"Ek kan nie haar naam sê nie": Emma van der Merwe se verhaal

Ons het n prinsesdogtertjie van 4 en 'n half maande. Elke keer as ek na haar perfekte lyfie kyk, is daar 'n traan van trots en nederige dankbaarheid wat oor my wang wil loop.

Sien, die jaar was nie 'n maklike een nie. Niks daarvan het verloop soos ons gehoop het nie. Nou eers, wanneer sy teen my bors lê en rustig slaap, besef ek hoe gelukkig ons eintlik is.

Ons was ekstaties om uit te vind ek is swanger. Ons is skoolliefdes en al 5 jaar getroud en het regtig gevoel ons is nou reg vir die uitdaging van ouerskap.

In Mei van 2015 het ek 'n knop gevoel terwyl ek grimering aangesit het. Ek is na die dokter toe nadat dit na 'n week nie weggegaan het en hy het heel rustig gese hy dink ons moet verder laat kyk, maar dat hy 'n oorversigtige dokter is en nie dink dit is eintlik enigeiets om oor te bekommer nie.

Ek moes gaan vir 'n sonar en nadat dit abnormaliteite gewys het, is ek gediagoseer met Hasimoto se siekte. Dit was ongelukkig nie al nie. Daar was 'n suspisieuse knop waarvan hulle die vog moes trek met 'n naald in my nek.

Vreesbevange het hul dit toe helaas in Desember gedoen. Ons moes dit bly uitstel agv oormatige bloedvate in die area - ek sou eenvoudig te veel bloei. Teen die tyd was ek toe al swanger en amper in my tweede trimester.(Ons het mos gedink die aspirasie is bloot prosedure, daar sal niks fout wees nie, ek is so gesond!)

Die dokter het my darem beloon met 'n vinnige sonar van baba na die aspirasie. Ons vrolikheid was egter van korte duur.

Die uitslae het Kanker-agtige selle bevat en ek moes dringend ingaan vir 'n operasie om die helfde van my skildklier te verwyder. Die vrees vir my baba was onbeskryflik. Maar wat maak mens, jou baba moet tog 'n ma hê.

Die herstel na die operasie was hel. Ek kon nie sluk of praat nie, en kon nie sterk pyn medikasies neem agv my swangerskap nie.

En toe kom die bevestiging - ek het skildklierkanker. Nie die beste nuus om te hoor die week voor Kersfees nie. Dit het ook beteken dat ek 'n verdere operasie moes ondergaan om die oorblywende deel van my skildklier te verwyder.

Met gemengde gevoelens het ons die goeie en slegte nuus die Kersfees aan familie gebreek. Dit was 'n bittersoet tyd. Deurentyd het die vreugde van die swangerskap ons deur die moeilike gekry.

Die tweede operasie vroeg Januarie was nog erger.  My stembande is beseer tydens die operasie (dit is n moontlikheid met die tipe operasies is ons gewaarsku) en ek kon geen klank maak nie. Met ondersoek is bevind dat albei my stembande verlam is. Niemand kon my sê of ek ooit weer sal kan praat nie. Dit was 'n 'wag en kyk'.

Ek het in vele spraakterapie sessies 'n stil traan laat gaan - my baba kan dan nou al hoor, maar ek kan nie haar naam sê nie. Emma. Net dit. Dit was al wat ek wou sê. Maar dit wou net nie uitkom nie.

Na maande se frustrasie, het my stem bietjie bietjie teruggekom. Elke keer as ek moed wou verloor, het ek net gedink aan my babadogtertjie en weer probeer. Tot my stem op n dag weer teruggekom het.

Ek raak steeds vinnig moeg agv sekere spiere wat nie reg werk, en my nies en hoes klink baie vreemd, maar ek kan 'Emma' sê. Ek kan weer oor die telefoon praat. Ek was sò dankbaar.

Oor my swangerskap kon hul nog nie bevestig dat ek kankervry is nie. Die medikasie sou my laat aborteer. En dit sou ek nie laat gebeur nie.

Emma het ons toe boonop verras deur haar verskyning te maak op 33 weke. Ek het nog rustig gewerk die dag en net n voorgevoel gehad dat ek moet kraamsaal toe dat hulle haar monitor. Ek weet nou dit was God se stem wie my gelei het. As ons nie gegaan het nie sou Emma 'n stilgebore gewees het. God was ons genadig.

Almal wie al 'n baba in die Neonatale Intensiewe Sorg Eenheid gehad het sal weet, dit is nie iets wat mens jou vyande toewens nie.

Na die noodkeiser moes ek 9 dae wag voor ek haar lyfie kon vashou en 4 weke voor sy saam met ons kon huis toe. Om sonder jou baba ontslaan te word is harverskeurend. Maar die alternatief sou veel erger wees.

En nou, met my 4 en 'n half maande oue baba in my arms, kan ek terugkyk en weet ek is hierdeur gedra. Deur my ongelooflike man, familie, deur vriende, deur God.

Ek het 'n Facebook bladsy begin met artikels oor Premature Babas. Dit het my so baie gehelp om te weet ons is nie alleen nie. Die bladsy help my om deur my gevoelens te werk. En as ek net een mamma help, is ek gelukkig.

Ek moet vir my verdere toetse gaan na my en Emma se borsvoedpad klaar is. Maar ek het goeie moed. Ek is n sterker mens as wat ek gedink het. God het gedink ek kan dit hanteer. Sommige dae het ek gedink Hy was laf om so te dink. Nou kan ek sien dit was my stukkie pad wat ek moes stap. Miskien sal my storie ander help om te sien hulle is ook sterker as wat hulle dink. Dat mens kan Kanker, operasies, komplikasies en 'n premature baba hê en gelukkig wees daarna. Rustig wees. En so so dankbaar.

Baie liefde,
Melanie Van Der Merwe 

As jy enige stories het wat jy graag met ons wil deel, stuur dit aan web@babaenkleuter.co.za

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters