Hou die blink kant bo

Dis bewys dat mense met ’n sonnige geaardheid meer sukses in die lewe bereik, en selfs gesonder is as die swartgalliges onder ons. Optimiste leef ook langer en hanteer stres en teleurstelling beter. Dis mos iets wat ons vir ons kinders wil hê! Gelukkig kan optimisme aangeleer word, veral as jy vroeg begin.

Werk aan jouself

Wanneer jou baba nog klein is, het jy kans om te dink oor watter soort gesin julle wil wees, en dan so te begin leef. Jou baba voel jou gemoedstoestand aan. Kry dus hulp as jy met depressie sukkel, nie net om jou eie onthalwe nie, maar ook jou baba s’n.

Jou baba sal ’n gevoel ontwikkel dat sy wêreld ’n goeie plek is as daar in sy behoefte aan sekuriteit en veiligheid voorsien word. Tel hom op as hy huil en troos hom – jy kan nie ’n baba só bederfnie.

Groet hom soggens met ’n glimlag en maak van doekruilsessies ’n geleentheid om saam met hom te lag. Só ervaar hy ook dat jy sy versorging geniet. Speel trippe-trappe-trone op sy toontjies en blaas soentjies op sy maag.

Kruip en verken

Ouer babas is klein verkennertjies wat met alles wil eksperimenteer. Doen moeite om hom van die mooi van die lewe te leer terwyl julle die lewe saam verken – hy’s nou soos ’n spons wat houding en inligting leergierig opsuig.

Begin met hoe jy soggens groet. Al verstaan hy nog nie jou taal nie, verstaan hy wat jy met jou liggaamstaal en stemtoon oordra. Vertel hom wat ’n lekker dag dit gaan wees en watter lekker dinge julle gaan doen. Onthou, vir ’n baba is selfs doodgewone dinge ’n avontuur – of die son nou skyn of nie!

Wys hom hoe wonderlik die wêreld is. Gaan stap en lei sy aandag na die voëltjies, die bome in die tuin en enige
ander klein detail wat jou opval. Maak dit deel van jul roetine – hy sal begin uitsiendaarna.

Verseker hom van jou ondersteuning met hope drukkies en liefde, want hy verstaan nog nie alles wat jy sê nie. Beveilig jou huis en pak jou kosbare besittings weg sodat jy nie heeltyd vir jou baba nee hoef te sê nie.

Kleuter wat kan

Jou kleuter se leefwêreld is vol nuwe belewenisse. Vir party daarvan is hy reeds goed toegerus, maar die meeste van die nuwe dinge wat hy teëkom, behels dat hy iets moet leer. Dis harde werk om ’n kleuter te wees!

Moedig hom aan om uitdagings self aan te pak en prys hom as hy dit regkry. Wees spesiek met jou lof: “Jy het darem baie hard gewerk!” Waak egter teen oordrewe lofuitinge – dit kan bydra tot pessimisme. Dieselfde geld vir dissipline: Hou dit gerig op wat hy gedoen het, op die optrede wat verkeerd was, eerder as op hom as mens.

Moenie uit haastigheid en ongeduld takies oorneem wat hy eintlik self kan verrig nie. Dit ondermyn sy selfbeeld. Hy verstaan jou al goed en julle kan dus gesels oor dinge wat hom dalk pessimisties stem. Jy kan hom dus leiding gee en moed inpraat. Hou aan om ook jou liefde te wys met drukkies en soentjies.

Gesels met hom oor sy dag se gebeure, vind uit wat hom kwaad of hartseer gemaak het en plaas dit in perspektief. Wys uit dat sekere moeilike situasies net tydelik was, en help hom soek na ’n oplossing vir die volgende dag.

As jou kind wil moed verloor met iets, gee erkenning aan sy gevoelens: “Mamma sien jy sukkel om daardie vormpie in sy gaatjie te kry.” Maar herinner hom ook aan vorige suksesse: “Onthou jy hoe oulik jy almal gister ingekry het?”

Hou in gedagte dat jou kind eintlik meer leer deur jou voorbeeld as deur te luister na wat jy sê. Wees dus self optimisties oor die lewe. As jy die positiewe raaksien, sal jou kind dit ook begin raaksien. Soek rede in elke dag om vrolik te wees tot dit ’n gewoonte word. Sluit die dag af deur ’n bietjie te gesels oor alles wat lekker en mooi was.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters