Herken die uitslag

Babamasels (Roseola infantum)

Jou kleinding is vir dae knieserig met ’n skielike koors van tot 40 grade. Op die 3de dag verdwyn die koors en hy lyk heel gesond, maar dan verskyn ’n ligte pienk uitslag (dit kan soos kant lyk) op sy nek en bo-rug en versprei na sy romp en ledemate: hy het dalk babamasels.

Kinders van 6 tot 24 maande kry dikwels dié matige virusinfeksie, maar is gelukkig meer ongemaklik as skadelik. Die uitslag kan sowat 4 dae bly, met effense swelling om die oë en vergrootte limfkliere agter die kop.

Behandeling: Die toestand verbeter sonder behandeling. In uitsonderlike gevalle kan koorsstuipe voorkom. Koorsstroop kan gegee word om dit te voorkom.

Duitse masels

Duitse masels (ook bekend as Rubella) is ’n minder ernstige virusinfeksie vir kinders, maar uiters gevaarlik vir ’n ongebore baba sou ’n swanger vrou dit kry. Dit begin gewoonlik met matige koors en geswolle limfkliere agter in die nek of agter die ore, gevolg deur ’n ligte pienk of rooi kolletjie-uitslag wat kan saamvloei om groter gekleurde kolle te maak.

Die uitslag begin op die gesig en versprei dan afwaarts. Namate dit versprei, sal die uitslag op die gesig verdwyn. Die uitslag kan jeuk en sal sowat 3 dae voortduur. As dit opklaar, kan die vel afskilfer.

Behandeling: Dit sal gewoonlik self opklaar. Behandel koors met parasetamol.

Masels

Masels is ’n ernstige kindersiekte, wat afskop met ’n skielike hoë koors, knieserigheid, rooi, waterige oë, loopneus, ’n gehoes, en soms ook erge diarree by klein kinders, wat geleidelik vererger oor 3 dae.

Die maseluitslag begin as klein wit kolletjies op ’n rooi basis in die mond. Dis gewoonlik moeilik om te sien. Dan verskyn ’n rooi, kollerige uitslag gewoonlik in die nek of gesig en versprei verder oor die hele liggaam na sowat 2 of 3 dae. Hierna sal die koors sak en die uitslag verdwyn. Die vel kan ’n donker kleur ontwikkel en effens skilferig raak.

Een uit 10 kinders met masels doen oorinfeksie of longontsteking op. Breinvliesontsteking is nog ’n komplikasie wat soms doofheid en verstandelike vertraging kan veroorsaak.

Behandeling: Parasetamol kan kleinding se koors help beheer. Antibiotika sal voorgeskryf word vir komplikasies.

Skarlakenkoors

Skarlakenkoors kom gewoonlik by kinders jonger as 4 voor. Jou kind kan kla van hoofpyn, seer keel, maagpyn en sal ’n hoë koors hê. Ná 2 tot 3 dae verskyn ’n uitslag: eers in die armholtes en lieste, dan op die romp en ledemate. Sy velvoue sal donkerder rooi vertoon en sy wange erg rooi. Sy mond is bleek.

Sodra hy beter word, kan die gesig, hande en voete, en die lyf effens afdop. Op sy tong is eers ’n wit lagie, en later word dit bloedrooi.

Behandeling: Skarlakenkoors kan gevaarlik wees as komplikasies intree: jou kind sal antibiotika moet kry; neem hom dadelik dokter toe. Gee parasetamol vir koors en pyn. Hou haar weg van ander tot die uitslag verdwyn.

Gordelroos

Met gordelroos sal ’n groep kolletjies tipies aan een kant van die lyf voorkom, en later verander in blase wat kan bars en rou plekke kan vorm. Soms sal die kind vooraf, tydens en agterna pyn ervaar. In uitsonderlike gevalle kom gordelroos, veroorsaak deur die herpes zoster-virus, by ’n oog of oor voor.

Behandeling: Kinders raak selde erg siek van gordelroos. Verlig pyn met parasetamol. Wit littekens kan agterbly.

Hand-voet-en-mondsiekte

Die eerste simptome van hierdie virussiekte is dat jou kleinding onwillig raak om te eet en seertjies op sy tong of in sy mond kry. Hierna sal witterige blasies op sy hande (ook die palms) en voete (ook die sole) verskyn. Dit sal na sowat ’n week opklaar. Die siekte kom gewoonlik in die somermaande voor.

Behandeling: Dis slegs ’n ligte infeksie. Geen behandeling is nodig nie.

Ekseem

Ekseem is ’n versamelnaam vir inflammasie van die vel wat rooi en skilferig vertoon en baie erg jeuk en kom gewoonlik voor by families met ’n geskiedenis van allergieë.

Ekseem by babas kan enige plek op die lyf voorkom, behalwe die doekarea. By ouer kinders is dit algemeen in die velvoue, soos agter die knieë of in die buig van die arm. Die algemeenste vorm is atopiese ekseem. Dit begin met ’n droë vel en dan verskyn rooi, jeukerige kolle. Omdat ekseem baie jeuk, kan dit jou kind knieserig maak.

Ekseem kan verdwyn en weer terugkeer, deels afhangende van snellers waarop die vel reageer. Snellers kan wissel van kosse, tot temperatuurwisseling, badseep en waspoeiers.

Behandeling: Daar is nie ’n geneesmiddel vir ekseem nie, maar dit kan beheer word met behandeling, van hidrokortisoonrome tot basiese voorkomende aksies tuis. Besoek ’n dermatoloog wat spesialiseer in ekseem.

Sproei

Sproei is ’n swaminfeksie wat gewoonlik binne die mond of op die boudjies voorkom. In die mond veroorsaak dit wit kolletjies en op die boudjies vorm dit rooi, opgehewe knoppies.

Behandeling: ’n Swamwerende salf. Praat met jou apteker of dokter.

Vyfde siekte

Jou kleinding kan helder rooi wange ontwikkel, soms met ’n koors, gevolg deur ’n loop neus en hoes, dan ontwikkel ’n rooi, kollerige uitslag wat aan puisies kan herinner of ’n tipe kant-effek het en later van die lyfie na die ledemate versprei. Dit kan effens jeuk.

Dit verdwyn na sowat 1 tot 3 weke. Jou kind kan soms koorsig wees, en dikwels is daar geen ander simptome nie. In sommige gevalle is daar gewrigspyn of hoofpyn voor die uitslag verskyn.

Behandeling: Behandel koors waar nodig met parasetamol.

NB: GEVAARLIK! Meningokokkus-infeksie

Jou kind kan simptome soos hoofpyn, koors, vinnige asemhaling en ’n stywe nek ontwikkel en ook opgooi. Hy kan verward voorkom en stuiptrekkings kry.

Die uitslag sal begin as ’n paar verspreide rooi kolle, amper soos rooi speldprikke, wat later vergroot en donkerpers raak sodat dit soos kneusplekke lyk. Dit kan enige plek op die lyf verskyn. Jy sal dit kan onderskei van ander vorms van uitslag deurdat dit nie wit raak as jy daarop druk nie, maar pers bly.

Behandeling: Kry jou kleinding onmiddellik by ’n dokter – dis ’n lewensgevaarlike siekte en kinders kan binne ure daarvan sterf.

Waterpokkies

Waterpokkies begin met ’n paar rooi kolle of knoppe wat verwar kan word met insekbyte. Oor die volgende paar dae vermeerder die kolle en die eerste kolletjies vorm waterige blasies. Teen dag 4 begin die eerste blasies ’n rofie vorm. Teen dag 7 behoort die meeste kolletjies rofies te hê.

Jou kind kan in dié tyd koorsig wees. Dit jeuk erg. Sodra alles rofies gevorm het, is dit nie meer aansteeklik nie.

Diagnose-wenk: Sodra die kolle verskyn, trek ’n kring daarom. As dit ’n dag later ’n blasie gevorm het, is dit waterpokkies.

Behandeling: Verlig die gejeuk deur kalamynmelk aan te smeer. In ernstige gevalle, klop aan by jou dokter.

Galbulte

Galbulte is ’n allergiese reaksie, en kan veroorsaak word deur enigiets van medikasie, gras tot inwendige parasiete. Dis gewoonlik jeukerig en lyk soos hitte-uitslag, maar kom in stroke voor, gewoonlik op die romp, maar soms op die ledemate.

Dit kan groot of klein wees en vorm gedeeltelik rooi en velkleurige knoppe. Individuele galbulte kan verskyn en verdwyn.

Behandeling: Keer dat jou kind dit krap. As ander simptome getoon word soos moeite om asem te haal, kry mediese hulp.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters