Skoor-soeker in die huis
peuter

Moenie ’n fout maak nie: In jou oudste kind se oë is sy of hy die prins of prinses van die huis. Probeer jou dus indink hoe jou peuter voel wanneer daar ’n boetie of sussie opdaag – sy word van al haar aandag beroof en dan is sy boonop nog bang sy verloor jou liefde. Geen wonder jou ouer kind sal (selfs lank ná die nuweling se geboorte) ’n stampie of stootjie uitdeel wanneer sy die kans kry nie.

Die Johannesburgse spelterapeut Erika Hitge sê dit maak nie saak hoe goed jy jou eersteling op die nuwe baba voorberei nie, sy sal altyd ’n gevoel van verlies ervaar wanneer die boetie of sussie eers daar is. En dis daardie gevoel van verlies wat in jaloesie omsit. Hoe jy hierdie gedrag hanteer, sal die wêreld se verskil maak.

Lees: Klein maar kwaai

KINDERS WAT BAKLEI EN JALOERS IS

Al is hulle hoe kwaad of ongelukkig, bly dit onaanvaarbaar dat kinders baklei. “Hulle moet van kleins af weet dat hulle met mekaar moet praat en onderhandel,” sê Erika. Dis natuurlik makliker gesê as gedaan wanneer een bakleier nog te klein is om te besef waaroor alles gaan, maar dit beteken nie jy moet vir jou kinders dink en hulle nie die kans gee om self hul konflik op te los nie.

“Hulle moet sommer van vroeg af leer dat jy hulle gaan los om hul eie besluite te maak,” is Erika se raad. Tree slegs tussenbeide as jy sien daar is ’n moontlikheid van fisieke gevaar. As jy móét ingryp, is dit ’n goeie plan om die probleem saam met jou kinders uit te pluis eerder as dat jy dit namens hulle oplos.

As jy elke keer ingryp wanneer jou kinders baklei, sal hulle nie belangrike lewensvaardighede aanleer nie. Dié vaardighede sluit in konflikoplossing en die vermoë om iemand anders se kant in te sien, te onderhandel en om hul eie aggressiewe opwellings te beheer.

DRIE MANIERE OM KONFLIK TUSSEN JOU KINDERS TE BESTUUR

1) Skei jou kinders tot albei kalm is. Dit kan ’n rukkie duur – gun elkeen die tyd wat hulle nodig het. Onthou ook dat dit geduld gaan verg, veral as jou kind haar op die vloer neergooi en skreeu. Vloerstuipe en ’n gehuil is volgens Erika oorlewingsmeganismes. “Jy kan nie jou kind straf weens iets waaroor hy nie beheer het nie.”As jy saam met jou kind op die vloer val en huil, sal sy self sien hoe sy lyk wanneer sy so skreeu en skop.

As dit ’n bietjie te dramaties na jou sin is, kan jy haar aansê om vir nog vyf minute in haar kamer te gaan skree en daarna vir jou te kom sê wat sy nodig het. Wys op die muurhorlosie wanneer sy mag terugkeer om met jou te gesels. Eers wanneer jou kind kalm is, kan jy vrae vra soos: “Hoekom is jy kwaad of hartseer?”, “Is daar iets wat mamma kan doen om dit vir jou beter te maak?”, of “Wat het jy nodig?” Die idee is dat jou kind leer om haar emosies te herken.

2) Moenie fokus op watter kind die skuld moet kry nie. Albei het skuld, al is dit ongelukkig soms waar dat die jonger kind nie die gevolge van haar daad besef nie.

3) Verander die negatiewe gedrag in iets positiefs. As jou kinders oor een speelding baklei, kan jy voorstel dat hulle albei liewer ’n ander speletjie saam daarmee speel. As dit nie gaan werk nie, is dit wys om die speelding weg te neem en iets heeltemal anders voor te stel, is Erika se raad. 

HOE JY KAN HELP

Lees: As boet en sus baklei

1) SIT ’N SPESIFIEKE TYD OPSY

Hóé jy met jou kind tyd deurbring, kan die verskil beteken tussen ’n kind wat voel hy is ontneem van iets en ’n kind wat voel hy word steeds raakgesien en gehoor. Die vyf-minute-beginsel werk uitstekend, sê die Johannesburgse spelterapeut Erika Hitge.

Dit behels dat jy elke dag vyf minute lank niks doen behalwe om by jou kind te wees nie, of dit nou voor slaaptyd of vroeg in die oggend is. Julle hoef niks spesifieks in hierdie tyd te doen nie en aanvanklik ook nie eens te gesels nie – solank jou kind net weet dat dié spesifieke tyd elke dag net vir hom bedoel is.

Onthou dat elke kind in jou huis ’n unieke mens met unieke behoeftes is; sorg dus dat jy vir elke kind tyd maak.

2) SPEEL EN TEKEN SAAM.

Kinders gee uiting aan hul emosies wanneer hulle speel en teken. Erika sê een van haar gunstelingaanbevelings is dat ’n ma haar kind vra om haar (ma se) hart te teken. Daarna kan jy jou kind aanmoedig om vir elke lid van die gesin ’n kamer in die hart te teken.

Kinders eis gewoonlik die punt van die hart vir hulleself op, of teken soms ’n baie groot kamer vir hulleself. “Die grootte van die kamer weerspieël die hoeveelheid aandag of liefde wat jou kind meen hy nodig het,” sê Erika.

Jy kan hom ook vra hoe hy die kamer wil vol maak. Vra vrae soos: “Sal dit jou kamer vol maak as mamma vanmiddag kolwyntjies saam met jou versier?”, of “Sal jy daarvan hou as mamma vandag 10 minute lank saam met jou na Superman kyk?” Speel met poppe is nog ’n manier om vinnig van jou kind se gevoelens bewus te word omdat kinders dan wys hoe hulle voel en sekere rolle vir hulself toe-eien.

Wanneer jy iets raaksien, is dit ’n goeie idee om die volgende dag vir jou kind iets te sê soos: “Mamma wonder partykeer hoekom jy so kwaai met boetie is” of “Mamma wonder hoekom jy vir boetie knyp”, of wat jy ook al in die speeltyd opgemerk het.

Lees: Hou op baklei!

3) STEL GRENSE

Minder reëls word makliker onthou. Voorbeelde van reëls is dat die een wat eerste met die speeding gespeel het, dit kan hou, en dat ons mekaar nie seermaak nie. Onthou om ferm en konsekwent te wees.

4) VERSTERK GOEIE DADE

Maak ’n punt daarvan om elke keer vir jou ouer kind te wys jy sien raak dat hy mooi teenoor sy jonger medespruit optree, en sê dit vir hom. Jou ouer kind weet baie goed dat hy aandag by jou kry as hy sy boetie of sussie seermaak of stamp – hoe meer jy dus daarop reageer, hoe meer word die slegte gedrag ingeburger.

Neem hom liewer eenkant en sê: “As jy volgende keer mamma se aandag nodig het, hoef jy nie vir boetie seer te maak nie. Waarvoor is jy lus? Wil jy ’n prentjie saam met mamma teken, of wil jy saam met mamma in die tuin stap?”

Lees: Stop die oorlog!

5) VERMY DIT OM JOU OUER KIND ALLEEN BY DIE JONGER EEN TE LOS.

As jy dit doen, selfs net vir ’n minuut of twee, gee jy vir die oudste outoriteit. Hy sal dink dat hy verantwoordelik vir die jonger een is en jou rol oorneem. Hulle dink dan dikwels dat hulle die reg het om aan die kleiner outjie te slaan, waarsku Erika.

6) HOU WEEKLIKSE GESINSVERGADERINGS.

Dit klink miskien vreemd om ’n vergadering met ’n peuter en ’n baba te hou, maar dit leer jou kinders van jongs af om te kommunikeer. Vra vrae soos: “Wat was dié week vir jou lekker?”, of “Waarvan het jy die afgelope week nie gehou nie?” Onthou ook om jou kind positief aan te moedig deur op sy pogings te let:

“Dit was vir mamma lekker dat jy en boetie so mooi saamgespeel het”, of “Mamma het nie daarvan gehou toe jy vir boetie gebyt het nie”, of “Jy het gisteroggend so mooi self aangetrek.” Gesinsvergaderings gee jou kinders die geleentheid om gereeld interaktief te wees, sê Erika. “So leer jy hulle om te vra dat hul behoeftes vervul word en kan jy jou aandag op elkeen se unieke gawes vestig.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters