorweeg ’n tweede wittebrood of breek weg vir ’n romantiese naweek saam.

7. Fokus op sensuele saamwees soos erotiese massering, orale seks en die gee en ontvang van plesier, en vergeet ’n bietjie van die doelgerigtheid van penetrasie en orgasme.

8. Sit die humor terug in jul sekslewe en geniet dit!

9. Beskou die seksuele as ’n avontuurlike reis waarin jul behoeftes kan verander.

10. Seks is nie ’n wedren nie. Moet dit nie afjaag nie. Onthou die belangrikheid van voorspel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters