Hand-voet-en-wat?

Hand-voet-en-mondsiekte (HVMS) is ’n hoogs aansteeklike virussiekte. Dit word gewoonlik veroorsaak deur die coxsackievirus A16, en minder algemeen deur die enterovirus 71. Ander stamme van die coxsackievirus en ander enterovirusse kan ook die sondaars wees, maar albei virusse veroorsaak dieselfde simptome. 

Soos die meeste ander kindersiektes kom HVMS meestal by kinders onder vyf voor, maar ouer kinders en volwassenes kan dit ook opdoen. Die siekte is meer algemeen in die somermaande.

Gewoonlik is HVMS nie baie ernstig nie, en daarom is dit ook nie ’n aanmeldbare siekte in Suid-Afrika nie, maar af en toe kan ’n klein epidemie uitbreek omdat dit so aansteeklik is.

In lande in Suidoos-Asië soos Viëtnam, China en Singapoer het daar wel die afgelope jare groter epidemies uitgebreek wat die nuus gehaal het en wat baie ouers angstig laat voel het oor die siekte omdat verskeie kinders dood is, maar die stam van virusse wat die siekte daar veroorsaak het kom minder algemeen by ons voor.

Herken die simptome

Die ontkiemingstydperk (vandat jy aangesteek het tot jy siek word) vir handvoet-en-mond-siekte duur tussen drie en ses dae. Sommige mense met HVMS toon byna geen simptome nie, terwyl ander se simptome duidelik sigbaar is. Almal ontwikkel ook nie al die simptome nie.

Die siekte begin gewoonlik met koors. Die koors is dikwels nie baie hoog nie sodat ’n mens nie noodwendig dadelik besef jou kind is siek nie, hoewel hy prikkelbaar en moeg kan wees. Jy sal waarskynlik eers agterkom dat iets groters skeel as jou kind sowat twee dae later onwillig begin raak om te eet weens ’n seer keel en klein seertjies (2 tot 5 mm) later om en binne sy mond (dikwels taamlik agterin) of op sy tong verskyn.

Hierdie seertjies kan aanvanklik net soos klein rooi kolletjies lyk, maar kan dan verder ontwikkel om blasies te vorm wat maklik bars. Binne-in die mond kan dit soos koorsblare lyk.

Ná nog ’n dag of twee kan daar ook ’n uitslag op jou kind se handpalms en voetsole verskyn, en soms ook op sy boudjies, knieë en elmboë. Hierdie uitslag kan plat rooi kolle wees, of ander kere soos pêrelagtige blasies lyk met ’n rooi kolletjie om. Die uitslag jeuk nie soos waterpokkies nie, maar kan seer wees. Dit simptome klaar binne sowat ’n week op en behoort nie littekens te laat nie.

Beveg dit so

Die eerste stap is natuurlik om jou kind so ver moontlik teen die siekte te probeer beskerm. Daar is geen inenting teen HVMS beskikbaar nie, maar omdat dit dikwels deur aanraking versprei word kan ’n goeie handewas-roetine baie help om verspreiding te beperk.

Maak dus seker jul huishouding en jou kind se kleuterskool het ’n baie goeie handewasroetine. Omdat die virus ook deur stoelgang versprei, is goeie toilethigiëne net so belangrik – onthou dus om altyd jou hande te was ná baba se doekruiling.

As daar reeds gevalle van HVMS by jul kleuterskool is, is goeie higiëne van die uiterste belang. Omdat mense sonder simptome die siekte kan oordra, sal die meeste kleuterskole nie juis kleingoed met HVMS verbied om skool toe te kom nie, want dit sal nie noodwendig die verspreiding van die siekte keer nie.

Maak wel seker hulle was alle oppervlakke, eetgerei en speelgoed by die kleuterskool deeglik met seepwater en ontsmet dit daarna deur dit met ’n bleikmiddel opgelos in water te was. Leer kinders om weg van maatjies in hul hande te hoes en dadelik hande te was nadat hulle gehoes het.

As jou kind die siekte het, meld dit dadelik by die juffrou aan sodat sy ander ouers kan vra om op die uitkyk vir simptome te wees.

Die behandeling

Hoewel HVMS gewoonlik nie ernstig is nie, is dit altyd ’n goeie idee om jou kind dokter toe te neem om die diagnose te bevestig.

Daar is nie spesifieke medikasie vir die siekte beskikbaar nie (antibiotika sal nie help nie, tensy die blasies ontsteek het), en behandeling word dus meestal voorgeskryf om die simptome te verlig. Jou dokter kan dus ’n koors-en-pyn-middel voorskryf, of ’n salfie of mondsproei vir die seertjies. Medisyne kan ook gegee word om sekondêre infeksie te voorkom.

Neem jou baba dadelik dokter toe as hy jonger as drie maande is en ’n koors van meer as 37,8 grade C het, of as
dit lyk of jou kind ontwater. As hy ontwater het of as ontwatering dreig, sal hy in die hospitaal opgeneem word vir binneaarse vogbehandeling. Antibiotika kan dan ingespan word om komplikasies soos ontsteking van die spesifieke plekkies te voorkom.

Maak seker dat jou siek kind genoeg vloeistowwe inneem, al is dit seer om te sluk, sodat hy nie ontwater nie. Vermy lemoensap en sout kos wat die seertjies in sy mond nog meer kan laat brand. Hy kan ook in hierdie tyd sagter kos soos jogurt verkies, maar vermy piesangs – dit bevat ’n ensiem wat die stukkende plekke kan irriteer.

Moenie die blasies stukkend maak nie – dit verhoog die gevaar van infeksie. Sorg ook dat hy nie aan die seertjies krap of peuter nie omdat dit ook die risiko vir bakteriese infeksies verhoog.

Gee hom aparte eetgerei en beperk soentjies en drukkies met ander kinders in die gesin.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters