Baba eet te veel

Vraag:

My baba is nou vyf maande oud en het pas met vaste kos begin. Hy eet die meeste kossoorte reeds sonder enige probleme. Kan ek nou dadelik begin om jogurt, melk, kaas en neute te gee?

Antwoord:

Baie ouers is senuweeagtig om vir jong kinders kos te gee wat berug is vir die allergiese reaksie wat dit kan veroorsaak. Tipiese kos-allergene (kosse wat allergieë veroorsaak) sluit in vis, eiers, gluten, graan, soja, neute en koeimelk.

In die verlede was die aanbeveling dat ’n mens moet wag met die bekendstelling van moontlike allergene om die gevaar van ’n kosallergie te voorkom.

Maar nou het die Amerikaanse akademie van pediatrie hierdie aanbeveling verander nadat navorsing gewys het die laat bekendstelling aan allergene het nie ’n invloed op die gevaar dat ’n jong kind uiteindelik ’n voedselallergie sal ontwikkel nie. Die nuwe riglyne is dus gekant teen laat bekendstelling.

Laat bekendstelling kan trouens uiteindelik meer skade as goed aanrig. Daar is byvoorbeeld ’n verband tussen die bekendstelling aan gluten ná nege maande en latere gluten-onverdraagsaamheid en tipe 1-diabetes. Die huidige riglyne vir die bekendstelling van allergene is:

  • Vanaf ses maande: soja
  • Ses tot nege maande: gluten, graan, vis, sitrusvrugte, eier
  • Ná 12 maande: heuning en koeimelk (as drankie)
  • Ná drie jaar: Heel neute en sade, as daar ’n familiegeskiedenis van ekseem en asma is. Kinders kan natuurlik ook verstik as hulle te klein is waneer hulle neute en sade inkry.

Wees wel versigtig as jou kind in die verlede ’n allergiese reaksie getoon het wanneer allergene by die dieet ingesluit is. Babas met ’n reeds bestaande allergie word nie deur die riglyne hierbo gedek nie en het individuele raad nodig.

Wanneer jou kind aan enige nuwe voedselsoort bekendgestel word, moet dit een op ’n slag en in klein hoeveelhede geskied.

Begin ’n nuwe voedselsoort en wag drie dae voor jy ’n nuwe een bekendstel. Dit kan soms dae duur voor jy ’n allergiese reaksie sien.

As jy nog borsvoed, probeer daarmee volhou terwyl jy allergene aan jou seuntjie bekendstel, aangesien die borsmelk ’n beskermende uitwerking het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters