Hoe hy skryf maak saak

(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba en Kleuter, Mei 2016, Bladsy 96) 

MOOI OF NET LEESBAAR?

Kenners reken dat daar vroeër jare baie klem was op die mooiheid van skrif, maar deesdae gaan dit meer daaroor om ’n kind se liefde vir skryf te ontwikkel. Daar is wel steeds onderwysers wat gesteld is op ronde, netjiese letters.

’n Mooi handskrif lok tog altyd positiewe reaksie uit en het beslis waarde. Dit moet egter nie oorbeklemtoon word en stres by ’n kind veroorsaak nie. Jou handskrif is maar een aspek van jou menswees. Leesbaarheid en netheid is die sleutelwoorde.

Jy kan werk kry wat nie so mooi is nie, maar tog netjies. ’n Kind moet uiteindelik leer dat iemand anders sy skryfwerk gaan lees, en dan moet daar darem orde en netheid wees.

DIS ’N PROSES

Jou kind sal eers met kleinlettertjies begin. Die letters word in ’n spesifieke volgorde geleer wat nie ooreenstem met die alphabet nie. Aanvanklik sal hy op skoon velle papier sonder lyne begin. '

Lees: Kind skryf snaaks

Daarna skryf hy op ’n grondlyn (onder) en later sal hy begin oefen om tussen twee groot lyne te skryf. Dit gebeur alles in drukskrif, want lopende skrif verg meer vaardighede van die klein spiere.

WAT HY LATER MOET KAN DOEN

  • Jou kind moet uiteindelik regdeur ewe groot kan skryf.
  • Die spasiëring tussen die letters enwoorde is belangrik. As dit nie ewe ver van mekaar af is nie, kan dit dui op ’n ruimtelike probleem.
  • Hy moenie te hard druk nie.
  • Let op na omkering van letters. Omkering kan dui op ruimtelike probleme. As dit ná die eerste kwartaal voortduur, oorweeg arbeidsterapie.
  • Letters soos o se sirkeltjies moet toemaak, anders is die sluiting onvoldoende.
  • Hy moet teen die linkerkant van die bladsy begin skryf. Indien die letters en woorde regs oor die bladsy skuins loop of jou kind net regs of net links op die bladsy skryf en nie die middellyn oorsteek nie, kort hy dalk arbeidsterapie.

WAT BEPAAL SY SKRIF? VAARDIGHEDE

Sy visuele vaardighede, hand-oog-koördinasie, liggaamshouding en begrip van sy liggaamsbeeld gaan uiteindelik bepaal hoe jou kind sy produk op papier sit.

POTLOODGREEP

Die vashou van die skryfinstrument is baie belangrik. As jou kind sy potloodgreep verkeerd aanleer, is dit baie moeilik om reg te stel. Dit ondermyn die gehalte van sy skrif en skryfspoed sodat hy dikwels take nie betyds afgehandel kry nie.

LETTERVORMING

Verkeerde lettervormingsmetodes kan tot omkering, verwarring, stadige spoed en slordige werk lei. Maak seker weet  self hoe en waar lettertjies moet begin voor jou kind wegspring met die inoefening van alfabetletters en syfers.

Lees: Groot skool, groot aanpassing

Mooi skryf is nie iets wat vanself kom nie. Om ’n handskrif mooi te kry, moet dit ontwikkel word.

OEFENING:

DWANG: As ’n linkshandige kind gedwing word om regs te skryf, gaan hy dit ook nie netjies kan doen nie.

AANDAGSPAN: As jou kind nie baie gemotiveerd is nie of ’n kort aandagspan het, kan hy sy skryfwerk so gou moontlik aframmel, ten koste van gehalte.

VREES: Vrees kan ook ’n probleem wees, veral as ’n onderwyser of ouer te veel druk op hom plaas.

SPIERE: Kinders met lae spiertonus kan met skrif sukkel, veral omdat hulle vinnig moeg word. Dit kan met terapie verbeter word.

HOE JY KAN HELP

Doen moeite om seker te maak jou kind vorm sy letters reg en vorder goed met sy skrif. Die belangrikste is dat jou kind veilig voel terwyl hy sy skryfvaardighede oefen.

Lees: Kweek n' boekwurm

HELP SO

  • Prys jou kind. Dis belangrik dat hy suksesvol voel. 
  • Daar is geen kortpad nie. Hy moet elke dag skrif oefen.
  • Maak seker sy groot motoriese vaardighede is op standaard deur hom genoeg klim- en kloutertyd te gee. Laat hom met tennisballe speel om sy hand-oog-koördinasie te versterk.
  • Oefen sy handspiertjies speel-speel. Sterk handspiere kweek uithouvermoë. Laat hom bladsye uit ’n telefoongids of ou koerante skeur en dit met een hand in ’n balletjie opfrommel. Daarna kan hy met albei hande tegelyk ’n papierballetjie in  elke hand frommel.
  • Laat hom patrone met dik vetkryt natrek.
  • Laat hom lettertjies met klei vorm.
  • Laat hom lettertjies sorteer – almal met ronde magies bymekaar, almal met steeltjies aan dieselfde kant bymekaar, ensovoorts.
  • Laat hom die klankies sê terwyl hy dit skryf. Gee hom meer as een betekenisassosiasie per letter, soos a vir appel en asblik. (Onthou om nie die alfabetname in grootmenstaal te gebruik nie, maar as klanke.)
  • Moenie sê letters is lelik of verkeerd nie. Begelei hom eerder en sê byvoorbeeld jy gee net ’n halwe sterretjie want die b se regopstrepie is mooi regop, maar sy ronde magie is te maer, en moedig hom aan om na ’n vol sterretjie toe te werk.
  • Leer die alfabetletters met ’n rympie aan, soos ’n a is volmagie, stamp sy kop, stamp sy voete.
  • Skaf aktiwiteitsboeke aan wat die beginpunte en rigting van letters in stippellyne aandui sodat hy dit oor en oor doen. Dit moet ’n gewoontebeweging word.
  • Hang ’n spogkaart teen jou kind se kamermuur op en plak sterretjies vir spoggerige skryfwerk daarop of stal sy skryfwerk in jou huis uit.
  • Keer terug na ’n dikker potlood as hy met sy potloodgreep sukkel. Sommige kenners beveel driehoekige potlode aan, maar nie almal is ten gunste daarvan nie.
  • As jou kind sukkel om te skryf, laat toets sy oë by ’n optometris wat in kindervisie spesialiseer. En onthou, 20/20-visie is nie altyd voldoende nie; daar kan ook ander oogprobleme wees.

Lees: Verbeter jou kind se geheue

SIT MOOI REG

1. Sit regop en reg voor die skryfvlak.

2. Die skouers moet ewe hoog wees.

3. Die rug kan effens gekrom wees, maar die borskas mag nie teen die tafelrand vasgedruk word nie.

4. Die oë moet nagenoeg 30 cm van die skryfoppervlak wees.

5. Die bene mag nie gekruis wees of om die stoelpote gevleg word nie.

6. Voete moet plat op die grond wees en nie vorentoe of agtertoe gestoot wees nie

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters