Die A-Z van peuterdissipline

Peuters kan goed verstaan wat ‘nee’ beteken – maar hulle is nog nie oud genoeg dat jy hulle met logiese argumente kan oortuig hoekom hulle iets nie mag doen nie. Tog moet jy nou reeds die fondament vir latere dissipline lê. Hier is wat jy moet weet – van A tot Z!

A is vir aandag aftrek

Jou peuter het nog ’n baie kort aandagspan en een van die maklikste maniere om haar van ongewenste gedrag te weerhou is om haar aandag af te trek met ’n meer aanloklike speelding.

B is vir beloning

Beloon jou peuter se goeie gedrag – dis ’n natuurlike aanmoediging vir haar om daardie gedrag weer te herhaal, en vorm die basis van positiewe dissipline. Prys haar as sy mooi met maatjies speel of ’n opdraggie uitvoer.

C is vir copy cat

Jou kleinding is ’n regte klein nabootser. Stel dus nou reeds ’n goeie voorbeeld as dit kom by gedrag. Ouers wat skree se kinders is geneig om te skree – kyk net hoeveel van jouself jy in jou peuter herken!

D is vir daaglikse roetine

Peuters floreer op roetine en struktuur. Dit maak dit vir hulle maklik om te weet wat om te verwag en hul gedrag daarby aan te pas. As sy weet sy gaan elke aand 7-uur bed toe nadat sy geëet en tande geborsel het, sal sy baie makliker sonder ’n bakleiery gaan slaap.

E is vir eenvoudige taal

Al verstaan sy al heelwat meer as wat sy sê, is jou peutertjie se taalvaardighede nog nie baie gevorderd nie. Hou dus jou taal en opdragte so eenvoudig moontlik. ’n Enkele “nee” is dikwels genoeg.

F is vir ferm stemtoon

As jou peuter haar wangedra, reageer kalm, maar ferm. Jou stemtoon moet ’n duidelike boodskap gee dat jou verwagtinge nie onderhandelbaar is nie en dat jy nie wangedrag sal duld nie.

G is vir gevolge

Jou kleinding moet nou reeds begin leer dat sekere optredes sekere gevolge inhou. Moet dus nie in die versoeking kom om leë dreigemente te maak wat jy weet jy nie kan uitvoer nie.

H is vir heilsame kos

Moeilike kinders is dikwels net honger kinders. Maak seker dat jou peuter genoeg gesonde kos inkry, en vermy kos met baie suiker wat kan bydra tot prikkelbaarheid.

I is vir ignoreer

Soms kry peuters vloerstuipe net om aandag te kry en hul ma te manipuleer. Dan kan dit help om haar te ignoreer, sodat sy die boodskap kry dat jy haar nie sal toelaat om die situasie te beheer nie.

J is vir jammer sê

As jy jou humeur verloor en dalk op jou kleinding geskree het, is dit belangrik dat jy vir haar kan sê jy is jammer en haar ’n drukkie kan gee om weer jul verhouding te herstel.

K is vir konsekwent

Stel ’n paar eenvoudige reëls in en pas dit konsekwent toe. Jou peuter moet weet dat dit wat vandag geld, ook môre sal geld, anders sal dit haar net verwar en veroorsaak dat sy haar grense ál meer wil toets.

L is vir luister

Peuters is gewoonlike moeilik omdat hulle ongelukkig is oor iets – en dikwels sukkel hulle om dit oor te dra, wat bydra tot verdere frustrasie. Deur werklik na jou kind se behoeftes te luister – ook dié wat sy nie in woorde kan uitdruk nie – en daarop ingestel te wees, kan jy onnodige konflik uitskakel.

M is vir minimum oorlog

Omdat jy nie met ’n peuter kan redeneer nie, is dit die moeite werd om mooi te dink watter kwessies vir jou belangrik genoeg is om ’n stryd oor aan te knoop. Kies dus dié dinge wat jy wil afdwing, met oorleg.

N is vir nuwe rigting

Soms is dit net nodig om jou kleinding se gedrag effens te wysig of in ’n nuwe rigting te stuur. As jou kind byvoorbeeld in die huis hardloop en skree, kan jy sê: “Nee, ons hardloop nie in die huis nie, maar jy mag buite hardloop.”

 

O is vir oogkontak

Om regtig doeltreffend met jou kleinding te kommunikeer en haar te dissiplineer, is dit nodig dat jy afsak tot op haar vlak en oogkontak maak. Dit verseker dat sy werklik aandag gee aan wat jy sê.

P is vir pret!

Kindertjies leer op hulle beste as hulle pret het. Maak van aktiwiteite soos opruim en skoonmaak pret, en jou kleinding sal sommer vinnig saamwerk en boonop uitstekende lewensvaardighede baasraak. Pret saam keer ook dat julle vasgevang word in ’n negatiewe gedragsirkel.

Q is vir Quasimodo

As jy voel jy kan nie meer nie, tel tot 10 en sit vir jou kind ’n DVD oor hierdie boggelrugmannetjie op, of enige kinder-DVD waarop jy jou hande kan lê! Dit koop vir jou ’n paar minute asemskeptyd en help jou kleinding om te bedaar.

R is vir realistiese verwagtinge

Dis belangrik dat jy weet waartoe jou peuter in staat is en watter soort gedrag ouderdomsrelevant is. Jy kan byvoorbeeld nie van ’n eenjarige verwag om lank stil te sit nie. (En moenie jou verwagtinge rig volgens wat ouma en oupa of ander mense verwag nie!)

S is vir saamstaan

Dis nou jy en manlief! Dis noodsaaklik dat julle nou reeds as ’n span saamstaan en mekaar nie weerspreek of jul kleinding die gaping gee om julle teen mekaar af te speel nie.

T is vir tydsberekening

Net soos jy tyd nodig het om aan te pas by verandering, het jou kleinding dit ook nodig. Waarsku haar vroegtydig as sy binnekort sal moet ophou speel, of dit byna etenstyd is, sodat sy behoorlik kan afsluit. Sê byvoorbeeld: “Nog net 5 minute speeltyd, dan is dit badtyd.”

U is vir uitsittyd

Soms is dit nodig om jou peuter uit die situasie te verwyder om haar kans te gee om self te bedaar, veral as vloerstuipe op hande is. Sê “ek kan sien jy is kwaad, maar jy moet nou ophou skree” en sit jou kleinding vir ’n kort rukkie op ’n veilige plek waar sy tot verhaal kan kom. Verduidelik hoekom jy haar verwyder het, en maak vrede.

V is vir vryheid binne grense

Die peuterjaar is ’n tyd van ontdekking en verkenning en dis belangrik dat jou kleinding genoeg ruimte het hiervoor ten einde onnodige frustrasie te vermy. Skep ’n veilige omgewing waarin sy na hartelus kan ontdek – binne grense.

W is vir weer en weer

Jou peuter sal haar grense verskeie kere toets – elke keer met ’n effense variasie in gedrag – om vas te stel presies waar die grense lê. Dit beteken dat jy weer en weer dieselfde grense sal moet herhaal sodat sy kan leer dat die grens in alle omstandighede geld.

X is vir xxx’e en drukkies

Genoeg liefde, aanraking en drukkies is ’n noodsaaklike deel van gesonde dissipline. Jou kind sal net floreer op dissipline as sy weet dat jy haar onvoorwaardelik liefhet. Keur haar gedrag af, maar nooit vir haar nie.

Y is vir ysere wil

Dis wat jou peutertjie soms kan hê! Moenie in ’n magstryd met haar betrokke raak nie en moet in geen omstandighede toegee aan haar geneul, vloerstuipe of geskree net om haar stil te kry nie. Dit sal ’n patroon van moeilike gedrag kweek elke keer as sy haar sin wil hê.

Z is vir zzz

Elke ervare ma weet ’n moeë peuter is ’n moeilike peuter. Jou peutertjie sal nog middagslapies nodig hê; beplan dus jou dag daar rondom sodat sy genoeg rus inkry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters