Verstaan jou tasdefensiewe kind

Hoe beter jy verstaan wat jou kind ervaar, hoe beter sal jy haar kan ondersteun. Maar beteken ’n tasdefensiewe diagnose jy moet toegee aan al jou kind se eise oor die goed wat haar irriteer? Of moet jy haar help om daarby aan te pas?

Kies versigtig waar jy haar moet akkommodeer en waar nie, is Annemarie se raad.

Klere is gewoonlik ’n groot kwessie. As jy jou kind se klere-etikette moet afknip omdat dit haar irriteer, doen dit – maar nie uit die staanspoor nie. Laat sy dit eers met die etiket dra en knip dit net af as sy daaroor kla.

Ouers word vinnig deur hierdie gedrag ingesuig en sien die probleem dan vooruit nog voor dit werklik daar is. Dis dán dat hulle oorbeskermend word, wat die saak eintlik erger maak. Tasdefensiewe kinders het hierdie ervarings nodig, en die geheim lê in balans.

“Gee jou kind wat sy kan verdra en probeer om haar elke keer ’n klein bietjie in die regte rigting du – maar nooit oor die afgrond nie, want dan is dit oorlog en vir niemand pret nie,” sê Annemarie. Sy deel die volgende sleutelriglyne:

1. Verstaan dat tassensitiwiteit vir jou kind baie werklik is. “Wees sensitief en geduldig, maar moet haar nie oorbeskerm nie.”

2. Moedig jou kind aan om met verskillende teksture te speel of dit aan te raak wanneer sy gevoer, uitgerus, ontspanne en in ’n goeie bui is. Sy vind hierdie aktiwiteite ekstra moeilik en jy moet haar dus sagkens aanmoedig.

3. Besef dat klere vir jou kind ’n kwessie is en verlaag jou standaarde. Pienk en rooi pas by mekaar en as jou kind van ’n spesifieke kledingstuk hou, koop 10 daarvan.

4. Jou kind sal naatlose sokkies en sagte katoen verkies, neem dit dus in ag wanneer julle klere koop.

5. Vermy groot groepe mense en fisieke kontaksport as jou kind dit nie geniet nie – dit gaan net jou kind totaal buite beheer laat voel.

6. Moet haar nie saggies aanraak of kielie nie. Ferm aanraking laat die brein bedaar en stel jou kind gerus. Ligte aanraking lei baie vinniger tot vrees of ’n veg-of-vlugreaksie.

7. Maak seker jou kind het haar eie stil ruimte en genoeg tyd op haar eie sonder die inmenging van haar boeties en sussies of ander mense.

8. Troeteldiere is uitstekende maats vir tassensitiewe kinders omdat dit hulle van ’n taservaring voorsien wat buitengewoon vertroostend en nie-bedreigend is, en wat hulle in staat stel om op hul eie voorwaardes interaksie te geniet. Katte is ’n beter plan as honde omdat honde soms te besig is en lek, maar tog ook goeie blootstelling bied.

Só help jy jou kind 

Gee jou kind soveel moontlik taservarings en -speletjies, is Annemarie se raad. Hier volg ’n paar lekker idees:

1. Laat haar badtyd verskillende soorte seep (skeerroom, roomseep, growwe seep) gebruik en wassponsies van verskillende teksture (waslap, spons, borseltjie).

2. Vul ’n groot skottel met water en speelgoed en sit dit buite op die gras neer. Die uitmeet en oorgiet van water is uitstekend vir die ontwikkeling van die tasstelsel.

3. Vingerverf: Moedig haar aan om haar vinger of toon in die verf te druk, maar moet haar nie dwing nie. Meng ’n bietjie sand by die verf vir ’n ander tekstuur-ervaring. Of verf met grondboontjiebotter, skeerroom en kitspoeding op ’n skinkbord.

4. Begrawe speelgoed in die sandput en laat haar daarna soek, of steek dit weg in ’n skottel droëboontjies, pasta of rys.

5. Bak saam modderkoekies of maak saam tuin.

6.  Laat haar ’n troeteldier streel of die hond borsel.

7. Draai haar styf toe in ’n kombers of mat – dit verskaf diepdruk en is gewoonlik heerlik.

8. Maak ’n menstoebroodjie: Laat die “ham” (jou kind) met haar gesig na onder op die “brood” (kussing of mat) lê. Haar kop moet bokant uitsteek. Smeer kastig tamatiesous op met ’n spons, borsel of verfkwas. Gebruik ferm, afwaartse hale. Bedek jou kind van nek tot toon met nog ’n stuk “brood”. Druk nou ferm op die tweede kussing of mat.

9. Vryf haar rug opwaarts met ferm, diep hale.

10. Verf haar gesig met maklik afwasbare gesigverf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters