Dis normaal!

Peuters is nou maar een maal nuuskierig. Dis ’n normale en noodsaaklike deel van hul ontwikkeling, maar vir baie ouers is dit ’n pyniging. Moenie jou peuter probeer verander nie. Die pad na groter vrede lê daarin dat jy groter empatie vind met die onbeholpenheid en ongeslyptheid wat hierdie sogenaamde wangedrag veroorsaak.

Wie is die kind?

Jou peutertjie is ’n unieke stukkie kosbaarheid. Hy is tussen 18 maande en drie jaar oud. Hy besef nou jy en hy is nie een mens nie, dus hoef hy nie soos jy te dink en op te tree nie.

Nuuskierigheid waaroor hy geen beheer het nie, noop hom om ondersoek in te stel na alles en nog wat. Sy sintuie is die belangrikste stukke gereedskap waarmee hy leer en sy emosies is die aanvoerders van sy reaksies op die wêreld en mense om hom.

Hy wil ontdek en ontwikkel, maar ongelukkig waardeer nie almal sy leergierigheid óf ontluikende onafhanklikheidsin nie. Dis dan dat jy hoor jou kind kort dissipline ...

Maar wat is dissipline?

Dissipline beteken nie om te straf of gedrag te beheer nie, maar om elke dag te leer.

Dit is ’n leefwyse en positiewe noodsaaklikheid vir volwassewording. Dit begin in die babatyd met roetine en hope sekuriteit en loop mettertyd soos ’n goue draad deur jou kind se lewe sodat hy eendag ’n selfgedissiplineerde, beheersde mens kan wees.

In haar boek Koester jou kleuter sê die ouerskapskenner Ann Richardson dissipline behels vasgestelde reëls vir jou kind én vir jou as ouer.

Die basiese reëls vir jou peuter is kort en kragtig: Ons maak nie mense en diere seer nie en ons respekteer ons eie en ander mense se besittings.

Ouers se reëls is: Hanteer jou peuter altyd met baie geduld, liefde en begrip terwyl jy deurentyd konsekwent en volwasse optree.

Bowenal moet jy empatiseer met jou ontdekkertjie se negatiewe gedrag en gevoelens eerder as om dit te ontken, te kritiseer of te ignoreer. En straf is verkieslik nie ’n opsie nie.

Waarom empatie?

Empatie is ons vermoë om met die ervaring van ander te identifiseer, en om dinge of emosies buite onsself te waardeer.

Dit beteken dus dat jy jou in jou peuter se alledaagse situasies kan indink en dit probeer verstaan. Jy moet jou in sy skoene kan verplaas. Dit sal meebring dat jy hom ferm, maar steeds liefdevol behandel.

Empatie beteken nie om hom te bejammer en toe te laat dat hy onvanpas optree, of om onaanvaarbare gedrag goed te keur net omdat hy “klein” is nie.

Ons bekyk 'n paar tipiese uitdagings en gee raad:

Uitdaging #1: Al die verlokkings!

Tuis is jou kleinman besig, maar beheerbaar. Die beproewings begin by die dokter se spreekkamer of wanneer jy by ’n vriendin kuier. Al die interessante ornamente, die kat se stert en die vars blomme op die koffietafel vra om ondersoek te word. Hy vat aan alles onder die afkeurende blik van almal in die onmiddellike omgewing.

SÓ LYK EMPATIEKE OPTREDE

Besef dat jou peuter leer hoe voorwerpe lyk deur daaraan te raak. Hy is nuuskierig oor hoe dit voel, proe en ruik. Daarby het hy nog nie baie praktiese ondervinding in alle situasies nie en weet hy nie altyd hoe om op te tree nie.

Moenie die tastende handjies piets nie. Neem hom eenvoudig telkens weg waar hy skade kan aanrig.

Volwassenes vat daagliks aan produkte op winkelrakke wat hulle soms nie eens koop nie. Wat vir ons pure gewoonte is, is deel van ’n peuter se ontwikkeling. Hy tree dus volgens sy ouderdom én menslik op!

Uitdaging #2: Ek sal!

Sy strewe na onafhanklikheid kry soms die oorhand. Al dink jou peuter hy is groot en sterk, kan hy nie oral bykom of opklim waar hy wil nie. Dit veroorsaak frustrasie met die meegaande vloerstuipe en huilsessies.

SÓ LYK EMPATIEKE OPTREDE

Laat hom ’n bietjie sukkel (nie te lank nie) en planne beraam; dis goed vir sy ontwikkeling. Gee hom dan ’n stewige bankie of stoeltjie om op te staan en self die verlangde artikel af te haal.

Uitdaging #3: Oepsie!

Potjielesse begin gewoonlik in die peuterfase en is teen die derde jaar min of meer voltooi. Intussen is daar ongelukkies.

SÓ LYK EMPATIEKE OPTREDE

Onthou dat die sukses van potjielesse nie net afhang van jou peuter se samewerking nie. Fisieke ontwikkeling speel die grootste rol, want die blaas en rektumspiere moet ontwikkel genoeg wees om lank genoeg te kan knyp.

Potjielesse kan van twee jaar af aangepak word. Ongeag die sukses wat reeds behaal is, is dit steeds jou taak om hom gereeld te neem of te herinner. Moet nie met hom raas of hom straf as hy ’n glipsie gehad het nie. Byt op jou tande, tel tot 10 en trek hom met ’n stralende glimlag droog aan!

Uitdaging #4: Daar by die wag-'n-bietjie-bos

Peuters wil alles dadelik doen, sien of hê. Mammas en pappas is altyd besig en dan moet peuters wag!

SÓ LYK EMPATIEKE OPTREDE

Besef dat jou peuter se geduld baie min is en dat sy behoeftes vir hom die belangrikste op aarde is. Moet hom nie onnodig laat wag nie en maak so gou moontlik werk van behoeftes en versoeke. Wanneer hy ouer is, sal hy makliker kan wag tot hy gehelp word, maar ook meer selfstandig wees en hom soms self help!

Uitdaging #5: Alles is nee!

Vanaf omtrent twee jaar oud begin jou peuter eiewys, halsstarrig en reëlreg teen gesag optree. Hierdie gedrag kan tot sy sesde verjaardag voortduur. Dis nie net hardkoppigheid (miskien toevallig ’n karaktertrek in die familie) nie, maar die begin van ’n pad na onafhanklikheid wat hy móét loop.

SÓ LYK EMPATIEKE OPTREDE

Jy neem nog die meeste besluite vir hom. Bied egter soms beperkte keuses sodat jy nie sy onafhanklikheid heeltemal demp nie. Soms sal die resultate taamlik morsig wees, maar probeer om dit te ignoreer en prys sy pogings en die feit dat hy probeer het. Vermy om self te veel “nee” te sê. Bied liewer ’n alternatiewe keuse in die plek van sy planne.

Uitdaging #6: Dis myne!

Jou peuter is baie antisosiaal wanneer dit by die deel van besittings en omgang met ander spelendes kom! Hy is in die solospel-fase, waar hy langs, maar nie met ander kinders nie speel. Hy kan nie deel of reëls nakom wat met groepspel gepaardgaan nie. Indien iemand sy spel versteur, sal hy maklik byt, krap of slaan.

SÓ LYK EMPATIEKE OPTREDE

Verwyder hom uit die situasie. As hy ’n maatjie fisiek beseer het, versorg eers die maatjie. Neem dan jou peuter eenkant en verduidelik baie kort, maar streng wat hy verkeerd gedoen het. Moenie toelaat dat die maatjie hom terug seermaak nie, dit leer hulle niks.

Uitdaging #7: Struikelblokke

Hy stamp glase koeldrank om en hardloop teen kosyne vas. Hy trap in die hond se waterbak en val pens en pootjies in die blombedding.

SÓ LYK EMPATIEKE OPTREDE

Bly rustig wanneer hy iets gemors het. Bring ’n lappie en laat hom help om skoon te maak. Besef dat hy nog min beheer het oor sy groot én klein spiere, dus is hy nog lomp.

Hy kan nog nie rats vir voorwerpe uitswenk nie, of hulle nou stil staan of beweeg. Sy balans is ook nie te waffers nie en hy kan nie spoed of afstand skat nie.

Uitdaging #8: Ek is bang!

Allerlei vrese teister jou peuter. Hy beleef skeidingsangs waar hy verbete aan jou vasklou en weier om jou te laat gaan. Hy is bang vir die afvoerpyp in die bad, Kersvader en vreemde mense. Dit word vreemdelingeangs genoem.

SÓ LYK EMPATIEKE OPTREDE

As hy groot geskrik het en baie bang is, hou hom stewig vas en gee ’n paar treë uit die betrokke situasie. Moet hom nie verkleineer of ingewikkelde verduidelikings gee oor waarom hy nie bang moet wees nie. Vir hom is sy vrese baie werklik. Erken sy vrees en hou hom vas tot hy bedaar het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters