Werk toe ná kraamverlof

Nog by die huis

Die laaste ruk by die huis is ’n tyd wat jy ten volle moet benut. Jy kan hierdie tydjie gebruik om nog ’n bietjie te bind met jou nuwe baba en om dinge agtermekaar te kry sodat jy rustig voel wanneer jy terug by die werk is.

Vind 'n kinderoppasser of dagsorgsentrum

Dit sal jou gemoedsrus gee as jy weet jou kind is in bekwame hande. As jy nie rustig is nie, sal jy nooit met ’n geruste hart kan gaan werk nie. Om afstand te doen van jou kind se versorging kan angswekkend wees; doen dus genoeg navorsing en oorweeg al jou opsies versigtig voor jy ’n keuse maak.

Merk jou kind se besittings

Indien jou kind na ’n dagsorgsentrum gaan, sal dit wys wees om al jou baba se klere, skoene, bottels en ander besittings te merk. Dit sal verseker dat dit nie verlore raak nie.

Wees paraat

Plaas jou kind minstens ’n week voor jy terugkeer werk toe in die sorg van die oppasser of dagsorgsentrum. Dit sal hom help om aan te pas en jou tyd gun om voor te berei vir die verandering in jul program.

Oefen die nuwe roetine

Stel jou wekker en kry jou en jou baba gereed om die huis betyds te verlaat. Jy kan jou kind in die oggend by die dagsorg a¬flaai en gou werk toe ry om seker te maak jy laat genoeg tyd toe.

Doen soveel moontlik saans

Pak die dagsorgsak, maak werktoebroodjies en kry die res van die gesin se klere reg vir die volgende dag. So verseker jy dat dinge soggens glad verloop en dat jy minder gespanne voel.

Kry jou huis in orde

As jy eers werk, sal dit moeiliker wees om jou huis te organiseer. Dit is dus nou die tyd om jou taaklysies in orde te kry; dit sal op die lange duur tyd spaar.

Hou jou kaste vol

Maak seker jou koskas, yskas en vrieskas is vol kos. Wees op die uitkyk vir maaltye wat nie baie tyd verg nie en dalk net ontdooi en verhit kan word. Dit gun jou broodnodige tyd om jou batterye te herlaai en met jou kind te bind.

Geen skuldgevoelens

Jy is nie ’n slegte ma omdat jy werk nie, en jy kan gerus na die uitdagings van jou werk uitsien. Herinner jou daaraan dat jy doen wat die beste vir jou en jou gesin is.

Gesels met jou werkgewer

Maak ’n afspraak met jou werkgewer om vas te stel of jou rol by die werk nog dieselfde is. As jy beplan om aan te hou borsvoed sal jy by die werk wil uitmelk. Jy moet vasstel of daar ’n skoon, privaat kamer by jou werk is waar jy kan uitmelk. Jy sal ’n kragpunt nodig hê en jy moet ook seker maak daar is ’n yskas tot jou beskikking waarin jy die melk kan koel hou.

Pamperlang jouself

Kry ’n nuwe haarstyl, manikuur of net ’n massering. Doen wat jy moet om goed te voel oor jouself.

Vestig 'n nuwe borsvoedingroetine

’n Goeie tyd is twee weke voor jy begin werk. Jy sal minstens twee of drie keer gedurende die dag kan uitmelk en jou kind kan borsvoed voor en nadat jy van die werk af kom. Die dagmoeder of oppasser kan dan die borsmelk in ’n bottel vir jou baba gee sodat jou baba ook kan aanpas by die nuwe roetine.

Bou 'n bevrore melkvoorraad op

Jy sal meer gerus voel as jy weet daar is borsmelk vir jou baba beskikbaar, al kan jy nie self daar wees om dit te gee nie.

Kry 'n ondersteuningsnetwerk

Sorg dat daar familie en vriende is op wie se knoppie jy kan druk indien dinge nie volgens plan verloop terwyl jy by die werk is nie.

Koop genoeg babagoed

Koop soveel moontlik doeke, vogdoekies en boudjierome om later tyd te spaar. Die dagsorgsentrum sal jou ’n lysie gee van wat nodig is.

Berei jou voor

Gesels met ander werkende ma’s om te hoor hoe hulle die eerste ruk hanteer en hoe dit gevoel het. Dan sal jou emosies jou nie so onkant betrap nie.

Begin later in die week

Dit sal help dat die eerste week gou verbyvlieg.

Terug by die werk

Jy is terug by die werk en het dalk vergeet presies hoe stresvol dinge soms kan raak, maar die volgende wenke kan jou help om jou daaglikse take baas te raak en nog ’n bietjie energie oor te hê vir die tweede skof wat saans by die huis begin.

Wees georganiseerd

Hou dagboek of maak daaglikse taaklysies. Jy kan takies vir die werk sowel as vir die huis aanteken. Identi¬seer wat jy dringend moet doen, wat kan wag en wat jy nie hoef te doen nie. Dink vooruit en probeer om ’n bottelnek te vermy.

Moenie kla nie

Ja, jy gaan soms soos ’n wrak voel, maar moet dit nie met jou baas deel nie; hy of sy sal net dink jy het jou slag verloor. Moet ook nie te veel op kollegas se skouer huil nie. Gelukkig is daar wel base wat weet dat nuwe ma’s dikwels meer produktief is as tevore, want hulle leer gou lateraal dink, suksesvol delegeer, doeltreffend prioritiseer en om ’n klomp goed gelyk te doen.

Sorg vir 'n plan van aksie

Maak seker jy het ’n plan indien jou baba siek word of jou oppasser skielik nie beskikbaar is nie – of dit nou beteken jy neem verlof, en of ’n vriendin of familielid na jou baba kan omsien, en of jy dalk dele van jou werk van die huis af kan doen of saans kan inhaal.

Bel jou baba se sorg

Een telefoonoproep per dag om uit te vind hoe dit met jou baba gaan, is in orde. Plaas ’n geraamde foto van jou baba op jou lessenaar. Skep daagliks alleentyd ná werk sodat jy ’n bietjie met jou baba kan bind.

Onthou jou uitmelktoebehore

Neem jou borspomp, melkhouers en ’n koelsak werk toe. Hou altyd borsdoekies byderhand en ekstra bloesies of ’n modieuse onderbaadjie ingeval jou borste begin lek.

Vra hulp

Moenie probeer om ’n superma te wees nie. Jy kan nie alles alleen doen nie; aanvaar dus gerus hulp van jou man, vriende en familie. Praat daaroor as jy skuldig, hartseer of oorweldig voel.

Stimuleer jou borsmelk produksie

As jy nie by die werk wil uitmelk nie, kan jy dit doen soggens net voor jy die huis verlaat en sodra jy saans by die huis aankom. Jy kan ook naweke tussen voedings uitmelk. So verseker jy dat daar genoeg melk is en dat jou melkproduksie op dreef bly. Gesels met ’n borsvoedingskonsultant as jy sukkel om uit te melk of om jou baba tuis te voed, of vra die kliniek of hospitaal in jou omgewing om te help.

Pas jou op

Ontspan saans in ’n lekker warm bad wanneer jou baba slaap. Lees ’n bietjie of luister na musiek. Moenie probeer om alles te doen nie. Gaan slaap saans vroeër en hou by die roetine. Slaap naweke wanneer jou baba slaap. Knip dan in die middag saam ’n uiltjie, veral as jy hartseer voel omdat julle mekaar nou minder sien. Dis baie goed vir jul binding om saam te slaap.

Bly positief

Praat met jou baba en vertel haar hoe opgewonde jy is om haar ná ’n lang dag by die werk te sien. Jou baba verstaan dalk nie die woorde nie, maar hy sal die emosie aanvoel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters