Kan hy al Engels praat?

In ’n land soos Suid-Afrika is meertaligheid nie ’n luukse nie, maar ’n moet. Waarom? Want taalpatrone het in ons moderne tyd so verander dat ons nou verskillende tale nodig het om te kommunikeer eerder as net een taal, sê prof. Susan Coetzee-van Rooy van die Noordwes-Universiteit se skool vir tale.

Ons praat byvoorbeeld met ons ouers Afrikaans, met ons vriende Engels of Afrikaans en met die petroljoggie of kassier Engels of Sotho. Taal in die werkplek is merendeels Engels. As Afrikaanse kinders die werkplek dus suksesvol wil binnegaan, is goeie Engels onontbeerlik. Wanneer is dan die beste ouderdom waarop jou kind ’n nuwe taal kan beginleer?

Daar is twee maniere om ’n tweede taal te verwerf: gelyke tweetaligheid of opeenvolgende tweetaligheid, skryf die Nederlandse spraakpatoloog Sieneke Goorhuis op die webtuiste wij-leren.nl.

Gelyke tweetaligheid vind plaas wanneer ’n kind onder sewe jaar twee moedertale gelyktydig aanleer. Dit gebeur spontaan en nie formeel nie. So ’n kind bou van die begin af twee taalstelsels op.

Opeenvolgende tweetaligheid geskied wanneer ’n tweede taal van omtrent 10 jaar oud af geleer word (soms ’n bietjie vroeër en soms later). Dié soort taalverwerwing is gegrond op die proses van vertaling uit die moedertaal.

Kundiges stem nie saam oor watter soort tweetaligheid die beste vir jou kind is nie. Die een kamp sê gelyktydige tweetaligheid kan suksesvol gevestig word sonder dat die probleme skep. Die ander kamp waarsku dat kinders wat ’n tweede taal te vroeg leer, hul tale deurmekaarkry en sê dis beter om een moedertaal eers goed te vestig voor ’n tweede bygevoeg word.

Kamp 1 voel sterk: Begin so vroeg moontlik

Elke baba op die aardbol word gebore met die vermoë om 70 klanke te vorm, sê die leesterapeut Thea Müller. “Uit hierdie 70 klanke kan enige van die wêreldtale ontwikkel. Tussen drie en vier jaar oud verloor kinders egter die klanke wat hulle nie gebruik nie. Dis dus belangrik om hulle so vroeg moontlik aan meertalige klanke bloot te stel.”

Sommige kenners waarsku dat kinders wat van dag een af twee tale hoor taalagterstande kan hê, maar Sieneke sê hulle is verkeerd. Daar is egter spesieke riglyne wat ’n mens moet volg as jy gelyktydige tweetaligheid wil laat werk.

Een van die belangrikstes is dat dieselfde taal in dieselfde situasie gebruik moet word. Gestel jy is Afrikaans en jou man Engels, is dit dus nodig dat julle elkeen konsekwent jul eie taal met jul kinders praat en dat jy nie sommer na Engels oorslaan as jy so voel nie.

Dis ook belangrik dat julle jul onderskeie moedertale goed praat. Dit moet dus gehaltetaal en gehalte-gesprekke wees, sê Sieneke. Daar is drie situasies waarin ’n kind gelyktydige tweetaligheid suksesvol kan baasraak, sê sy:

  • Jou kind koppel ’n bepaalde taal aan ’n bepaalde mens, soos Afrikaans aan jou en Engels aan jou man; of Afrikaans met julle en Zoeloe aan sy oppasser.
  • Hy verbind die taal met ’n spesieke situasie, soos Afrikaans by die huis en Zoeloe wanneer hy saam met sy oppasser saam met sy oppasser parkie toe gaan.
  • Hy verbind die taal met ’n spesieke roetine, soos dat daar twee uur van die vier uur by die skooltjie net Engels gepraat word.

As hierdie riglyne nie gevolg word nie, kan jou kind aan taalverwarring begin ly, waarsku Sieneke. Die ideale situasie is dat hy gelyke blootstelling aan albei tale het, beaam die Franse tweetaligheidskenner Francois Grosjean op sy webtuiste francoisgrosjean.ch.

As die een taal meer aandag as die ander geniet, beskou kinders die een taal as belangriker en kan dit veroorsaak dat hulle die ander taal nie ag nie en nie met erns probeer leer nie.

Kinders van ’n baie jong ouderdom sal ’n taal leer as hulle voel daar is ’n behoefte en dat dit die enigste manier is om met sekere mense of in ’n sekere situasie te kommunikeer.

Die geheim is net om hulle aan een taal op ’n slag bloot te stel. Waar daar Afrikaans gepraat word, moet daar by Afrikaans gehou word, waar Engels gepraat word, moet daar by Engels gehou word.

Dis belangrik dat die omgewing vry is van taalvermenging en leenwoorde – dit gee jou kind ’n beter kans om elke taal reg vas te lê en daardie taal se strukture beter te verstaan, sê Francois.

Al is daar bepaalde uitdagings vir tweetalige kinders, hou dit enorme voordele in, sê Elma Blom, ’n navorser aan die Universiteit van Amsterdam in Nederland, in ’n artikel op die webtuiste www.taalcanon.nl.

Dis byvoorbeeld vir tweetalige kinders makliker om deur inligting te sif en onbelangrike inligting te onderdruk. So sal hulle later in hul lewe beter lewenskeuses en besluite kan maak. Dit gebeur omdat hulle van vroeg af ’n beter onderskeidingsvermoë leer, sê Thea.

Kinders wat van geboorte af twee tale op die regte manier aanleer bereik hulle mylpale – soos om te babbel en hulle eerste woorde te sê – net so vinnig soos eentalige babas, sê Elma.

Kamp 2 sê wag! Vestig eers die moedertaal

Dit neem langer om twee pannekoeke as een pannekoek te eet, verduidelik Elma. Dis ook makliker om ’n wiskundeprobleem op te los as jy nie terselfdertyd ook televisie kyk nie. Net so het jy ’n dubbele taak as jy tweetalig grootword, wat kan beteken dat jy later leer om goed te praat. Tweetalige kinders sukkel ook dikwels om een taal korrek te gebruik.

“Dit duur langer voor hulle grammatiese taalonreëlmatighede herken en in hul daaglikse taal kan toepas. Hulle vind dit ook soms moeilik om die regte woord te vind. Hul woordeskat is soms kleiner in albei tale as ’n eentalige kind se woordeskat,” sê Elma.

Hulle kan ook stadiger praat. ’n Zoeloe-Afrikaanse kind sal byvoorbeeld na ’n boek kyk en twee woorde kom by hom op: “incwadi” en “boek”. Nou moet hy een daarvan onderdruk en so ontstaan ’n woordestryd – en as gevolg daarvan praat hy stadiger.

Een van die grootste probleme vir kinders wat in tweetalige huise grootword, is dat die ouers hul tale meng. Dit maak dit veral vir kinders tussen een en twee jaar oud moeilik om ’n beginnerswoordeskat te leer, het prof. Krista Byers-Heinlein, ’n tweetaligheidskundige aan die Universiteit van Concordia in Toronto, Kanada, in haar navorsing gevind.

Sy het navorsing onder 181 pare tweetalige ouers gedoen en uitgevind dat 90 persent van hulle hul tale meng wanneer hulle met hul kinders praat. Dis gewoonlik omdat daar nie ’n goeie ekwivalent van die spesieke woord is in die taal waarmee hulle besig is nie.

“As kinders aanhoudend gemengde taal hoor, vind hulle dit moeiliker om die woorde wat hulle hoor in kategorieë te plaas,” sê Krista. Dit kan beteken dat hulle die woorde stadiger leer en dus minder woorde ken. Hul woordeskat is dus kleiner as eentalige kinder s’n.

Dit lyk ook of kinders dit moeiliker vind om ’n woord te leer wat in ’n sin gebruik word waarin tale gemeng word, as wat hulle ’n woord in ’n eentalige sin leer. Taalvermenging hou gevaar in vir begrip en het taalverwarring tot gevolg.

Hierdie soort taalverwarring kan voorkom word as kinders hul tweede taal aanleer wanneer hulle ouer is. Kenners verskil egter oor die beste tyd om ’n tweede taal te begin leer.

Sieneke meen dit moet tussen ses en 12 jaar oud gebeur. Dan is kinders al oud genoeg om te leer deur van die een taal in die ander te vertaal. Dis ook vir hulle makliker omdat hulle teen daardie tyd een taal en sy reëls al deeglik onder die knie het en dit dus makliker op die tweede taal kan toepas.

Prof. Susan Coetzee-van Rooy meen weer tussen vier en ses is ’n goeie tyd, want dan leer kinders makliker om die tweede taal korrek uit te spreek.

Francois Grosjean dink glad nie ’n mens hoef so jonk te wees nie. Jonger kinders se taalverwerwing is baie ongesofistikeerd en onvolwasse, en hulle het nog nie die verstandelike vaardighede om dit met begrip te kan leer nie, meen hy.

In studies aan die Harvard-universiteit in Amerika is gevind dat kinders tussen 12 en 15 jaar oud baie beter vaar in die aanleer van ’n tweede taal as jong kinders, maan Francois. Hy sê ouer kinders is meer doeltreffende leerders as jonger kinders en weet hoe en waarop om te fokus.

Hoe belangrik is moedertaalonderrig? Jim Cummins, 'n geletterdheidspesialis aan die Toronto-universiteit in Kanada, het die volgende bevind.

  • Hoe goed ’n kind se moedertaal ontwikkel is, kan voorspel hoe die ontwikkeling van hul tweede taal sal verloop. Kinders wat skool toe gaan met ’n stewige moedertaal-grondslag se lettervaardighede is beter in die tweede taal.
  • Tweetalige kinders vaar beter op skool wanneer hulle in hulle moedertaal onderrig word, met sterk ondersteuning in ’n tweede taal. Waar kinders aangemoedig word om hul moedertaal te onderdruk en in ’n ander skooltaal onderrig te word, ondermyn dit hul vordering en is dit vir hulle moeiliker om te leer.
  • Kinders wat in ’n tweede taal onderrig word, gee maklik binne twee tot drie jaar hul moedertaal prys as hulle nie die geleentheid gegun word om hulle moedertaal te gebruik en daarin gestimuleer te word nie.
  • Kinders wat van kleins af tweetalig grootword, loop die gevaar dat hulle een van die tale nie behoorlik gaan bemeester nie en dus op skool kan sukkel.
  • Lees ook Tweede taal: die leerrisiko’s op die oorkantste bladsy.

Tweede taal: die leerrisiko's

In baie studies is bevind dat dit vir die meeste kinders nie goed is om in ’n ander taal as hul moedertaal onderrig te word nie. Van die gevare sluit in:

  • Die kind kan nie met sukses leer nie.
  • Onderwysers voel oorweldig deur kinders wat nie kan deelneem nie.
  • Die kind se eerste skoolervaring voel vir hom soos ’n mislukking.
  • Sy beperkte woordeskat maak dit vir hom moeilik om dieper te kan kommunikeer as die alledaagse oppervlakkighede en dit kan weer veroorsaak dat ’n onderwyser of ouer nooit die wortel van ’n probleem kan vasstel nie.

Moet jou kind nooit ’n tweede taal leer net om moedertaal-onderwys te vervang nie, waarsku Susan.

“Jy wil nie dit waaraan klaar konstruktief geleer is, vernietig nie. Al gebeur dit deur spel, is dit klaar ’n moeisame proses om jou moedertaal te leer – net so moeisaam soos ’n veloorplanting, want dit duur lank voor die vel gevestig word.

“Hoekom ontslae raak van dit waarop ’n mens kan bou? As jy met die moedertaal wegdoen, gaan die kind net ’n agterstand hê. Wat jy nodig het, is ’n sterk ondersteunende tweede taal.”

Wat kan jy as Afrikaans ma in 'n eentalige gesin doen om jou kind aan 'n tweede taal bloot te stel en dit te bevorder?

Die eerste ding om in gedagte te hou is dat ons nooit ons kinders werklik “leer” om te praat soos ons hulle nie leer om te eet nie. Twee dinge help hulle om taal te leer: blootstelling en behoefte. As hulle die behoefte voel om in ’n tweede taal met iemand te kommunikeer, sal hulle daardie taal aanleer.

  • Vind bronne van blootstelling – laat jou oppasser byvoorbeeld net in haar moedertaal met jou baba gesels.
  • Praat net Engels wanneer julle in ’n sekere situasie is, soos inkopies doen.
  • Lees Engelse stories, rympies, liedjies op ’n vasgestelde tyd van die dag. Dis nie genoeg om na Engelse programme op televisie te kyk nie.
  • As jou kind self in Engels begin speel, moenie bekommerd wees dat hy sy moedertaal gaan verloor nie. Moedig dit aan; fantasiespel help om daardie tweede taal vas te lê.
  • Stel jou kind bloot aan andertalige maatjies.
  • Laat hom ’n buitemuurse aktiwiteit soos kuns of krieket neem by iemand wat Engels is en die opdragte in Engels gee.
  • Speel sekere speletjies net in Engels, soos winkel-winkel, waar jy na ’n item wys en sy naam in Engels uitspreek.
  • Speel wêreldmusiek en stel jou kind aan wêreldklanke bekend.
  • ’n Baie goeie oplossing is om jou kind in ’n skool te sit waar twee tale gepraat word. Dan kry hy onderrig in sy moedertaal maar hoor die ander taal op die speelgrond, sê Thea.
  • Laat jou kinders glo dat meertaligheid koel is, sê Susan. “Maak dit familiebeleid. Leer self ’n derde taal aan en oefen dit voor jou kinders.”

Voordele van meertaligheid

  • Jou verstand ontwikkel beter.
  • Dit weer demensie af.
  • Jy is meer taalsensitief, veral teenoor ander se moedertale.
  • Dit verbeter die geheue.
  • Jy kan inligting beter sif en meer as een taak op ’n slag hanteer en afhandel.
  • Jou vermoë verbeter om te weet en te verstaan wat om jou aangaan.
  • Jy kan die wêreld deur ander mense se oë sien.
  • Dit verbeter jou eerste taal omdat jy meer bewus is van strukture en reëls en hoe ’n taal aanmekaargesit word.
  • Jou denkprosesse is soepeler omdat jy geleer het om twee taalstelsels op ’n slag te verwerk.
  • Families is deesdae oor die aardbol versprei en praat as gevolg daarvan verskillende tale. Meertaligheid hou families dus nader aan mekaar.
  • Jy kan dinge beter verstaan en beskryf, want jy ken ’n klomp verskillende woorde vir een begrip, en elkeen het ’n ander nuanse.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters