Pouse is vir peusel

Gesonde kosblikke moet vier boustene hê: ’n stysel soos brood, beskuitjies of pitabrood wat energie verskaf; proteïene soos grondboontjiebotter of suiwelprodukte om die liggaam gesond te hou en te help herstel; vrugte of groente vir vitamiene en minerale; en ’n vloeistof soos verwaterde vrugtesap of melk, maar verkieslik water.

Veral as jy net een keer per week by die winkel kom, moet jy jou kind se kosblikke vir die week vooruit beplan, anders sit jy dalk Donderdag en Vrydag met jou hande in die hare omdat al jou vars kos op is.

Gesels gerus met jou kind oor wat sy graag speeltyd wil eet, en vra ’n bietjie uit oor wat die ander kinders bring.

Wat smeer jy op die broodjie?

- Grondboontjiebotter, Marmite, vissmeer, maaskaas, kaassmeer of gerasperde kaas en koue vleis is alles goeie opsies.
- Probeer om waar jy kan ekstra vrugte en groente in te werk. Piesangskyfies is lekker saam met grondboontjiebotter, en tamatie, komkommer en kropslaai is lekker saam met kaas of koue vleis.
- Kies saadbrood of saadrolletjies, want dis gesonder as witbrood en hou daardie magie langer vol.

Vrugte & groente

- Kies ’n lekker ryp seisoenvrug en draai dit mooi toe sodat dit nie teen pouse gekneus en pap is nie.
- As jy die vrug klaar afskil en opsny, is die kans baie groter dat jou kind dit sal eet. Druk net ’n bietjie suurlemoensap daaroor uit sodat dit nie bruin word nie.
- Repies wortel en komkommer, klein tamaties, babamielies en soet, krakerige suikerertjies is ook gewild onder die kleingoed.
Die brood is op. Wat nou?

- Sorg dat jy altyd ’n paar van die volgende in die spens het: veselbeskuitjies (digestive biscuits), hawerkoekies, ontbytgraanstafies en vrugtestafies sonder suiker, Provitas en ryskoekies.
- In die yskas sal mozzarella-, Kiri- of Laughing Cow-kaasblokkies lank hou.
- Hou klein veselryke kolwyntjies en klein pitabrode in die vrieskas.
- Maak ook jou eie bak met gemengde neute en sonneblomen pampoensade waarby stukkies droëvrugte of rosyntjies gesnipper is.
- Mieliepitte kan soggens blitsvinnig in springmielies verander word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters