Breinkos

Vraag:

Watter kos kan ek my baba van ses maande voer om te verseker dat sy eendag slim is? Sy drink sedert geboorte slegs borsmelk en ek gaan haar eersdaags vaste kos begin voer. Ek wil ook met die borsvoeding voortgaan solank ek kan.

Antwoord:

Hoe ons dink, optree en leer word nie net beïnvloed deur wat ons eet nie, maar ook deur die bereiding van die kos, hoe en wanneer ons eet en die kombinasie van kossoorte in ’n maaltyd. Volg die riglyne hieronder wanneer jy jou kind aan vaste kos bekendstel en sluit die verskillende groepe in wanneer sy daarvoor gereed is.

Koolhidrate Die brein gebruik 20 persent van die liggaam se koolhidraatvoorraad. Die beste koolhidraatbronne vir die brein is komplekse volgraan-koolhidrate wat ’n lae glisemiese indeks het en natuurlik is: patats, bruinrys, mielies, quinoa, gort, bokwiet, hawermout, vrugte, groente, semels en peule.

Gee elke twee tot drie uur gesonde kos: Gereelde maaltye en versnaperinge tussenin hou die bloedsuiker en toevoer na die brein konstant.

Hoëgehalte-proteïen Proteïen verskaf noodsaaklike aminosure, wat ’n rol speel in die vervaardiging van senu-oordragstowwe (biochemiese boodskappers) in die brein. Sterk boodskappers dra goeie boodskappe.

Goeie bronne is seekos, soja, vleis, eier, suiwelprodukte, neute, sade en peule. Kombineer hoëgehalte- proteïene en koolhidrate saam in een maaltyd.

Gesonde vette Die brein groei in die eerste jaar verskriklik vinnig. Die hoeveelheid en gehalte vette wat jou baba inkry, kan haar breinontwikkeling beïnvloed.

Die belangrikste breinontwikkelingsvette is DHA (dokosa-heksaenoïese suur) en omega 3’s. “Slim” vette is te kry in sardyne, salm, tuna, lynsaad, kanola, soja, avokado, olywe, olyfolie en neute. Vermy versadigde en transvette.

Kalsium is belangrik vir die beendere en die brein.

Vesel beïnvloed nie die brein regstreeks nie, maar dra by tot die beheer van bloedsuiker en hoe ander voedingstowwe die brein beïnvloed.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters