"Ons Hemelkind"
Ons Hemel Kind

"Ses weke na ek opgehou het om die Pil te drink, besef ek, ek is moontlik swanger.

Ek gaan koop dadelik ‘n toets en die twee strepies wys byna dadelik.

Effens geskok besluit ek om by ons naaste apteek nog ‘n toets te laat doen deur die Suster. Positief. Die week later wys die bloedtoetse ek is ses weke swanger. Sewe weke na ek die Pil gelos het, is ek ses weke swanger.

Ons Hemel Kind

Wat 'n seën

Dit was deurentyd ‘n baie gesonde swangerskap, baba se ontwikkeling was op datum by elke besoek. Ons wou die geslag ‘n verrassing hou. Keisersnee is geskeduleer vir 21 Junie 2012. 

21 Junie ongeveer 08h35 sit hulle die mooiste kind in my arms wat ek nog gesien het. Die mooiste, blouste, wakkerste ogies. Ons seun. Klein Paul Johannes Kruger – vernoem na Pappa. 

Liefste Paultjie het begin sit en kruip op 5 maande, gestaan en ampertjies treë gegee op 6, so paar daggies voor sy 7 maande mylpaal het hy begin geluide maak wat soos die begin van woorde klink. Vier dae na hy 7 maande is, gaan lê ek hom neer in sy wiegie vir sy oggendslapie.

Min wetend dat dit die laaste keer sou wees wat ek daardie pragtige ogies sou sien blink.

Ek trek die deur agter my toe om gou ‘n paar laaste dinge in die kantoor af te handel voor ons sy half-ouboet by die skool gaan haal.

Ek sien dit raak bietjie laat maar los hom aangesien hy nou so goed slaap. Teen 13h30 kon ek nie langer wag nie en besluit om hom maar tog te gaan wakker maak.

Al wat ek daar aantref is sy lewelose liggaam – hy is toe al ‘n rukkie by God. Na-doodse ondersoek kon geen rede vind nie.

Wiegiedood

Ek sien in my geestesoog hoe hy opgewonde uitreik na die hande van God wat hom kom haal en weggeem het. 

Die eerste ding wat in my gedagtes opkom is “Die Here weet van MY, Hy het MY seun vandag nodig gehad!” Op dieselfde oomblik tref die grootste kalmte wat ek tot nog ontvang het, en die grootste hartseer my gelyk.

Ses dae later begrawe ons, ons seun. 

Hy sou vanjaar 5 jaar oud wees – ek wonder nie hoe sy stem sou klink of hoe hy sou lyk nie – ek weet as hy ‘n stem moes gehad het op aarde, sou hy. As hy nog by ons moes wees, sou hy. Ek berus by die Here se wil.

Watse voorreg is dit nie om te weet dat my seun so spesiaal was dat die Here nie langer as 7 maande en 4 dae vir hom wou wag om by hom in die Hemel aan te sluit nie! 

Meer as goed genoeg vir my

Ons Hemel Kind

Vandag, 4 jaar en 4 maande later is ons nog twee seuns ryker – twee woelwaters wat nooit Ouboet se plek sal inneem nie, maar beslis ons lewens verryk met hulle teenwoordigheid.  

Ek is so oneindig dankbaar vir my 3 seuns." 

Baie dankie aan Chantal Kruger wat hierdie bemoedigende storie aan ons gestuur het. Ons hoop dit kan vertroosting bring vir ander lesers ook. As jy jou storie met ons wil deel, stuur vir ons na web@babaenkleuter.co.za en ons publiseer dit dalk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters