Wat is middellyn kruising?

Middellynkruising– of soos sommige terapeut ekortweg sê “midlynkruising”– is ’n term wat jy nog baie op jou kleinding se grootwordpad gaan hoor by sy juffrou, sportafrigter, terapeut en selfs by speelgoedbemarkers. Maar wat beteken hierdie gonswoord en hoe raak dit jóú kind?

Ons bekyk die onderwerp in hierdie artikel. Daar is baie wat jy kan doen om seker te maak jou baba en peuter bereik sy middellynkruising mylpale. Dis een van die belangrike boublokkies van vaardighede wat jou kind moet baasraak om gereed vir die grootskool te wees.

Wat is middellynkruising?

Die menslike liggaam word in ’n linker- en regterkant verdeel deur ’n denkbeeldige middellyn wat strek van jou kroontjie, deur jou neus en tot tussen jou voete, verduidelik Amy Rode, ’n arbeidsterapeut van Stellenbosch. “Middellynkruising is die oorsteek van hierdie denkbeeldige lyn.” Amy beklemtoon dat middellynkruising slegs plaasvind wanneer rotasie van skouergordel oor die heupgordel plaasvind en nie soos baie mense dink as jy jou arm effens oorsteek na die ander kant toe nie.

Elrie Maree, ’n arbeidsterapeut van Port Elizabeth, sê middellynkruising is ook die vermoë om die oog, hand of voet aan die een kant van die liggaam in die ruimte van die ander oog, hand en voet te gebruik. Maar ons lyf bestaan eintlik uit drie verskillende middellyne wat almal belangrik is vir baba se ontwikkeling, sê sy: die sagitale, transverse en frontale middellyn.

Die drie middellyne

#1 Links en regs (die sagitale midlyn)

Dis die denkbeeldige lyn wat die liggaam in ’n linker- en ’n regterkant verdeel. ’n Baba steek dié middellyn oor wanneer hy sy arm oor sy borsie vou sodat hy van sy rug op sy magie kan draai. ’n Peuter steek dit oor wanneer hy van links na regs met ’n verfkwas op ’n groot stuk papier verf sonder om handjies te ruil. In gr.1 gaan die kind gemaklik woorde van links na regs op ’n bladsy kan lees.

#2 Bo en onder (die transverse midlyn)

Die romp verdeel die boonste en onderste deel van die liggaam. ’n Vyf maande oue baba steek hierdie middellyn oor as hy met sy voete speel. Vierjariges geniet dit om vorentoe te buig sodat hulle aan hul toontjies kan raak of dit raak gemaklik om die bal met een hand bo die kop vas te hou terwyl die lyfie vorentoe beur om die bal te gooi.

#3 Voor en agter (die frontale midlyn)

Hierdie midlyn verdeel die voor en die agterkant van die liggaam. ’n 18 maande oue baba steek sy frontale middellyn oor as hy vooroor of agteroor op die bed in die kussings inplons. ’n Kleuter swaai sy armpies sodat hy ekstra ver vorentoe kan wip of agteruit kan spring.

NB: Nodige Basis

Middellynkruising is met rede ’n gonswoord: Dis geweldig belangrik vir jou kleinding. Dit bewerkstellig en beïnvloed meer as een faset van jou kind se lewe, sê Amy.

Dit help met die gebruik van albei kante van die liggaam, saam of afwisselend. Dit maak dus bilaterale integrasie moontlik, oftewel die gekoördineerde gebruik van die twee kante van die liggaam, soos wanneer jy met ’n mes en vurk eet, jou veters vasmaak, fietsry, swem of met ’n skêr knip.

Wanneer die middellyn oorgesteek word, begin die vaslegging van hand-, voet- en oogvoorkeur ook. Dis weer belangrik vir fyn motoriese vaardighede soos skryf, groot motoriese ontwikkeling en vloeiende oogbeweging. Al is bilaterale integrasie en hand-, voet- en oogvoorkeure eers teen vyf of ses jaar voltooi, word die basis nou reeds gelê, sê Amy.

“In die praktyk word die middellyn oorgesteek wanneer jy ’n bal moet vang wat na die kant gegooi word, ’n boek lees van een blad na die volgende, by ’n tafel in ’n boek skryf van een blad na die volgende of jou balans moet hou op onstabiele oppervlaktes in beweging. Wanneer jy hardloop, klim of selfs net by ’n tafelsit en skryf vind daar ook subtiele rotasie plaas. ’n Mens het dus goeie rotasie en middellynkruising nodig vir balans.”

’n Kind wat sukkel om die middellyn oor te steek, se visuele stelsel word ook beïnvloed, sê Elrie. “Die kind kan byvoorbeeld sy plek verloor wanneer hy in die middel van die bladsy kom. Letters en nommers kan omgeruil word. Dit kan lyk of hy dubbelhandig is, maar eintlik het die vaardighede van nie een van sy twee hande genoeg ontwikkel nie.”

So ontwikkel dit 

Pasgeborene

In die eerste paar maande van ’n baba se lewe voer hy baie verskillende bewegings met albei kante van sy lyfie uit. Dié bewegings lyk dalk doelloos, maar dis noodsaaklike boustene vir leer en gedrag, sê Elrie.

“Die brein berg al hierdie sensasies en ervarings van die sintuie en die spiere sodat die liggaam dit later kan gebruik om meer doelgerigte vaardighede uit te voer. Ons kan hierdie proses vergelyk met ’n padkaart wat vir die liggaam opgestel word sodat hy later presies weet hoe om met sekere paadjies te ry.”

Drie maande 

Middellyn-oriëntasie begin op ongeveer drie maande wanneer jou baba sy handjies na mekaar bring om te voel, kou, speel en kyk, sê Amy. Hy gebruik sy nekspiere om sy koppie van kant na kant te beweeg en weer terug te bring na die middellyn.

“Namate die nekkie en ander spiere sterker word, kan hy op sy handjies fokus en hulle saambring na die midlyn,” sê Elrie. “Baba sal op ’n paar maande ’n blokkie met die een hand optel, dit na die middellyn van die liggaam bring en dan in die ander hand oorplaas. Die twee dele van die liggaam word simmetries gebruik.”

Later sal baba begin om per ongeluk van sy rug na sy sy, en nog later van sy maag na sy rug te rol (gewoonlik teen vier tot vyf maande) tot hy dit uiteindelik doelbewus self kan doen, sê Amy. “Hierdie rolbeweging is die begin van rotasie tussen die heup- en skouergordels en dus die begin van die kruising van die midlyn.”

Ses maande 

As jou baba teen omtrent ses maande begin sit, sal hy eers net vorentoe leun en later begin om na die kante te druk of uit te reik, tot hy teen so agt maande kan oorleun in ’n vierpunt-knielposisie om te begin kruip of ’n speelding by te kom, sê sy.

“Dis weer rotasie en kruising van die middellyn. Sodra jou baba kruip, in en uit die sitposisie beweeg, of hom self begin optrek in ’n staanposisie, is daar gedurig rotasiebewegings en middellyngebruik.”

Tussen agt maande en 'n jaar

Tussen 8 maande en ’n jaar ontwikkel jou baba die vermoë om ’n speelding aan die teenoorgestelde kant van sy lyf op te tel. “Op 12 maande sal hy ’n kryt optelmet die hand die naaste daaraan. Op 18 maande kan daar moontlik ’n voorkeur wees vir ’n spesifieke hand, maar die twee dele van die lyf werk nog nie ten volle as ’n span saam nie. Aktiwiteite moet dus so aangebied word dat albei dele van sy lyfie aktief ingespan word.”

Twee jaar

Teen twee jaar is daar reeds baie beter samewerking tussen die twee dele van die liggaam, sê Elrie. “Jou baba het deur kruip en loop hierdie patrone ingeoefen. Die twee dele funksioneer nog as aparte dele, maar nuwe bewegings is nou moontlik, soos dat die een handjie die koppie vashou terwyl die ander water ingiet. Hulle eksperimenteer ook graag met bewegings waar al vier ledemate ingespan word, soos dat die armpies op en af swaai terwyl hulle opgewonde rondspring. Dis baie lekker om op hierdie ouderdom groot krale in te ryg of met ’n skêr te begin snipper.”

Tussen drie en sewe jaar

Tussen 3 en 7 jaar leer jou kind eenvoudige toerusting hanteer soos kleurpotlode en papier, ’n skêr, ’n fiets en ’n grafie en emmertjie. Fyner kunsies soos om knope en veters vas te maak en met ’n mes en vurk teeet word ook geleer, sê Elrie.

“Namate die spiere sterker word, kan’n meer vaardige hand na vore te kom en sal die een hand byvoorbeeld die papier vashou terwyl die meer vaardige handjie met ’n kryt teken. Elk een van hierdievaardighede vereis die sensoriese inligting van albei kante van die liggaam wat in die brein gelê en wag het sedert dit vroeër deur spontane bewegings neer gelê is.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters