Daar lê hy en skreeu!

Selfs die soetste kleuter kry die een of ander tyd ’n woede-aanval van astronomiese omvang. Dis emosioneel uitputtend, dikwels ’n reuse verleentheid, en laat jou soos ’n mislukking van ’n ouer voel. Die goeie nuus? Dis heeltemal normaal en beslis nie ’n teken dat jou kind op die afdraande pad is nie.

Sommige kinders is meer geneig tot vloerstuipe as ander. ’n Kind met ’n sterk wil, besige bytjies en intelligente, verkennende kinders sal waarskynlik meer en makliker vloerstuipe kry as jy hulle in hul spore stuit. So ook sensitiewe kleingoed wat vinnig gefrustreerd voel.

Jou rol is om jou spruit te lei om te leer om sy frustrasies beter te verstaan en dit op ’n aanvaarbare manier uit te druk.

Waarom vloerstuipe?

Om drama te gooi is ’n normale deel van kinders se emosionele ontwikkeling. Daar ís tye wanneer jou kleinding hom tot vloerstuipe wend om jou te manipuleer: Jy móét nou vir hom lekkers koop, anders gaan hy aanhou skop en skree. Hy toets sy grense en beproef jou geduld.

Dis deel van sy onafhanklikwording: Hy wil self bepaal wat in sy lewe gebeur. Maar vloerstuipe gaan oor veel meer: Jou kleutertjie is besig om die wêreld om hom teen ’n verbysterende pas te leer ken en ontdek, en dis onvermydelik dat hy take sal aanpak of hom in situasies sal bevind wat bo sy vuurmaakplek is.

Dan ervaar hy net een oorweldigende emosie: frustrasie. Selfs volwassenes se frustrasie kook soms oor, hoeveel te meer nie kleingoed wat nog nie geleer het hoe om hul emosies te hanteer nie? Verskeie faktore vererger jou spruit se frustrasie:

  • Gebrek aan woordeskat Peuters en kleuters vind dit aanvanklik moeilik om hul behoeftes oor te dra omdat hul woordeskat nog baie beperk is. Stel jou voor jy wil vandag jou blou hemp aantrek, maar jy ken nie die woord blou nie, en jou ma gee die rooie?
  • Gebrek aan impulsbeheer Kleuters sukkel om hul emosies te beheer en tree baie impulsief op. Hulle moet nog leer om te wag.
  • Moegheid en honger Jou kleinding ontplof makliker as hy moeg, honger of ongesteld is.
  • Negatiewe aandag Vloerstuipe is soms ’n manier om aandag te kry. Negatiewe aandag is beter as geen aandag nie.

Voorkom vloerstuipe

Jy kan nie alle frustrasie uit jou kleinding se lewe verwyder nie. Dis nodig dat hy soms gefrustreerd raak, want daarsonder kan hy nie nuwe vaardighede baasraak soos om self aan te trek nie. Jy kan wel help om sy frustrasievlak te beperk:

  • Maak seker speelgoed is ouderdomstoepaslik. Te moeilike uitdagings sal hom frustreer, maar te min stimulasie kan weer tot verveling lei, met konfrontasie en frustrasie wat volg.
  • Gee keuses. Dit laat jou kleinding in beheer voel en verminder ook frustrasie.
  • Stel min, maar duidelike grense. As jou kind weet jy gee nooit toe oor lekkergoed voor aandete nie, is die kans vir ’n woedebui daaroor heelwat skraler as wanneer hy weet daar is ’n moontlikheid dat hy jou kan manipuleer.
  • Volg ’n vaste roetine. So weet jou kind wat om te verwag, en dit laat hom veilig voel.
  • Verwoord jou kind se behoeftes vir hom. Hoe gouer hy die vermoë ontwikkel om sy gevoelens en behoeftes uit te druk, hoe laer sal sy frustrasievlak wees en hoe minder die ontplofngs.
  • Lees sy lyftaal. As jy sien hy voel oorweldig deur ’n situasie of is oormoeg, verwyder hom daaruit of bied jou hulp subtiel aan (soos as hy kwaai met ’n taak sukkel) sonder om oor te neem.
  • Moenie dadelik nee sê as hy verkeerd is nie. Trek eerder sy aandag met iets anders af. As jy nee sê, verduidelik in kort en eenvoudige taal hoekom.

Aksieplan

1. Bly kalm

Dis gewoonlik onmoontlik om ’n woede-aanval te stop as jou kind eers vlamvat, en jy hoef ook nie. Jy moet wel in beheer van die situasie bly. Toegegee, dis moeilik om kalm te bly as jou kind soos ’n donkie op die vloer lê en skop, maar dis presies wat jy moet doen. Skree, wiks of kwaad word is net olie op die vuur en sal jou kind net nog meer buite beheer laat voel.

Onthou, vloerstuipe is vir jou kind ’n vorm van ontlading. Die meeste kinders sal enige vorm van vertroosting verwerp en kan jou selfs wegskop of harder gil as jy dit nader waag. Ander sal wel toelaat dat jy hulle vashou en tot bedaring bring. Kyk wat vir jou kind werk.

Jy kan by jou kind bly tot hy uitgewoed is, of as dit jou te veel ontstel of jy sien jou teenwoordigheid vererger die situasie, kan jy hom uit die situasie verwyder. Tel hom op (al skop en skree hy) en neem hom na sy eie veilige plek soos sy kamer, waar hy in privaatheid kan ontlaai sonder ’n gehoor wat die gedrag aanvuur.

In ’n winkelsentrum kan dit soms beteken dat jy jou waentjie net so laat staan en jou kind na die naaste badkamer of jul motor neem tot hy weer kalm is.

2. Erken wat hy voel

As jy weet waarom jou kind vloerstuipe het, sê kalm: “Ek kan sien jy is kwaad omdat jy nie nou lekkers kan kry nie, maar dis amper aandete. Ek gaan jou nou los tot jy klaar geskree het. Sê vir my as jy klaar is.”

So nie kan jy net erkenning aan sy emosies gee. Moenie met hom probeer redeneer as hy nie positief reageer nie; gee hom kans om self tot verhaal te kom. Die boodskap is: “Ek verstaan jou frustrasie, maar vloerstuipe is nie die manier om jou sin te kry nie.”

3. Koester hom

As jou kleinding uitgewoed is, is dit troostyd en hersteltyd. Vloerstuipe sal jou en jou kind emosioneel en siek totaal uitgeput laat. By sommige kinders moet jy intree en troos sodra die ergste verby is – so help jy hulle om veilig en getroos te voel en weer in beheer van hulself te kom.

Ander kinders verkies dit om alleen gelaat te word tot hulle weer heeltemal kalm is (en kan nog ’n hele ruk lank vir jou skree om weg te gaan!). Gun hulle dan hul ruimte. Sodra jou kleinding weer reg is vir kontak, soen hom, sê jy is jammer hy was so ongelukkig en bly hy voel weer beter, en beweeg aan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters