Jou linkshandige in 'n regshandige wêreld

Wat het die kletskoningin Oprah Winfrey, akteur Tom Cruise, uitvinder en kunstenaar Leonardo da Vinci, wetenskaplike Albert Einstein en die Amerikaanse president Barack Obama gemeen? As suksesvolle linkshandiges het hulle gewys dat hotkloue nie ’n tree vir regshandiges hoef terug te staan nie.

Tog het jou linkshandige spruit unieke ontwikkelingsuitdagings. Kinders leer immers deur nabootsing en dit kan haar verwar om jou regse aksies na te boots. Dit verklaar waarom linkshandige kinders dikwels ekstra hulp nodig het in die vorm van arbeidsterapie.

Links of regs?

Volgens ’n onlangse studie is die hand wat jou 10 weke oue fetus in die baarmoeder verkies (sy waai daarmee en suig die duim van daardie hand) die een wat ook later in haar lewe voorkeur sal geniet.
Maar jou baba sal aanvanklik ’n voorwerp eenvoudig optel en hanteer met die hand wat die naaste aan die voorwerp is.

Die meeste kinders begin hul handvoorkeur tussen 13 en 18 maande wys, maar baie van hulle kan hierna steeds hul handgebruik so dikwels afwissel dat jy daaroor twyfel.

Dis eers teen omtrent vier jaar oud dat ’n kind se handdominansie goed vasgelê word en jy meer definitief kan sien of sy regs- of linkshandig is.

’n Maklike toets: Gee jou vierjarige ’n bottel om oop te draai. Die hand waarmee sy die draaiwerk doen is die oorheersende hand.

Hanteer jou baba so

  • Gee altyd vir jou baba speelgoed, eetgerei of kos in die middel aan, sodat sy self kan kies watter hand sy wil gebruik.
  • Gee jou kleinding ewe veel stimulasie aan albei kante. Doen dit deur haar ewe veel op albei sye neer te lê en bewertjies ewe lank aan albei kante van haar kot of stootwaentjie op te hang.
  • As jou kleinding begin vaste kos eet, sit die lepel in die middel van haar bordjie neer sodat sy self die hand kies waarmeesy skep.
  • Kry waar moontlik ’n linkshandige persoon om jou kleinding touwys te maak oor ingewikkelder take. Onthou, dit gaan nie net oor handgebruik nie, maar ook oor die regte liggaamsposisie.
  • As jy jou kind leer veters vasmaak, sit voor haar en wys hoe (nie langs haar nie).
  • Moedig haar aan met spreekwoorde wat haar linksheid spesiaal laat voel, soos “hoe linker, hoe flinker”. Dit sal negatiewe kommentaar oor haar “onhandigheid” help uitbalanseer.
  • Wees bedag daarop dat baie toerusting ontwerp is vir regshandiges en jou kind dus meer kan sukkel om dit te hanteer. Dit kan ’n invloed op haar selfbeeld hê. Jou kind sal moeilik netjies met ’n regshandige skêr knip omdat sy nie die kniplyn kan sien nie. Doen moeite om ’n linkshandige skêr aan te skaf.
  • As jou kind ’n skryftafeltjie moet deel, laat haar altyd links sit.
  • Probeer keer dat jou kind met ’n krom gewrig skryf of teken. Leer haar om die papier waarop sy skryf of teken só te plaas dat dit links van haar middellyn is en teen ’n hoek van sowat 30 grade lê, sodat die boonste regterhoek nader is as die boonste linkerhoek. Só sal sy nie haar werk smeer nie.

Links wees en skryf

Dis moeiliker vir ’n linkshandige om te leer skryf. Hoekom?

  • Omdat ’n mens van links na regs op ’n bladsy skryf, sal ’n linkshandige kind se hand sleep oor wat sy pas geskryf het sodat vetkryt, koki of pen smeer en slordig lyk.
  • Jou kind moet die potlood stoot as sy skryf, terwyl ’n regshandige dit trek.
  • Dit wat jou kind klaar geskryf het, word onder haar hand versteek.
  • Die meeste letters word van links na regs gevorm, wat teen ’n linkshandige se natuurlike vloei beweeg. Sy kan ook nie sien wat sy skryf nie. Dit het ’n invloed op haar hand-oog-koördinasie. Maak dus seker die onderwyseres weet hoe om die nodige aanpassings te maak vir jou kind se handvoorkeur. Daar is baie literatuur wat kan help.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters