Wanneer moet ons ophou saambad?

Vraag:

My seuntjie is nou drie jaar oud en my dogtertjie een. Op watter ouderdom moet hy nie meer saam met my bad nie en wanneer moet pa en dogter ophou saambad?

Antwoord:

Saambad-geleenthede kan vir baie spesiale en prettyd saam sorg. Dit kan ook ’n kalmerende uitwerking op jou kleinding hê. Maar daar kom ’n tyd wanneer jou kind privaatheid en onafhanklikheid nodig het wanneer hy bad.

Die meeste driejariges het ’n goeie begrip van geslagsverskille en begin nuuskierig raak oor die verskille tussen geslagte.

Teen die ouderdom van vyf ontwikkel jou kind geslagskonsekwentheid en begin hy verstaan dat ’n dogtertjie eendag ’n vrou sal word en nie ’n man nie en dat selfs as ’n dogtertjie ’n broek dra of kort hare het, sy steeds ’n dogtertjie bly.

Teen sewe jaar oud is die begrip van persoonlike privaatheid goed gevestig. Dit is belangrik dat jy die tekens dophou wat jou kan help om te besluit wanneer om saambadtyd te staak.

As jou kind sy lyfie begin toemaak wanneer jy inkom, of as hy sy ogies wegdraai wanneer jy uittrek, is dit ’n goeie tyd om hom meer privaatheid te gee wanneer hy bad.

Onthou dis normaal as jou kind nuuskierig is oor jou geslagsdele wat anders is as syne – en gebruik die geleentheid om jou kind oor geslagsverskille te leer en hoe om trots op sy liggaam te wees. Dié nuuskierigheid kan egter ’n teken wees dat hy gereed is om alleen te begin bad.

Die meeste kinders ontgroei teen vier of vyf jaar oud die behoefte om saam hul ouers te bad, maar elke gesin se gemaklikheid met saambad verskil en daarom kan hierdie ouderdom van gesin tot gesin verskil.

Probeer om die verandering na alleen bad opwindend te maak. Koop nuwe borrelbadseep of badspeelgoed en verduidelik dat hy nou ’n “groot seun” is en daarom alleen moet begin bad.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters