Soos 'n tweede ma

Gemoedsrus is ’n woord wat vir elke nuwe ma ’n dieper betekenis kry wanneer haar kleinding gebore word. Vrae soos drink my kind genoeg, slaap my kind genoeg, sit my kind genoeg gewig aan, is dit koors of nie? maal pal deur jou gedagtes.

En wanneer jy ná kraamverlof moet terugkeer werk toe, is dit nie net ’n baie emosionele en moeilike tyd nie, maar wil jy ook gerus wees dat jou kleinding in goeie hande is. Hande amper soos jou eie. Maar waar vind jy so iemand en wat kan jy van haar verwag?

Waar om te begin

Haar voorkeurkeuse bly om ’n kinderoppasser by die huis te hê, sê Carmen Hamman, Gautengse takbestuurder van die onderneming Supernannies.

“Kinders onder twee moet liefs by die huis gehou word omdat hulle by ’n dagsorgplek so vinnig siek kan word. Hulle het ook nog nie sosiale interaksie nodig nie en floreer op persoonlike stimulasie en sorg.”

Verskeie agentskappe landwyd kan help om kinderoppassers te plaas, of ’n mens kan ook deur verwysing goeie oppassers vind.

’n Goeie oppasser moet oor ’n paar eienskappe beskik, sê Carmen. “Betroubaarheid en opregte liefde vir kinders is die vernaamste eienskappe. Dis belangrik om te besef daar is baie werklose mense wat ’n pos as kinderoppasser sal aanvaar net omdat hulle die geld nodig het en nie omdat hulle noodwendig ’n passie vir kinders het nie. Wanneer so iemand noodgedwonge ’n pos aanvaar, kan sy aggressief, ongelukkig en terneergedruk word. Dit kan lei tot die aaklige voorvalle waar kinderoppassers die kindertjies in hulle sorg mishandel.”

Jy kan jou oppasser die nodige vaardighede leer, maar jy kan nooit iemand anders se persoonlikheid verander nie, waarsku Carmen.

“As jy iemand vertrou en sy is werklik lief vir jou kinders, help eerder om haar vaardighede te verbeter.” Sy moet betroubaar wees. Dit kan bepaal word deur volledige verwysings na te gaan en met vorige werkgewers te gesels.

Span jou sesde sintuig in wanneer jy die onderhoud voer, sê Carmen. “As iets nie vir jou reg voel nie, vertrou jou intuïsie. Dis meestal in die kol.”

Harde, harde werk

Dit kos harde werk om na kinders om te sien en net ’n spesiale soort persoon kan dit doen.

“Dit is waarom ek beklemtoon dat nie almal die persoonlikheid het om kinders op te pas nie,” sê Carmen. Kinderoppassers kan ook soms hul frustrasie met die ouers op die kind uithaal.

“Dit is waarom ’n mens altyd moet seker maak dat jou oppasser se werkure en omstandighede goed is en in pas is met arbeidswetgewing. Behandel jou kinderoppasser met respek, betaal haar die regte salaris en gee haar wat haar toekom, soos verlof en bonusse. Onthou, jou heel kosbaarste besitting is heeldag in haar sorg en haar arms.”

Help haar

Daar is maniere waarop ouers kan help om kinderoppassers se werk ’n bietjie makliker te maak, sê Carmen.

“Kinderoppassers het baie noodsaaklike ondersteuning nodig. Jong babatjies kan soms ure aaneen huil en dit kan baie frustrerend wees. Maak seker jou kinderoppasser het iemand met wie sy kan gesels en wat haar omstandighede verstaan.

Dalk het die bure ook ’n kinderoppasser met wie sy kan gesels. Maak verder seker daar is oop kommunikasie tussen julle sodat sy die vrymoedigheid het om jou te bel wanneer sy voel sy kan nie meer nie.”

Carmen sê jy moet ook seker maak jou kinderoppasser kry genoeg rus. “Sy moet dalk reeds baie vroeg opstaan om betyds by die werk te wees en kom dalk eers baie laat by die huis, waar sy haar eie gesin nog moet versorg.”

Moet sy 'n kursus volg?

Carmen beveel dit aan. “ ’n Goeie kursus verseker dat jou oppasser die nodige vaardighede leer. Dit gee haar ook die selfvertroue om die beste te wees in haar rol as kinderoppasser. Jy belê in jou kind se toekoms.”

Nog iemand wat glo aan kursusse is Annemarie du Plessis van Bloemfontein. Sy is ’n onderwyser, kinderkinetikus en is besig met haar meestersgraad oor die rol wat kinderoppassers in die ontwikkeling van kinders speel. Annemarie bied ook kursusse vir kinderoppassers aan.

Sy sê die belangrikste boodskap wat sy vir die kinderoppassers leer is: “Jou eerste voorkeur daagliks is die versorging en vorming van die kleinding in jou sorg. Jy tree op as ’n tweede ma en dit is ’n baie belangrike werk. Om net te sorg dat magies vol is en doeke omgeruil word, is nie genoeg nie. In mamma se afwesigheid is jy die primêre versorger.

“Die kleinding in jou sorg moet voel dat jy omgee en dat jy hom sal beskerm indien nodig. As jy nie jou werk geniet nie, gaan die baba in jou sorg dit aanvoel en negatief op jou reageer.”

Annemarie sê sy leer die kinderoppassers oor algemene versorging, roetine, kommunikasie, stimulasie, slaappatrone, persoonlike higiëne, basiese noodhulp, wat om te doen wanneer daar ’n noodgeval is en voeding. Sy het ook ’n inligtingsessie met elke ma.

“Basiese inligting maak dinge vir die ma en kinderoppasser soveel makliker. Ek sien hoe verhoudings verdiep, vertroue toeneem en hoe ma’s meer gemoedsrus kry as wat hulle self gedink het moontlik is.”

'n Verhouding wat werk

Vir Susan Jordaan (35) van Durbanville in Kaapstad was haar kinderoppasser ’n geskenk so reg uit die hemel. Susan het in November 2013 die lewe geskenk aan ’n tweeling, Sophia en Mari.

“Eers het ek en my man, Hennie, iemand gesoek om my net te help terwyl ek met kraamverlof was. Ek sou hulle daarna dagsorg toe stuur. ’n Vriendin het my toe van Joyce vertel.”

Joyce Zama (43) kom van De Aar af en praat vlot Afrikaans. “Dit was vir my baie belangrik dat sy Afrikaans moes kon praat en dat sy ’n slag met die tweetjies het. Ek het nie geweet of sy die tweeling sou kon oppas en boonop die huis sou kon skoonhou nie en wou haar eers nie vas aanstel nie.

“Maar sy het haar oor en oor bewys en ek is vandag baie dankbaar dat sy vir ons kan werk.”

Susan sê Joyce het hope geduld met en liefde vir Sophia en Mari. “Sy is ook baie presies. Sy vra as sy nie weet nie en ons kommunikeer uitstekend.”

Joyce woon in ’n taamlik gevaarlike gebied en moet reeds vroegoggend by Susan aanmeld.

“Ons betaal haar daarom ’n bietjie meer sodat sy vervoer direk van haar huis af kan neem. Sy is regtig baie betroubaar en was nog net in uitsonderlike omstandighede laat.”

Oor hul daaglikse program sê Susan sy bel Joyce as daar iets spesifieks is wat sy wil hê met die tweeling gedoen moet word. “So nie volg Joyce haar eie roetine.”

Susan sê die tweeling word baie goed versorg, maar is ook baie onafhanklik en speel graag saam. “Ek kan sien as ek by die huis kom hoe lief sy vir hulle is, en hulle vir haar. En dit is die belangrikste.”

Het jy die perfekte kinderoppasser gevind? Het jy 'n storie wat jy graag wil deel? Stuur dit aan web@babaenkleuter.co.za

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters