Klein maar kwaai
peuter

(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba en Kleuter, Julie 2016) 

Jou kleinding se vermoë om haar emosies te reguleer dra by tot die ontwikkeling van haar emosionele intelligensie. Dit help haar om die lewe se stampe en stote te hanteer, konflik op te los en minder stres te ervaar. Dit ontwikkel ook haar vermoë om empatie vir ander mense te voel.

WAAR BEGIN DIT?

Emosionele ontwikkeling is nie ’n natuurlike proses soos fisieke ontwikkeling nie. Kinders moet dus geleer word hoe om hul emosies te reguleer. 

Lees: Die A-Z van peuterdissipline

Hulle moet leer wat emosies is, hoe dit ontwikkel en hoekom hulle dit voel. Dit is ook baie belangrik dat hulle ander se gevoelens verstaan en leer hoe om emosies op ’n konstruktiewe eerder as ’n skadelike manier uit te druk.

HOE KAN OUERS HELP?

Jy speel ’n belangrike rol wanneer jy jou kinders leer om hul emosies te reguleer. Jy doen dit dalk soms sonder dat jy dit besef, maar elke keer wanneer jy op jou kleingoed se emosies reageer, met hulle praat oor hoe hulle voel of vir hulle vertel hoe jy self voel, dra jy by tot hul emosionele ontwikkeling.

’n Baba sal aan die begin die emosies van hul versorgers baie skerp dophou en dit naboots, maar namate hulle ouer word, ontwikkel hul selfbeeld en emosies onafhanklik van ander s’n.

Lees: Stout kinders bestaan nie

In die kleuterjare ontwikkel die frontale deel van die brein en die limbiese stelsel baie vinnig en is dit dikwels die rede waarom kinders sukkel om hul emosies te beheer.

Dis onder meer waar die woedebuie en gedrag vandaan kom wat hierdie ouderdom ’n reputasie as die moeilike jare gee. Namate hul taalvaardighede egter verbeter, word dit ál makliker om vir jou te sê wat hulle dink, wat hulle nodig het en wat hulle graag wil hê.

Jy kan hulle dus help om ’n naam vir hul emosies te gee terwyl hulle leer om elkeen te identifiseer. Jy kan sê: “Ek sien jy voel baie kwaad daaroor dat jou maatjie jou speelding gevat het.” Onthou, dit is belangrik om jou kleingoed te help om al hul emosies te aanvaar.

Probeer om nie positiewe emosies as goed en negatiewe emosies as sleg te bestempel nie. Verduidelik vir jou kinders dat dit heeltemal aanvaarbaar is om ál hul emosies te ervaar, maar dat slegs sekere optredes van pas is. Met ’n ouer se hulp kan ’n kind leer om impulsiewe gedrag te beheer en hul emosies op ’n gesonde manier uit te druk.

EMOSIONELE REGULERING VIR ELKE OUDERDOM

1-2 JAAR

Sny prente van gelukkige en ongelukkige gesigsuitdrukkings uit ou tydskrifte of ongebruikte foto’s. Meng alles op een hoop saam nou by jou kleinding en verduidelik dat julle die gesigte in twee groepe – gelukkig en ongelukkig – gaan verdeel.

Sorteer die prente saam met haar en praat met haar oor elkeen. Gesels oor die moontlike redes waarom iemand dalk die spesifieke emosie ervaar en vra hoe sy sou voel as sy in dieselfde situasie was. Jou kleinding is nog te jonk om self die gesigte te sorteer.

Herhaal die aktiwiteit ’n paar keer en moedig haar aan om die gesigsuitdrukkings na te boots.

2-3 JAAR

Dit is nou ’n goeie tyd om met jou kleingoed oor gesigsuitdrukkings en liggaamstaal te gesels. Hulle is heel moontlik reeds daarvan bewus, maar praat met hulle daaroor dat mense gereeld hul gevoelens met hul gesig of liggaam uitdruk eerder as met woorde.

Praat nou met hulle oor tye wanneer hulle gelukkig, opgewonde, kwaad of bang gevoel het en vra hulle om dit vir jou uit te beeld. Hulle kan gesigsuitdrukkings, hul postuur of bewegings gebruik.

Jy kan hulle ook vra om hul hande te gebruik om die volgende aan jou oor te dra: Kom nader, gaan weg, hou op om dit te doen, moenie bang wees nie en ek’s so trots op jou.

3-4 JAAR

Speel hierdie kreatiewe speletjie om vir jou kleingoed meer oor hul emosies te leer. Skryf verskillende emosies, soos gelukkig, hartseer, kwaad, verras en opgewonde op strokies papier en plaas dit in ’n houer.

Skryf nou die name van verskillende diere op dieselfde aantal papierstrokies en plaas dit in ’n tweede houer. Laat jou kleinding ’n papier uit elke houer kies en maak dan beurte om die karakters uit te beeld. Julle sal skater van die lag wanneer sy ’n “kwaai seekat” of ’n “opgewonde kameelperd” probeer naboots.

4-5 JAAR

Klein mensies het soms groot emosies en hierdie tegnieke kan hulle kalmeer en help om hul emosies te verwerk. Leer jou kleinding die skilpadtegniek. Vra haar om haar te verbeel dat sy ’n dop het en soos ’n skilpad daarin kan wegkruip.

Sodra sy “binne-in” haar dop is, kan sy stadig en diep asemhaal om haar te kalmeer. Vra haar om haar te verbeel dat sy elke asemteug in haar arms en bene inblaas en dat dit elke spier in haar lyfie laat ontspan.

Sodra sy weer kalm voel, kan sy “uit haar dop klim” en vir jou vertel wat haar ontstel het sodat julle saam ’n oplossing vir die probleem kan vind. Hierdie tegniek werk ook baie goed vir ouers – beproef dit gerus self!

5-6 JAAR

Help jou kleintjie om ’n gereedskapskissie te maak wat haar help om haar emosies baas te raak. Versier ’n boks (soos ’n skoenboks) met haar gunsteling-kleurpapier, prente en selfs strikkies of plakkers.

Pak dit vol voorwerpe wat jou kind rustig laat voel. Julle kan ’n sagte speelding, ’n CD met kalmerende musiek of foto’s van haar gunsteling-oomblikke daarin pak. Pak ook hulpmiddels in wat jou kind sal help om haar emosies uit te druk.

Inkleurpotlode en ’n notaboekie, plakkers met verskillende gesigsuitdrukkings of ’n ou koerant wat sy kan skeur, werk goed. Onthou om die boks te bêre waar jou kind dit maklik self kan gaan haal wanneer sy ontsteld voel. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters