Borsel daai tande

(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba en Kleuter, Sep 2016) 

Jy dreig, jy smeek, jy probeer omkoop, maar jou peuter of kleuter weier botweg om tande te borsel. Dis dan dat die uitdrukking “steeks soos ’n donkie” nuwe betekenis kry ... Gelukkig is daar allerlei maniere om die tande skoon te kry! 

1. Leer 'n oulike rympie

of liedjie en sê of sing dit saam wanneer tandeborseltyd aanbreek. Beproef dié een: “Borsel jou tande, borsel jou tande, al in die rondte, al in die rondte, links en regs, links en regs, kieme weg, kieme weg.” Of wat van “Hoor die water in die kraan as ek soggens vroeg opstaan. Tjoef tjaf, tjoef-tjaf, tande borsel op en af!” Hierdie liedjie is op Vader Jacob se wysie: Tandeborsel, tandeborsel, blink en skoon, blink en skoon, altyd in die rondte, altyd in die rondte, kieme weg, kieme weg!” 

2. Maak dinge makliker met 'n elektriese tandeborsel

Daar is deesdae talle beskikbaar en ’n mens kry ook dié met oulike animasiekaraktertjies wat verder as aanmoediging vir klein kinders kan dien. “Dis belangrik dat ouers kinders help om hul tande te borsel en ’n elektriese tandeborsel kan hierdie taak vergemaklik,” is die raad van Videa Smith, ’n mondhigiënis van Advanced Dental Centre op Potchefstroom. 

3. Laat jou kind in die oggend self borsel en help hom in die aand 

“Leer jou kinders van kleins af dat dit belangrik is om saans tande te borsel omdat al die dag se kos afgeborsel moet word. Gebruik ook kindertandepasta, want gewone tandepasta is te sterk vir sensitiewe tandjies en kan jou kind se mond brand,” sê Videa. 

4. Moenie te ernstig or die hele storie wees nie

Vra jou kleinding byvoorbeeld om eerste jou tande te borsel en dan borsel jy sy tandjies. Die geheim is om dit prettig te maak. 

5. Doen dit in die bad

Saans kan dit dinge makliker maak as jy sommer jou kind se tande in die bad borsel. Dan kan hy ook nie so maklik wegkom nie! 

6. Trek sy aandag af

As jou kind tande borsel verpes, kan jy wag tot sy aandag afgetrek is (dalk deur ’n TV-program) en dan sy tandjies borsel – al is dit in die sitkamer – sodat hy geleidelik aan die idee gewoond raak. 

7. Maak 'n speletjie daarvan

Borsel dalk eers saam ’n gunstelingspeelding se tandjies en dan jou kind s’n.

8. Maak van die tandeborsel 'n speelding

Dit kan byvoorbeeld ’n “vliegtuig” word op pad na die grot (mond), of ’n feetjiestaffie wat die tande moet “regtoor”

9. Gebruik jou vinger as 'n tandeborsel

As jou kind niks van ’n tandeborsel hou nie, kan jy darem sorg dat die tande intussen skoonkom. Draai ’n stukkie gaas om jou vinger, sit tandepasta daarop en maak die tandjies daarmee skoon. 

10. Gebruik 'n motiveringskaart 

en plak sterretjies vir elke dag wat jou peuter mooi saamgewerk het. Plak die kaart iewers op sodat julle dit elke dag kan sien en gebruik.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters