Kribbel kribbel krabbel

Voor jou kleintjie kan teken, inkleur of skryf, sal hy eers sekere vaardighede moet leer en ontwikkel. Dit sluit die volgende in: knypgreep, onderskeid tussen linker- en regterkant, handmanipulering, vinger-isolering, hand-oog-koördinasie, fyn motoriese beheer (gebruik van klein spiertjies in die vingers) sowel as groot motoriese beheer (die groter spiere in veral die skouers), kruising van die middellyn, bilaterale koördinasie en visuele persepsie. Hier is die mylpale waarvoor jy op die uitkyk kan wees.

Klein baba

In hul eerste jaar gebruik babas hul handjies meestal om dinge rond te gooi of in hul mond te druk en goed uitmekaar te haal of te slaan. Dis alles deel van die ontwikkelingsproses en noodsaaklik om al die nodige vaardighede te verbeter.

Die tweede jaar

Die meeste peuters begin om te krabbel sodra hulle ’n vetkryt in die hande kry – teen ongeveer een jaar oud. Hulle hou die kryt in hul vuis vas met die duim aan die teenoorgestelde kant as die skryfpunt. Hulle begin nou ook om voorwerpe met hul hande te manipuleer.

Die derde jaar

Teen omtrent twee sal jou kleinding se tekenvaardighede verbeter en sal hy lyne probeer teken. As jy ’n sirkel of vertikale lyne vir hom demonstreer, behoort hy dit te kan nateken. Namate sy handfunksie verbeter, hou hy die kryt nader aan die skryfpunt vas met sy duim, wys- en middelvinger. Pleks van sy skouerspiere begin hy nou sy elmboog gebruik wanneer hy teken.

Op drie

’n Jaar later het sy tekenvaardighede in so ’n mate verbeter dat jou klein kunstenaartjie vertikale en horisontale strepe, sirkels en plustekens kan prakseer. Hy hou die kryt of potlood nou met die duim en eerste twee vingers naby aan die skryfpunt vas, maar dit pas tussen sy duim en wysvinger. Hy het goeie beheer van skryfinstrumente en begin eenvoudige prente inkleur, al bly hy steeds nie tussen die lyne nie.

Ses maande later

sal jy jou kind kan leer om sy naam na te trek nadat jy dit geskryf het.

Op vier

Teen die ouderdom van vier bemeester jou kind die potloodgreep en gebruik hy vinger- en gewrigbewegings wanneer hy teken of inkleur. Met sy verbeterde tekenvermoë kan hy nou sirkels, vierkante, reghoeke en selfs ’n lyn tussen twee ander strepe trek.

Van omtrent vier en 'n half

gebruik jou kind vingerbewegings terwyl hy teken, inkleur of skryf. Hy kan nou ook die blad met sy ander hand stut en een of twee van sy naamletters skryf. Hy kan ook meer akkuraat inkleur.

Op vyf

Ná sy vyfde verjaardag kan hy binne die lyne bly wanneer hy inkleur en kan hy met goeie beheer teken en skryf. In die loop van dié jaar leer kinders gewoonlik om hul eie naam te skryf (afhangend van die lengte en ingewikkeldheid, natuurlik) en begin hulle ook syfers en letters skryf. Moenie volmaakte letters verwag nie – dis heel normaal dat hulle sommige letters omgekeerd skryf.

Skool toe

Teen ses kan jy jou kind leer om sy naam en van te skryf en al die basiese vorms soos sirkels, vierkante, reghoeke, driehoeke en plustekens te trek.

Susanne Hugo is ’n arbeidsterapeut by Myslimkind. Gaan na www.myslimkind.com en www.mysmartkid.com of bel 0861-555-224 as jy nog inligting nodig het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters