Het my kind wurms?

Vraag:

Ons hond het onlangs kleintjies gekry en my 12 maande oue dogtertjie speel gereeld tussen die klomp hondjies. Ek is bang vir wurms. Van hoe vroeg is dit veilig om ’n kind te ontwurm? Is sekere middels beter as ander? Hoe gereeld moet ’n mens jou kind laat ontwurm as jy troeteldiere het?

Antwoord:

Wurms is ’n algemene infeksie by kinders in Suid Afrika. Dit kan heelwat probleme veroorsaak, soos diarree, inwendige bloeding met ystergebrek-anemie, groei-inkorting en in uiterste gevalle neurologiese probleme.

Dit is daarom noodsaaklik om kinders gereeld te ontwurm en die aanbeveling is dat ontwurmingsmedikasie van ’n jaar oud af elke vier tot ses maande gegee word.

Daar is twee soorte: mebendasool en albendasool. Albei is veilig en doeltreffend. Albendasool word as ’n 200 mg-dosis van een tot twee jaar gegee, en daarna as 400 mg tot vyf jaar oud. Mebensasool word as ’n dosis van 500 mg van een tot vyf jaar oud gegee.

Dis in stroop- en pilvorm te kry. Die pille kan fyn gemaak en met water gemeng word om ’n pasta te vorm wat jy vir jou kind voer. Die stropie moet alles op een slag gegee word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters