Ons baklei gedurig

René Daniels (opvoedkundige sielkundige) antwoord:

Paartjies wat voortdurend voor hul kinders baklei, stry of argumenteer is gewoonlik bewus daarvan dat dit nie goed is vir die kinders nie.

Stres en uitputting maak dit makliker vir ouers om beheer te verloor, maar as dit dikwels gebeur, kan dit ’n chaos in ’n kind se emosionele wêreld veroorsaak.

Kinders is emosioneel op hul ouers se gevoelens ingestel. Dit kan hulle angstig of ongelukkig maak sodat hulle huil, hipersensitief word, onttrek of klouerig of afgestomp raak.

Sommige kinders kan alle konflik probeer vermy of probeer om die gestryery te beëindig deur te skree of op een of ander manier in te meng.

As ouers moet ons onthou dat ons rolmodelle vir ons kinders is. Ons kinders sien op na ons en wil by ons leer hoe om toepaslik in situasies op te tree.

As ons disrespekvol en ontoepaslik optree wanneer ons konflik hanteer sal ons kinders hierdie gedrag in hul sosiale groep naboots.

As daar voortdurende spanning in jul gesin is, kan dit jou kind onseker laat voel. In gesonde verhoudings vind ons dat paartjies ook van mekaar verskil, maar konflik met respek en beheerde gedrag oplos.

Ouers moet beheer uitoefen wanneer hulle van mekaar verskil en hul kind as gehoor in ag neem – en die impak op hulle. As jy van jou kinders verwag om hulle te gedra, moet jy jou ook gedra! Stel jou reaksie op woede uit; dit kan die verskil net tot ’n volskaalse argument laat groei. Probeer altyd emosionele taal vermy as ’n teken van respek vir jou maat en hou die impak van jou optrede en woorde op jou kinders in gedagte.

Gesonde kommunikasie moet so dikwels moontlik oor alle kwessies plaasvind. Praat met ’n terapeut as dit moeilik is om te implementeer of as jul probleme te groot is om self uit te sorteer

Maak altyd seker jou kinders kan veilig voel. As kinders ouer is, verduidelik vir hull dat julle soms stry omdat julle verskillende persepsies van dinge het. Maak altyd seker die kinders word nie by jul argumente betrek nie.

Onthou, jy stel die voorbeeld vir jou kind se verhoudings en vriendskappe in die toekoms – dink dus voor jy praat en optree.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters