Leer jou kleuter om te deel

Jy en jou vriendin het net rustig gaan sit wanneer julle die bloedstollende gille hoor. Julle gaan kyk vervaard wie het seergekry, en daar staan julle twee kleuters, albei met ’n arm van ’n pop in die hand waaraan hulle verbete trek terwyl hulle kliphard skreeu.

Dis ’n toneeltjie wat hom elke dag in duisende huise landwyd afspeel, maar dit keer nie dat ma’s erg gefrustreerd en verleë daaroor voel nie – en met rede. As volwassenes besef ons maar te goed hoe belangrik die vermoë om te deel vir ons kleutertjie se toekomstige sosiale aanpassing is.

Mededeelsaamheid is ’n gesofistikeerde vaardigheid en nie iets wat ’n klein kind sommer uit sy eie sal begin doen nie – maar met jou ondersteuning en aanmoediging sal hy weldra die vrygewigheid vanself word.

Lees: My kind wil nie deel nie

Om te deel is een van die moeilikste, maar ook belangrikste begrippe wat ’n kind moet aanleer en bemeester, sê dr. Magdaleen Carstens, ’n kindersielkundige en ma van Pretoria. “As hy nie dit regkry nie, gaan hy sosiaal baie sukkel. Deel gaan oor gee en neem – nie net van fisieke goed soos lekkers en speelgoed nie, maar ook van emosies, soos om aandag te kan gee en ontvang.”

Hettie Redelinghuys, opvoedkundige sielkundige van Bloemfontein en ma van Dawid (7) en Kristen (3), sê as kinders leer deel, word hulle van kleins af voorberei vir die lewe en verhoudings. “Hulle leer om ander se behoeftes raak te sien en meegevoel te betoon. Hulle leer ook hoe om persoonlike grense te stel, want hulle hoef nie alles te deel nie.”

Lees: Klein seuntjie met 'n groot hart

Wanneer leer ’n kleuter deel?

Magdaleen sê dis moeilik om te bepaal presies wanneer jy van jou kind kan verwag om te begin deel omdat kinders se ontwikkeling en bemeestering van mylpale verskil. Dis wel belangrik dat dié vermoë toeneem, sê sy. “Hoe ouer ’n kind word, hoe meer moet hy in staat wees om te deel.”

Sy mededeelsaamheid word beïnvloed deur dinge soos sy ouderdom, emosionele ontwikkeling, die voorbeeld wat hy tuis sien en waar hy in die gesin inpas. Oudste kinders sukkel gewoonlik meer om te deel as tweede en derde kinders.

Peuters

’n Eenjarige verstaan glad nie wat deel beteken nie omdat sy hele wêreld om homself draai en hy hom min oor ander se gevoelens bekommer, sê Hettie.

“Hy leef in die hier en nou. As jy hom vra om sy speelgoed met ’n maatjie te deel, gaan dit vir hom voel asof hy dit vir altyd weggee.”

Tussen peuters moet jy maar heeltyd skeidsregter speel, veral as jy hulle teen mekaar wil beskerm! “Jy kan hulle aandag aflei, hulle van mekaar skei of die speelding wat al die onmin veroorsaak, verwyder,” sê Magdaleen.

Kleuters

Twee- tot driejariges speel gelukkig al beter saam. Nou word dit belangrik wat jou kind tuis leer, sê Hettie. ’n Kind wat liefde en respek tuis kry, sal vriendelik en vol selfvertroue teenoor maats optree.

As hy die boodskap kry dat hy niks werd is nie of dat die wêreld gevaarlik en onvoorspelbaar is, kan hy moeiliker deel. En as sy ouers bedreigend is, kan hy self aggressief teenoor maatjies wees.

Wees ook versigtig vir oppiep: As die gesinslewe net om jou kind draai en alles volgens sy wense verloop, sal hy verwag sy maats moet dieselfde doen.

Kinders speel ook beter saam as daar net twee van hulle is en as die gespeel nie te gestruktureerd is nie. Dis ook dan vir jou makliker om ’n ogie te hou.

Teen 3 jaar oud is baie kinders gereed om van hul speelgoed of eiendom te deel, sê Hettie. Hulle verstaan egter nog nie hoekom dit belangrik is nie en hul geduld is maar min.

Jy kan hulle nou leer om 5-minuut-beurte te maak om met ’n speelding te speel. Moenie te veel aangaan oor hoe belangrik dit is om te deel nie, want hulle gaan dit nie regtig verstaan nie. Wys hulle liewer prakties hoe dit werk.

Voorskoolse kinders

Hulle behoort al te kan deel en beurte maak, sê Hettie – maar toesig is steeds nodig! Vierjariges kan soms lekker baasspelerig wees. As jy dit sien, roep jou kind eenkant en herinner hom aan goeie maniere en hoe verhoudings werk.

Lees: Dapper vegter

8 geheime van deel

  • Jou kind hoef nie elke ding te deel wat hy besit nie. Gun hom ’n paar goed waarmee net hy kan speel, soos ’n teddie of ’n speelding met sentimentele waarde. Dit kan dan gebêre word wanneer maatjies kom kuier sodat niemand anders daarmee kan speel nie. Onthou net dat dié spesiale speelgoed in die minderheid moet wees.
  • Leer jou kind van kleins af wat deel is, soos met etenstyd: “Een happie vir jou, een happie vir my.”
  • Stel vir jou kind grense sodat hy besef die lewe gaan nie net oor hom nie. Selfs jou peuter kan leer om ’n bietjie te wag: “Storietyd is ná ete. Ek is besig om kos te maak en kan nie nou vir jou lees nie.”
  • Maak hom deel daarvan as ’n verjaarsdaggeskenk gekoop word. Laat hy self die present uitsoek en vir die maatjie gee.
  • Wanneer jy jou kind ’n lekkertjie gee, gee hom nog een om vir sy maatjie te gee pleks daarvan dat jy dit vir die maatjie gee.
  • Prys hom wanneer hy mooi met ander kinders speel. Wees spesifiek: “Ek hou daarvan dat jy vir Annette ’n beurt gegee het om met die fiets te speel.”
  • Berei jou kind daarop voor dat maatjies gaan kom kuier en dat hy sy speelgoed sal moet deel.
  • Voor die maatjies opdaag kan julle saam besluit watter speelgoed hy wil deel en wat liewer gebêre moet word. Dit laat hom in beheer voel, maar hy leer steeds die regte beginsels Raad van regte ma’s

Marietjie Swart van Christchurch in Nieu-Seeland is ma van Mia (6). Sy sê as daar ’n dispuut in haar huis is, kry elke kind ’n sekere tyd met ’n sekere speelding. "My skoonsussie stel sommer ’n kookwekker om te lui wanneer die tyd om is. Dit werk heel oulik en so kry elkeen ’n ewe lang beurt.

"En as eetgoed gedeel moet word, was my pa altyd soos Salomo: Een van ons kon deel en die ander een kon kies."

Corlia Putter van Vryheid in KwaZulu-Natal vertel haar Cayla (4) en Hanske (2) het onlangs ’n kat gekry en toe hulle by die winkel uitstap, het die kompetisie al begin.

“Ek dink dis belangrik dat kinders nie net regte deel soos om met die kat te speel nie, maar ook die verantwoordelikhede wat daarmee saam kom. Cayla gee nou die kat saans kos en Hanske, met my hulp, in die oggende. So deel hulle die lekker en die sleg.”

Wendy Louw van Malmesbury sê haar seuntjies, Guillaume (3) en Dihann (2), deel al mooi. “As hulle baklei oor een speelding word dit eenvoudig weggeneem en gebêre en hulle kry dit nie weer nie. As die speelgoed min raak en daar is amper niks meer oor nie, begin hulle baie mooi met mekaar speel en deel om weer die speelgoed terug te kry.

“Hulle moet dit ‘verdien’. Ná elke dag wat hulle speel sonder om met mekaar te baklei of iets by die ander af te neem, kan hulle een speelding kies wat hulle terugkry.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters