Laat waai met kleur!

Die wêreld om ons is ’n verruklike versameling van kleure en skakerings, maar voor jou kleinding kan begin wonder oor sneeuwit of gryswit, moet hy die primêre kleure (rooi, blou en geel) en hul basiese
vermengings onder die knie kry.

Wat dit ’n bietjie moeiliker maak om kleurname as die name vir stoel of tafel te leer, is dat kleur ’n abstrakte begrip is. Jou kleinding moet sy kleure egter so gou moontlik baasraak, sê Karina Strydom, medestigter van die ontwikkelingsprogram BrainBoosters.

“Kinders wat vroeër hul kleure, vorms en getalle ken, vaar beter op skool. Oral om ons is daar vorms, kleure en getalle. As ’n kind sin daaruit kan begin maak, vorm dit ’n grondslag vir alle verdere leerprosesse.

Kleure word byvoorbeeld in wiskunde gebruik vir sortering, klassifisering, passing, groepering, volgorde en die herkenning van patrone. By BrainBoosters word kinders binne sowat drie weke geleer om 10 verskillende kleure te herken.

Karina glo dat baie mense – en kleuterskole – kleure op ’n verwarrende manier aan kleuters verduidelik deur te veel verskillende begrippe soos vorm, grootte en kleur gelyk bekend te stel.

“Hulle wys byvoorbeeld vir die kind ’n blou driehoek en sê dan ‘blou’ of ’n geel piesang en sê ‘geel’. Die kind is dan verward: Verwys blou na die kleur of die vorm? ”

Die beste manier om kleure te leer is met eenvoudige kleurblaaie sodat die kind weet presies waarna jy verwys as jy die kleur se naam sê, sê Karina. Jy wys byvoorbeeld ’n geel blad en sê “geel”.

Wanneer jou kind die kleure ken, kan jy voorwerpe betrek soos ’n blou beker of geel piesang om die konsep te versterk. Assosiasie is nog ’n suksesvolle manier om kinders van kleur te leer, sê Selma Louw, ’n kleuterskoolonderwyseres. “Ons sê vir die kinders iets is groen soos die gras, of blou soos die lug. Dit werk baie goed.”

Die ander geheim is om die oefening te herhaal en wéér te herhaal, tot die begrip goed vasgelê is, sê Selma.

BrainBoosters gebruik ’n metode wat Blue Plate genoem word om kinders aan kleure bekend te stel. Dit werk so:

1. Isoleer: Jy wys die woord “rooi” en sê “rooi”. Dan wys jy net die kleur en sê weer: “rooi”.

2. Versterk: Herhaal dit weer en weer, dag ná dag. Dit is hoe die begrip permanent word.

3. Kombineer: Wys ’n swart-wit prentjie en kleur net een item daarop in, soos ’n hemp. Stel dit dan in konteks: Die meisie dra ’n rooi hemp.

4. Weerspieël: Moenie jou kind vra “watter kleur is dit?” nie. Vra liewer dat hy die “groen” beker moet aangee, en kyk of dit die regte een is.

Speletjies

Speletjies help ’n kind om kleur vas te lê as hy die beginsels al onder die knie het, maar nog ’n bietjie oefening nodig het om dit te onthou.

Ek soek ...

Sê: “Ek soek drie blou blokkies” en vra hy moet dit bring. As hy een te min bring, kan jy sê “Ek het nou twee blou blokkies!” en as hy verkeerde kleur bring, kan jy sê: “Ek het nou drie rooi blokkies!”

Hou ’n kleurdag

Gaan oorboord en sorg dat amper alles in jul dag dieselfde kleur is, van klere tot kos! Julle kan albei blou aantrek, die kos blou kleur met voedselkleursel, en selfs sy kosblik skool toe vol blou items pak.

Papierbordpret

Verf papierborde in verskillende kleure. Skryf elke kleur se naam op. Pak dit op die grond ’n entjie van mekaar af en vra jou kind om na die bloue, rooie of pienke te hardloop.

Sorteerpret

Vra jou kleuter om bloktorings te bou waarin al die blokkies dieselfde kleur is, soos ’n geel toring, blou toring en rooi toring. Benoem die kleure.

Fluit-fluit kleurryk

Laat die kinders buite rondhardloop. Blaas ’n fluitjie en sê hulle moet aan iets blou/swart/oranje raak.

Uit die mandjie

Pak ’n klomp vorms en kleure in ’n mandjie. Vra jou kind om ’n groen driehoek uit die mandjie te haal. As hy nie kan nie, kan jy vra dat hy enige groen vorm bring.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters