10 slaapprobleme opgelos!

Genoeg slaap is vir kinders (en hul ouers) net so belangrik soos gesond eet. ’n Gebrek aan dié wondersoete ding maak almal van ons prikkelbaar. Daarom is dit belangrik dat jy slaapprobleme vroeg identifiseer en iets daaraan doen.

Maar wat is ’n slaapprobleem en hoe pak jy dit aan?

Slaapspesialiste onderskei tussen dissomnie, wat verwys na probleme om aan die slaap te raak en te bly, en parasomnie. Laasgenoemde word gekenmerk deur abnormale gedrag of fisiologiese gebeurtenisse tydens slaap of die oorgang tussen slaap en ontwaking.

Vir die doeleindes van dié artikel verdeel ons slaapprobleme sommer in algemene slaapprobleme en spesiale slaapprobleme. In haar boek Koester jou kleuter beskryf Ann Richardson die volgende:

Algemene slaapprobleme

  • ’n Uitgerekte nagsêery of gevegte oor slaaptyd
  • Wakker word snags

Spesiale slaapprobleme

  • Nagmerries
  • Nagvrese
  • Slaapwandeling
  • Gepratery terwyl jou kind slaap
  • Kopstampery en wieg
  • Tandeknersery
  • Gesnork of swaar asemhaling

Wie diagnoseer slaapprobleme?

Dit is meestal pediaters wat slaapprobleme diagnoseer, en daarna word kinders na slaapspesialiste verwys wat ’n slaapstudie doen, sê dr. Chris Diffenthal, ’n pediater van Bloemfontein.

Slaapstudies word in die hospitaal of by die huis gedoen. Die slaapspesialis kyk dan na wat alles met die kind gebeur in die verskillende fases van slaap. Maar wanneer moet jy jou kind dokter toe neem?

As jy regmerkies ná ’n paar van hierdie verskynsels kan maak, het jou kind moontlik ’n slaapprobleem:

  • Jy bestee te veel tyd daaraan om jou kind te help om aan die slaap te raak.
  • Jou kind word verskeie kere gedurende die nag wakker.
  • Sy gedrag en bui word beïnvloed deur slegte slaap.
  • Jý verloor slaap as gevolg van jou kind se slaappatroon.
  • Jou kind se slegte slaapgewoontes het ’n slegte invloed op jou verhouding met hom.
  • Hy kriewel onophoudelik terwyl hy slaap.

Pak slaapprobleme só aan

1. 'n Uitgerekte nagsêery of gevegte oor slaaptyd

’n Kind wat met slaaptyd skielik honger is of liewer met dié of daai beertjie wil slaap, is bloot besig met ’n slim uitsteltegniek. Maar hoekom stry kinders so teen slaap? Stresvolle gebeure gedurende die dag kan ’n rede wees. Of miskien is jou kind net besig met nabetragting oor die dag. Dis veral algemeen onder kinders in die grondslagfase van skool

Wat kan jy doen?

Stel duidelike slaaptydgrense. Erken jou kind se gevoelens – sê byvoorbeeld jy weet sy wil hê jy moet by haar slaap, maar dat jy nie kan nie omdat jy ook dinge het om te doen. Stel ’n alternatief voor soos dat jy vyf minute lank by haar gaan sit en haar hand gaan vashou.

Speen haar dan geleidelik van hierdie gewoonte. Jy kan ook ontspannende musiek beproef. Fantasie en werklikheid lê in die kleuterjare baie na aan mekaar.

As jou kleinding bang is vir ’n monster, moet dit nie ignoreer nie. Voorkomend kan jy seker maak dat jou kind nie deur die dag of vroegaand televisieprogramme kyk wat nie vir haar ouderdom geskik is nie.

Waak ook teen kafeïendrankies, sjokolade en medikasie met stimulante kort voor slaaptyd.

2. Wakker word snags

Selfs al slaap jou kind deur, sal hy minstens vier tot vyf keer per nag wakker word. Die meeste van die tyd sal hy net roer, omdraai of roep, maar self weer aan die slaap raak. Kinders wat sleg slaap kan dít egter nie doen nie. Hulle het iemand nodig wat hulle streel of by hulle lê voor hulle weer diep kan slaap.

Wat kan jy doen?

As jou kind ’n bottel as vertroosting gebruik, moet jy dit staak en vervang met ’n bekertjie water wat jy langs sy bed kan los ingeval hy in die nag dors word. ’n Nagliggie kan ook gerusstellend wees wanneer hy wakker word. Dieselfde geld vir ’n slaapmaatjie soos ’n kombers of sagte speelding. Lees by spesiale slaapprobleme op die volgende bladsy meer oor wat jy kan doen as jou kind wakker word as gevolg van ’n nagmerrie of -vrees.

Spesiale slaapprobleme

Hierdie slaapkwessies is ’n perd van ’n ander kleur omdat dit kan lei tot aandaggebrek, prikkelbaarheid en hiperaktiwiteit.

3. Nagmerries

Kinders begin van omtrent vier jaar oud af nagmerries kry. Dié verskynsel, wat deel van normale slaap uitmaak en nie verband hou met enige spesieke emosionele probleem nie, kan aanhou tot jou kind agt is. Nagmerries vind plaas wanneer ons in ’n ligte slaapfase droom. Jou kleuter sal byvoorbeeld roep dat die leeu hom jaag, maar hy sal nie wakker word nie.

Wat kan jy doen?

Maak jou kind wakker en troos hom as jy hoor die droom ontstel hom baie. As hy gereeld nagmerries kry, skaf ’n dowwe naglig aan. Die goeie nuus is dat nagmerries verbygaan en kinders meestal nie nare droom onthou nie.

4. Nagvrese

Anders as met ’n nagmerrie, sal ’n nagvrees jou kind laat wakker word, meestal gillend. Só ’n kind lyk verskrik, sy hartjie klop vinnig en hy is dikwels ontroosbaar. Nagvrese kom voor in ’n diep slaapfase.

Wat kan jy doen?

Hou jou kind styf vas en verseker hom dat jy naby is. Navorsing toon dat nagvrese meer algemeen is onder kinders met ’n abnormale slaaproetine; soms is die oplossing dus om jou kind weer ’n middagslapie te laat neem. Wees ook bedag op watter stimulasie hy kort voor slaaptyd kry.

Sielkundiges stel ook voor dat ouer kinders tegnieke leer om hul nagvrese te tem. Dit sluit in dat hulle hulself verbeel hulle word na ’n gelukkige plek weggevoer. Jy kan hom ook sy vrese in die daglig laat teken. Laat hy daarna die papier opfrommel en weggooi.

5. Kopstampery en gewieg

Vyf tot 10 persent van kinders, veral seuns, stamp hul kop of rol rond voor hulle aan die slaap raak, sê Ann Richardson in Koester jou kleuter. Dit is meestal ’n normale deel van die kleuter se ontwikkeling wat behoort te verdwyn wanneer hy sowat vier jaar oud is. Kinders doen dit omdat die ritmiese beweging van hul liggaam hul senustelsel kalmeer.

Wat kan jy doen?

Vermy dit dat jou kleuter oormoeg word of vroegaand te veel gestimuleer word. As hy nie baie oefening kry nie, kan fisieke spel ook help. Spreek egter ’n dokter as jou kind se kopstampery en gewieg abnormaal voorkom, sê Chris.

6. Tandeknersery

Moet jou nie te veel bekommer as jou kind tande kners terwyl hy slaap nie. Al klink dit nie so nie, beïnvloed dit nie sy slaapgehalte nie.

Wat kan jy doen?

Omdat daar ’n verband tussen parasitiese infeksies (soos wurms) en tandeknersery is, kan jy jou kind laat ontwurm as jy gereeld die gekners van tande hoor.

7. Slaapwandeling

Dié verskynsel kom voor tussen agt en 12 jaar en veral wanneer ’n familielid dit ook doen of gedoen het. Tipies sal só kind regop in sy bed sit of in die huis ronddwaal met sy oë wawyd oop sonder dat hy enigiets sien. Slaapwandelaars mompel gewoonlik ook sinnelose dinge. Kinders wat hieraan ly, ontgroei dit gewoonlik in hul tienerjare.

Wat kan jy doen?

Naas die skep van ’n veilige omgewing – soos om versperrings voor trappe aan te bring – en om jou kind sagkens terug te neem na sy bed toe, is daar nie veel wat jy kan doen nie.

8. Snorkery of moeilike asemhaling

’n Gesnork is ’n simptoom van ’n wye reeks dinge, sê Chris. En al is allergieë dikwels die grootste sondebok, raai hy ouers tog aan om ’n pediater te raadpleeg as hul kind sleg slaap én twee of meer van dié probleme het:

? Snorkery
? Rustelose slaap
? Chroniese loopneus
? Asemhaling deur die mond as hy wakker is
? Gereelde verkoue of middeloorontsteking
? Gesweet terwyl hy slaap
? Swak eetlus
? Gesukkel om te sluk
? Oormatige vaakheid bedags
? Oormatig hiperaktiwiteit

As jou kind aanhoudend snork, is selfs net ’n enkele tydelike asemophouding genoeg rede om hom so spoedig moontlik by ’n dokter uit te kry, sê Chris.

Wat kan jy doen?

As ’n versperring in die lugweg die probleem is, is die verwydering van mangels en neusmangels die oplossing, afhangend van hoe ernstig die geval is. Gaan gesels met ’n oor-neus-keelspesialis daaroor. 

9. Bednatmakery

Nagtelike bednatmakery (ook enurese genoem) is sekerlik een van die algemeenste slaapprobleme by kinders tussen ses en 12 jaar. Syfers toon dat net 20 persent van kinders op vyf jaar oud droë nagte het.

Hoekom kinders bed natmaak, is nie altyd duidelik nie. Baie kinders wat hul bed natmaak sukkel bloot om wakker te word en op te staan wanneer hul blaas vol is. Soms is kinders se blaas effens kleiner as die normale grootte, wat beteken dat dit nie so baie urine kan binnehou nie.

Oorerwing kan ook die rede wees. As een of albei ouers bed natgemaak het, sal hul kind ook geneig wees om dit te doen. Onlangse navorsing toon ook dat baie kinders wat nie snags kan droog bly nie, kleiner hoeveelhede van die antidiuretiese hormoon (ADH) produseer. Hierdie hormoon help die liggaam om snags minder urine te produseer.

’n Tekort daaraan beteken die kind het meer urine in die nag as wat sy blaas kan hanteer.

’n Fisiologiese fout met die blaas is baie selde die rede. Dit is egter altyd ’n goeie plan om jou kind deur ’n uroloog te laat ondersoek, veral as hy:

? minstens ses jaar oud is en steeds sy bed natmaak,
? gefrustreerd is met sy bednatmakery, en
? ook gedurende die dag met blaasbeheer sukkel.

Wat kan jy doen?

’n Spesiale bednatmaak-alarm word as die doeltreffendste manier beskou om die probleem aan te pak. Medikasie, wat altyd eers met jou dokter bespreek moet word, is die tweede alternatief.

Intussen is dit belangrik om te weet dat bednatmakery nie ’n gedragsprobleem is nie en dat die meeste kinders geen langtermyngevolge oorhou nie. Baie is egter skaam daaroor.

10. Slaappratery

Sommige kleuters prewel in hul slaap. Frases soos “Ek kan nie!” of “Hou op!” is tipies. Dit is asof hulle iets onthou wat deur die dag gebeur het.

Wat kan jy doen?

Maak seker jy oorstimuleer nie jou kind voor slaaptyd nie. As jou kleutertjie besonder angstig is, is dit dalk wys om vas te stel of alles by die skool pluis is.

Dagslapies taboe of tops?

Baie ouers dink hul kleuter sal ’n beter nagrus hê sonder ’n dagslapie. ’n Middagslapie is egter dikwels noodsaaklik vir kinders onder vyf jaar. Selfs in die jaar dat hulle vyf word, het hulle soms nog een of twee keer per week ’n dagslapie – wat ’n uur of vyf kan duur – nodig om ’n slaapagterstand in te haal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters