Die waarheid oor jok

Kluitjies bak is ’n normale deel van grootword. Tog moet jou kind leer dat eerlikheid belangrik is. Hoe gaan jy dus te werk om die boodskap tuis te bring dat liegstories verkeerd is?

“Dis nie ek wat op die muur geskryf het nie; dit was sussie,” jok jou kind sonder om te blik of te bloos. Jý weet en sý weet dat dit nie sussie was nie, want sussie is ses maande oud, maar jou vyfjarige hou by haar storie.

Jou redenasies help niks en jy voel skielik soos ’n mislukte ouer, want hoe kan jou kind so staan en lieg terwyl jy nog altyd beklemtoon het hoe belangrik eerlikheid is? Sê nou dit word ’n gewoonte?

Wees gerus, byna alle kinders jok die een of ander tyd vir hul ouers, maats of onderwysers. Die rede is meestal om hulself te beskerm of om straf vry te spring, veral as hul ouers nogal kwaai is. Kinders wat gereeld sien hoe die volwassenes om hulle leuens vertel, sal ook meer geneig wees om self te lieg.

Wat sê ’n mens dus aan die klein muurkunstenaar wat alle aandadigheid ontken? Wees baie versigtig om nie aggressief of beskuldigend te wees nie, want dit sal jou kind net die leuen verder laat aandik om haar saak te versterk.

Om by ’n bekentenis uit te kom, gaan jy verby die leuen moet kom sodat julle kan praat oor wat aanleiding gegee het tot die leuen. Dit kan net gebeur as jy kalm bly.

As jy vir jou kind sê jy gaan haar straf weens die leuen, gaan sy dink sy word gestraf omdat sy uitgevang is. Volgende keer gaan sy net slimmer lieg om seker te maak sy word nie uitgevang nie.

Verduidelik eerder hoe jy oor die leuen voel. Sê dat jy seergemaak voel daaroor, en dat dit jou omkrap dat sy haar sussie in die moeilikheid wil bring en haar dus ook seergemaak het. Wanneer jy klem lê op die uitwerking van die leuen op ander mense, help dit veel meer om die kind se morele waardes te vestig.

As jou kind gereeld leuens vertel, moet jy mooi let op jou eie taalgebruik. Moenie vrae vra wat haar die kans gee om te jok nie. Gestel jy sien die sjokolade is weg en daar is sjokolade op haar gesig.

Moenie vra of sy dit geëet het nie (jy weet mos sy het), want sy gaan dan jok om uit die moeilikheid te kom. Sê eerder net “ek is teleurgesteld dat jy die sjokolade geëet het sonder om daarvoor te vra”.

Moet ook nie hamer op die blaam nie, maar soek eerder ’n oplossing. “Wat ook al gebeur het, die lamp is nou stukkend. Wat gaan ons daaromtrent doen?”

Leuens deur die jare

Ouderdom het beslis ’n invloed op die soort leuens wat kinders vertel. Baie jong kinders kan nie tussen fantasie en werklikheid onderskei nie en sal lekker wolhaarstories vertel. Eintlik dui dit net op ’n sterk verbeelding. Hulle vergeet ook baie vinnig. ’n Kind van twee wat iets ontken terwyl jy weet sy het dit gedoen, het heel waarskynlik werklik daarvan vergeet. Maar van so vyf af begin die gewete ontwikkel ...

5 tot 6 jaar

Van omtrent vyf jaar af kan kinders beter tussen fantasie en werklikheid onderskei. Hul gewete begin ontwikkel en daarom verstaan hulle dat sekere optredes hul ouers dalk sal teleurstel. Hulle begin skuldig voel oor dinge wat hulle verkeerd gedoen het.

Dis wanneer ’n kind ’n leuen sal vertel bloot om straf of sy ouers se misnoeë vry te spring. Andersins kan hy begin jok of geweldig oordryf om sy ouers se aandag te kry. As hy jok oor sy prestasies moet jy ’n bietjie nadink ... koester jy dalk baie hoë verwagtinge van hom? Laat jy ruimte vir foute en onvolmaaktheid? Hy jok dalk net om in jou guns te kom.

7 tot 8 jaar

Teen sewe of agt jaar kan meeste kinders baie duidelik tussen fantasie en werklikheid onderskei. Jy kan maar van hulle verwag om die waarheid te praat. Dié outjies jok meestal om straf vry te spring, of om iets onaangenaams te vermy.

Hulle begin ook wit leuentjies vertel net om beleef te wees. Hulle sal vir ouma sê hulle hou van die gebreide truitjie al is dit vir hulle lelik, of hulle sal ’n pluimpie gee en dit nie bedoel nie.

Soms vertel hulle ook leuens om ’n maatjie se onthalwe. Kinders wat regtig oorweldig voel deur die druk wat hul ouers op hulle plaas, sal ook jok. Dis wanneer skoolsiek ook kan kop uitsteek. 

Wat kan ouers doen?

Jy is jou kind se belangrikste rolmodel. Maak dus seker jy stel ’n goeie voorbeeld. Gesels ook dikwels oor hoe belangrik eerlikheid in die huis en wyer gemeenskap is.

Rolspeel ’n paar situasies met hulle waarin hulle dalk sou wou jok, en bespreek ander oplossings as jok.

Dink mooi oor watter wit leuentjies in jul huis aanvaarbaar is. Vra julle soms die kinders om oor hul ouderdom te jok om afslag te kry op toegangsgeld? Of moet jou kind soms oor die telefoon jok en sê dat jy nie tuis is nie?

As jou kind jou betrap waar jy jok, moet jy jou fout erken, maak nie saak hoe ’n goeie rede jy vir die leuen gehad het nie.

As jou kind se leuens ’n patroon vorm en hy oor baie belangrike dinge jok, of as hy teen alle rede in voet by stuk hou, kan jy dit oorweeg om ’n sielkundige te raadpleeg, veral as die leuens gepaardgaan met ander onaanvaarbare gedrag soos woedebuie of sosiale probleme. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters