Eier op die kop

Dis ’n feit soos ’n koei: Die een of ander tyd gaan jou peuter of kleuter op haar kop val of dit iewers stamp. Dit gebeur selfs met die versigtigste kinders en met dié wie se ouers hulle heeldag met ’n arendsoog dophou. Syfers toon ironies genoeg dat dit juis tuis is waar kinders onder vyf jaar hul kop die meeste stamp.

Dit kan gebeur wanneer hulle van die bed afrol, van die eetstoeltjie afval of by die trappe of tafel aftuimel. Die gevolg kan enigiets van ’n klein knoppie tot ’n enorme eier of lelike sny wees. En die behandeling kan wissel van ’n yspak, ’n verband of steke tot net ’n paar soentjies. Navorsing wys dat hoofbeserings veral algemeen is onder kinders van vier en jonger.

Baie van hierdie beserings is niks ernstigs nie, maar soms het dit wel ligte harsingskudding of selfs ’n traumatiese breinbesering (TBB) tot gevolg. Hoewel ’n TBB nie noodwendig beteken dat daar permanente skade is nie, moet dit met erns bejeën word. Ons het ’n huisdokter van Bloemfontein gevra hoe ’n mens moet optree wanneer jou kind haar kop stamp en wat die heel nuutste navorsing oor kleuters en kopbesering sê.

En veral watter voorsorgmaatreëls jy moet tref om die gevaar van hoofbeserings te beperk. Volgens dr. Johann Loots is die algemeenste oorsaak van ligte hoofbeserings by kinders ’n val, gevolg deur motor-, voetganger- en fietsongelukke. Die ander groot oorsaak is ongelukkig kindermishandeling. Die kans dat jou kind ’n breinbesering opdoen ná ’n val hang af van hoe ernstig die ongeluk was.

Die risiko van ’n breinbesering is byvoorbeeld laag as jou kind afgeval het van ’n tafeltjie, stoel of swaai wat nie so hoog is nie, of sy kop teen ’n sagte voorwerp gestamp het. Medici noem dit ’n laeimpak-hoofbesering, verduidelik Johann.

Die risiko vir breinbeserings verhoog aansienlik as jou kind:

  • In ’n motorongeluk teen ’n hoë spoed was,
  • Van ’n hoë plek afgeval het,
  • Teen ’n hoë spoed getref is deur ’n swaar voorwerp soos ’n gholfstok of krieketkolf, of
  • Baie rof rondgeskud is.

Gelukkig behels ligte hoofbeserings by die huis meestal minder ernstige ongelukke soos ’n stamp teen ’n tafelpoot of ’n harde kop-aan-kop met sussie of ’n maatjie. Jy moet egter steeds weet wanneer dit nodig is om gou by die arts uit te kom. Die Amerikaanse akademie vir  pediatrie beveel aan dat ouers altyd hul dokter kontak as hul kind meer as net ’n ligte stampie teen die kop gekry het, sê Johann.

Die volgende simptome kort ná ’n val of stamp teen die kop noodsaak ’n doktersondersoek so gou as moontlik:

  • Herhaaldelike braking.
  • Stuipe.
  • Bewussynverlies.
  • Hoofpyn. Kinders wat nog nie kan praat nie, sal knieserig wees as hulle hoofpyn het.
  • Gedragsverandering. Sy kan baie slaperig wees, sukkel om wakker te word, baie prikkelbaar wees of ander abnormale gedrag toon.
  • Sy kan sukkel om te loop, lomp voorkom, oor haar voete val en lyk of sy geen koördinasie het nie.
  • Verwarring.
  • Sleeptong.
  • Lighoofdigheid wat kom en gaan of glad nie opklaar nie, of
  • Bloed of water wat uit die neus en ore loop.

Gaan altyd dokter toe as jou kind jonger as ses maande is; as jy nie die bloeding van ’n snywond kan stopsit nie (selfs al het jy ’n drukverband opgesit) en as sy van ’n hoogte hoër as 1 meter geval het op ’n harde oppervlak, of teen ’n hoë spoed deur ’n voorwerp getref is. Die dokter sal ná ’n ondersoek bepaal wat die volgende stappe is. Soms is net ’n opvolgbesoek nodig, ander kere ’n breinskandering of verdere toetse.

Die skandering sal bepaal of daar bloeding in of rondom die brein is, of die skedel gekraak het en of daar ’n ander ernstige breinbesering is. So ’n CT-skandering vereis dat jou kind sowat 15 minute lank aan die slaap gemaak word, maar dit sal net gedoen word as die hoofbesering ernstig is. Omdat CT-skanderings mense blootstel aan radiogolwe moet dit beslis nie onnodig gedoen word nie. MRI-skanderings word gewoonlik nie ingespan om die erns van ’n hoofbesering te bepaal nie.

Dit is belangrik dat jy (of enigiemand wat die ongeluk sien gebeur het) aan die dokter kan beskryf hoe die kind geval het. Dit help ook baie as iemand vir die kind tuis dophou, moet jy op die uitkyk wees vir tekens van lighoofdigheid, en oplet of jou kind deurmekaar praat of lyk. ’n Baba sal byvoorbeeld baie huil en nie haarself wees nie. Peuters en kleuters kan weer hul balans verloor of kla dat hulle nie kan sien nie. “As daar enige tekens is van ’n verandering in eet-, slaap- of asemhalingspatrone, klagtes van hoofpyn, of as haar oë anders lyk – soos vergrote pupille of oorkruiskykery – selfs al is dit 24 uur later, moet jy dadelik dokter toe.

Wees by babas ook op die uitkyk vir fontanelle wat uitstulp,” sê Johann. Behandel kopstampe tuis As die hoofbesering nie te ernstig lyk en jy nie een van die gevaartekens of simptome hierbo sien nie, kan jou kind tuis behandel word. Maar as die situasie verander moet jy beslis dokter toe gaan, waarsku Johann.

Hier is van sy aanbevelings vir tuisbehandeling:

  • Rus. Moedig jou kind aan om te lê en voortaan rustig te speel. As sy wil slaap, kan sy. Dit is nie gevaarlik om ná ’n ligte kopstamp te slaap nie (veral nie as dit slaaptyd is nie), maar monitor jou kind gereeld. Hou veral haar velkleur en asemhaling dop. As sy bleek is of onreëlmatig asemhaal, maak haar wakker. As sy teëstribbel en nie wil wakker word nie, is sy waarskynlik reg. Maar as jy regtig sukkel om haar  wakker te kry, bel onmiddellik jou dokter of kontak die nooddienste.
  • ’n Ligte hoofpyn, lighoofdigheid en naarheid is baie algemeen, veral in die eerste paar uur ná ’n hoofbesering. Gee vir jou kind vloeistowwe soos sap of water om te drink.
  • As daar baie bloed is ná ’n val, plaas onmiddellik ’n skoon lap of verband op die wond en druk dit ’n paar minute lank styf teen die seerplek. Onthou dat snywonde aan die kop en gesig gewoonlik erger bloei as ander snywonde net omdat daar meer bloedvate in die kop is. As die bloeding steeds nie wil ophou nie, kan jy dokter toe gaan om te bepaal of steke nodig is.
  • n Groot geswelde knop of eier is baie algemeen ná ’n hoofbesering. Plaas ’n yspak soos ’n pak bevrore groente sowat 20 minute op die eier om die swelling te verminder. Die swelling begin gewoonlik ná ’n paar uur afplat, maar dit kan ’n week duur voor dit ten volle herstel.
  • As jou japsnoet skraap- of ligte snywonde opgedoen het, hoef jy die plekkie net met seep en warm water te was, ’n antibakteriese salf aan te smeer en die wond met ’n verband te bedek.
  • Gee gerus ook vir jou kind ’n pynstropie. As die pyn nie wil wyk nie en dit vir jou klink of sy hoofpyn het, moet jy die dokter raadpleeg.

As jou kind harsingskudding opgedoen het, moet julle enige aktiwiteit wat sy breintjie hard laat werk, eers vermy. Dit sluit rekenaar- en slimfoonspeletjies in. Hou hom ook waar moontlik weg van ruwe spel en enige vorm van op- en af-bewegings soos wipplank ry en rof swaai. Julle behoort beslis ook binne twee dae vir ’n opvolgbesoek dokter toe te gaan.

Kinders kan tot ses maande nadat hulle harsingskudding opgedoen het, nog simptome daarvan toon. Hou dus jou kind baie fyn dop om seker te maak hy tree ná die stamp weer op soos voor die ongeluk. DIE LEWE NÁ ’N HARDE VAL.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters