Ure en ure se lees plesiere
kleuter

(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba en Kleuter, Aug 2016) 

“Daar bestaan nie iets soos ’n kind wat nie van lees hou nie, maar daar bestaan wel iets soos kinders wat die verkeerde boeke lees.” Met dié woorde slaan die bekende skrywer James Patterson die spyker op die kop.

Ook Walt Disney, die vader van kinderrolprente, verstaan die waarde van boeke. Hy het altyd gesê: “ ’n Storieboek het baie meer skatte as enige eiland wat seerowers nog opgespoor het.” Tog is daar baie ouers wat sê hul kinders hou nie van lees nie. Maar lees is ontsettend belangrik en kenners meen dat dit baie voordele inhou om elke dag 20 minute lank vir jou kind te lees. Wat kan jy dus doen as jou kind nie wil lees nie? As hy daaroor kla of huil?

As skooljuffrou het Hanlie Ebersohn van die Laerskool Mayville in Pretoria al baie maniere getoets om kinders van kleintyd af al aan die lees te kry. “ ’n Kind wat van lees hou, se wêreld is soveel interessanter,” sê Hanlie. “Sy het ’n ryk verbeelding, sy het hope vriende wat as karakters in boeke lewe en sy is nooit verveeld nie.

“Aan die opvoedkundige kant raak kinders wat van lees hou, dikwels hul skoolwerk makliker baas. As ’n kind goed kan lees, kan hulle van wetenskap leer, hulle kan die stappe lees om ’n wiskundeprobleem op te los en hulle kan geskiedenisboeke lees. ’n Kind moet in elke vak goed kan lees.” 

Lees: Kweek 'n boekwurm

HANLIE SE TOPWENKE

LAAT JOU KIND TOE OM HAAR EIE BOEK TE KIES.

Dit maak nie saak watter boek dit is nie, solank jou kind lees. Gee haar absolute vryheid. Sy sal gewoonlik boeke kies oor die dinge waarin sy belangstel, soos insekte of voëls. Al is daar soms nie baie leeswerk in so ’n boek nie, help dit jou kind steeds om ’n liefde vir boeke te ontwikkel. As sy sukkel om ’n boek te kies, kan julle ’n verskeidenheid kies en kyk wat haar belangstelling prikkel. Kleintjies van twee jaar oud gaan waarskynlik nog nie ’n definitiewe belangstellingsveld hê nie, maak dus seker daar is ’n verskeidenheid in jul huis. Seuntjies is byvoorbeeld gek oor boeke met grappies.

KWEEK ’N LEESKULTUUR IN JOU HUIS.

Maak seker jou kinders sien dat jy lees. Jy kan tydskrifte lees, resepteboeke deurblaai en interessante artikels uitdruk en hardop daaruit voorlees. Maak ook van leestyd ’n speletjietyd. Hou ’n los-allesen-lees-aand waaraan die hele gesin moet deelneem. Sit 20 minute opsy en laat almal sit en lees. Selfs die peuters kan deelneem; dan lees jy in die 20 minute vir hulle voor.

GEBRUIK SLAAPTYD AS VERSKONING

Slaaptyd kan soms maar ’n uitgerekte storie wees. Jou kleuter sal dikwels met jou probeer onderhandel om later in te kruip. Laat jou kinders toe om ’n halfuur later te gaan slaap, op voorwaarde dat hulle daardie halfuur as boekietyd gebruik.

MAAK SEKER JOU KIND KAN GOED SIEN

Dit gebeur soms dat kinders wat niks van lees hou nie, nie baie goed kan sien nie of dat hul oogspiere swak is. Die oomblik dat hulle ’n bril kry of oogoefeninge begin doen, hou hulle skielik baie meer van boekies.

BEGIN ’N BOEKKLUB SAAM MET JOU KINDERS EN HUL MAATS

Dit kan ’n ma en-dogter- of ’n ma-en-seun-boekklub wees. Nooi vriendinne wie se kinders dieselfde ouderdom as joune is. Laat die kinders almal vooraf dieselfde boek lees en kom een keer per maand bymekaar om saam oor die boek te gesels. Gebruik dan sommer die tema van die boek om die kinders speletjies te laat speel, of laat hulle soos die karakters aantrek. Oueren- kind-boekklubs werk goed vir kinders van vyf jaar en ouer.

MAAK INTERESSANTE BOEKMERKIES VIR JOU KINDERS SE BOEKE

Jy sal baie mooi voorbeelde op die internet vind.

LAAT BRIEWE HERLEEF

In ons digitale wêreld ken kinders nie meer handgeskrewe briewe nie. Vra ’n familielid of ’n ouma of oupa om vir jou kind ’n brief op mooi papier te skryf. Hou dan die posbus dop en ervaar saam met jou kind die opwinding wanneer die brief opdaag. Jou kind kan dan terugskryf of teken.

LEES VIR KORT RUKKIES OP ’N SLAG

’n Mens dink maklik dat jou kleuter nie van lees hou nie omdat haar aandagspan nog te kort is. Maar lees hoef nie te beteken dat jy ’n boek in een sessie van voor tot agter deurlees nie. Span jou verbeelding in en maak sommer jou eie woorde op vir die storie wat jy vir jou kind uit ’n boek “voorlees”. 

Lees: Wonderlike eerste woordjies

Maak lees pret 

Dié blink planne om kinders in boekwurms te verander, kom van die gewilde Amerikaanse blog yourmodernfamily. com. Die blog word bedryf deur Becky Mansfield, wat ’n spelterapeut en skrywer is.

1. BEGIN MET DIE PRENTJIES

Om te lees gaan oor baie meer as die woorde. Kinders is gek oor prentjies. Verken die boek saam met jou kind deur na die illustrasies te kyk. Praat daaroor, dink saam aan die stories wat die illustrasie alles kan vertel, en vertel dan vir jou kind ’n storie op grond van wat in die illustrasies gebeur.

2. STAAN STIL BY DIE ILLUSTRASIES

Is daar ’n kat of ’n hond in die boek? As julle ’n hond sien, soek dan die word “hond” in die boek en wys dit vir jou kind. As jou kind nog nie letters ken nie, is dit ’n manier om haar stadig daaraan te begin blootstel.

3. DOEN DIT SO

Hier is ’n voorbeeld van hoe jy vir jou kind kan lees: “Ek sien katjies op die bladsy. Kom ons tel gou die katjies voor hulle dalk besluit om te gaan wegkruip. Daar is drie katjies – luister gou, hulle praat met ons. Wat sê die katjies vir ons?” Vir ’n voorskoolse kind kan jy lees: “Kyk, ek sien katjies. K.A.T.J.I.E.S. Sien jy meer as een katjie? Hoeveel sien jy? Daar is drie katjies, ja! Hoeveel katjies sal daar wees as nog enetjie bykom?”

4. TREK GESIGTE EN SPAN VERSKILLENDE STEMTONE IN TERWYL JY LEES

Jou hele gesig moet saamlees as jy jou kind se aandag wil behou. As jy eentonig lees, gaan dit ook nie juis belangstelling lewendig hou nie. As jy werklik ’n leeswêreld vir jou kind wil ontgin, kan jy heeltemal oorboord gaan. Kies ’n boek vir die dag, soos Rooikappie. Trek soos Rooikappie aan, dra ’n mandjie met dieselfde eetgoed in en maak dit sommer jul piekniek-middagete. Maak “R” jou tema van die dag, verf met rooi verf en doen alles soos in die boek.

5. LAAT JOU KINDERS DIE BOEK LEWENDIG MAAK

As jy lees en ’n karakter klop aan die deur, laat jou kind aan die deur gaan klop. As die wind waai, suis soos ’n wind. As ’n maatjie in die boek ’n drukkie kry, gee vir jou ’n kind ’n drukkie. Jou kind sal dit vreeslik geniet.

6. LEES OOR EN OOR

Jou kind sal jou heel moontlik 50 keer vra om die boek weer te lees, dis heeltemal normaal. So word baie dinge vasgelê – en moenie verbaas wees as sy ook die boek vir jou “voorlees” nie.

7. SPAN DIE NODIGE TEGNOLOGIE IN

Sommige kinders sal nie van tradisionele boeke hou nie. Gelukkig is die tegnologie opgewasse om selfs vir hulle aan die lees te kry. Laai gerus digitale boeke af – en nog beter, interaktiewe boeke. 


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters