Vier dit SA styl

1 jaar

'n Geskenk van papier is tradisioneel. Ons hou hiervan! Sorg dat jou geskenk 'n boek of digbundel deur 'n Suid-Afrikaanse skrywer is en onthou om voorin jou eie huldeblyk te skryf. 

2 jaar

'n Geskenk van katoen is tradisioneel. Maak servette van shweshwe-lap of skaf luukse nuwe lakens vir die bed aan. 

3 jaar

Leer is die tradisionele geskenk. Wat van 'n nguni-mat vir die sitkamer?

4 jaar

Linne, sy of vrugte is tradisioneel. Ons stel fynbos voor. Dit kan 'n struik vir die tuin wees as julle in die regte streek woon, of andersins enigiets met 'n protea-ontwerp op. Vetplante of aalwyne is ook goeie keuses as fynbos nie groei waar julle woon nie.

5 jaar

Hout is tradisioneel, en die moderne geskenk is eetgerei. Carrol Boyes enigiemand?

6 jaar

Die tradisionele geskenk is suiker, maar wie wil nou lekkergoed as 'n geskenk gee vir so 'n spesiale dag? Nee wat, ons vervang hierdie een met musiek. Gee vir mekaar CD's van plaaslike kunstenaars en luister saam daarna tydens 'n romantiese ete tuis.

7 jaar

Tradisie sê die geskenk moet wol wees. Gelukkig het Suid -Afrika die beste sybokhaat ter wêreld. Belê gerus in so 'n item elk vir mekaar. Kry inspirasie by www.mohair.co.za 

8 jaar

Die twee tradisionele voorstelle is brons of sout, maar dis nogal vervelig. Ons dink die jaar moet met biltong en droëwors gevier word.

9 jaar

Koper of keramiek is die tradisionele voorstelle. Ons voorstel is iets pragtigs van 'n plaaslike keramiek-kunstenaar of pottebakker. Wees wild en vervang julle hele eetstel! Inspirasie by www.mudstudio.net

10 jaar

Dis 'n groot mylpaal en die tradisionele tin of aluminium voel darem nie reg nie. Ons voorstel is diamante - eie aan Suid Afrika. 

11 jaar

Tradisie sê die geskenk moet staal wees. Ons dink dis die jaar om nuwe fietse aan te skaf sodat julle ons land se heerlike sonskynweer ten volle kan geniet. As julle nie hou van fietsry nie, skaf 'n driepootpotjie aan. 

12 jaar

Sy is die tradisionele geskenk, maar 'n langnaweek by die see of in die bosveld is 'n beter belegging.

13 jaar

Hierdie jaar moet die geskenk glo kant wees. Nee wat, ons vervang dit met fotografiese kuns van 'n plaaslike fotograaf. Gaan kyk by www.ormsphotoart.co.za

14 jaar

In die oue dae was die geskenk iets uit ivorr, maar dis lankal nie meer 'n opsie nie. Doen eerder iets goeds vir olifante en besoek die Elephant Sanctuary by Plettenbergbaai, Hazyview of die Hartbeespoortdam, of beplan 'n wildtuinvakansie om die indrukwekkende dier in die natuur te sien.

15 jaar

Dis weer 'n grote! Tradisie skryf kristal voor. Ons hou meer van die idee van 'n muurhorlosie of armhorlosies.

20 jaar

Die tradisionele voorstel is breekware, maar ons dink die mylpaal verdien iets groters: platinum!

25 jaar

Tradisie vra silwer. Ja wat, dis 'n goeie voorstel. Gee jul silwergeskenke aan mekaar by 'n spesiale ontbyt waar julle vonkelwyn uit ons wynland geniet en oesters van Knysna.

30 jaar

Koraal of pêrels. Hmmm, dis darem baie outyds. Maak dit eerder die jaar van tegnologie en koop elk vir mekaar 'n begeerlike "gadget".

35 jaar

Die tradisionele geskenk is nefriet, maar weet jy ooit wat dit is? Die ander voorstel is koraal, maar dis ook nie goed vir die omgewing om koraal te koop nie. Ons voorsetl is dus 'n duikvakansie in Sodwana waar Suid-Afrika se enigste koraalriwwe te sien is.

40 jaar

Robyne is die tradisionele geskenk, en een van die moderne lyste stel voor kruideniersware! 'n Opwindender voorstel wat reg sal laat geskied aan die mylpaal, is om deur die land te reis op die Bloutrein.

45 jaar

Saffiere is wel baie mooi, maar ons voorstel is om hierdie jaar saam met dansklasse te loop. Dis romanties en die vonkel wat dit in die oog bring, is mooier as die vonkel van edelstene.

50 jaar

Ons stem saam met die tradisie van goud. Dalk 'n Krugerrand?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters