Tyd om te speen?
peuter

(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba en Kleuter, Junie 2016) 

Gaan na enige Facebook-groep vir nuwe ma’s, en jy kom gou agter dat spening ’n omstrede saak is. Borsvoeding is nou verweef met vrou en ma wees, en boonop het elke samelewing voorskrifte en taboes daaroor. Dis geen wonder dat die einde van die borsvoedingsreis ’n magdom uiteenlopende emosies uitlok nie.

Gelukkig hoef die speenproses nie traumaties vir jou of baba te wees nie. Met die nodige inligting en ondersteuning kan julle hierdie spesiale tydperk mooi afsluit. 

Lees: Speen jou klein borsjors

HOE LANK MOET EK BORSVOED?

Langtermyn-borsvoeding is voordelig vir jul albei. Borsmelk se voedingswaarde neem nooit af nie. Inteendeel, die konsentrasie immuniteitsfaktore verhoog namate jou kleinding groei om op te maak vir minder gereelde voedings en die toename aan kieme waaraan beweeglike kinders blootgestel word.

Borsmelk is boonop die oorspronklike “trooskos”. Grootword is nie vir sissies nie; die peuter- en kleuterjare is vol uitdagings en borsvoeding is ’n maklike manier om ’n oormoeë, gefrustreerde of siek kind te laat bedaar, en die borsvoedingshormone het ’n kalmerende effek op jou gemoed ook.

WAT SÊ DIE KENNERS?

Die Wêreldgesondheidsorganisasie bevel aan dat alle babas ses maande van eksklusiewe borsvoeding geniet (sonder enige ekstra water of byvoedings), waarna hulle tot op twee of ouer aanhou borsvoed met die byvoeging van gesonde vaste kos.

Die Amerikaanse akademie van pediatrie bevel minstens ’n jaar van borsvoeding aan. 

Lees: Borsvoeding mites

WANNEER IS GENOEG GENOEG?

Die ideaal is dat borsvoeding voortduur solank ma en baba dit geniet. Hoewel kleingoed in ons samelewing selde langer as ’n jaar borsvoed, is die norm in talle ander kulture twee of drie jaar. In teenstelling met die wydverspreide kritiek dat verlengde borsvoeding kinders oorafhanklik maak, het verskeie navorsingstudies bewys dat dit selfstandigheid en selfvertroue bevorder

GEREED OM TE SPEEN: HOE GAAN ONS TE WERK?

Elke ma en baba is uniek, en die proses sal afhang van jul situasie en behoeftes. Of jy die leiding neem (mother-led weaning) en of jy baba die pas laat aangee (baby-led weaning), hou gerus La Leche League se leuse in ag: Doen dit geleidelik en met liefde.

Ideaal gesproke is die speenproses nie net ’n “wegneem” nie, maar ook ’n “vervanging”. Soos baba ’n plaasvervanger vir jou melk moet kry, sal jy ander maniere moet vind om sy emosionele tenk te vul. Lees boekies, sing, speel, bad saam, en liefie mekaar sommer net. 

Lees: Borsvoeding mites

WAAR BABA LEIDING NEEM

Voel dit of jy vir die res van jou lewe ’n borsvoedingsbra gaan dra? Hou moed, alle kinders word uiteindelik gespeen. Die meeste ontgroei die bors tussen twee en drie jaar. Natuurlik is daar uitsonderings: eenjariges wat nie meer wil borsvoed nie, sowel as vyfjariges wat steeds ’n sterk suigbehoefte het. As jy van babageleide spening hou, kan jy gerus Norma Bumgarner se Mothering Your Nursing Toddler lees. Haar leuse is: Moenie aanbied nie, moenie weier nie. Sodra jou kind die behoefte ontgroei, sal hy ophou borsvoed.

AS MA LEIDING NEEM

Die meeste ma’s wil vroeër speen en dus ’n meer aktiewe rol speel. Hier is ’n paar wenke:

• Geleidelik is gewoonlik beter, vir jou baba en jou borste.

• Skakel een voeding per week uit. Middagvoedings werk dikwels goed, aangesien babas meer geheg is aan hul wakkerword- en slaaptydroetine.

• Pa kan baba se aandag aflei deur met voedingstye met hom te speel of gaan stap.

• As jou baba jonger as ’n jaar is, moet hy verkieslik bottel drink om sy suigbehoeftes te bevredig. Daarna kan hy ’n koppie gebruik.

• Raadpleeg ’n pediater of klinieksuster oor ’n geskikte formule. Gewone koeimelk moet in die eerste jaar vermy word.

• Soms is dit nodig om twee treë vorentoe en een agteruit te neem. Baba word dalk siek, of is baie huilerig en onseker, of jou borste is oorvol. Hou ’n oop gemoed en wees geduldig, al duur dit langer as wat jy beplan het. Tydsberekening is belangrik. Baba sal harder teen die prikkels skop op stresvolle tye, soos met ’n trek, of wanneer hy met dagsorg begin. Skeidingsangs begin teen nege maande en kan spening ook bemoeilik. 

Lees:  Toe skrik ek my melk weg... en ander bogstories

SKIELIKE STAKING

Behalwe in noodgevalle is skielike spening nie ’n goeie plan nie. Omdat jou baba borsvoeding met liefde verbind, kan hy verwerp voel. Oorvol borste verhoog die gevaar van verstopte melkbuise, mastitis en borsabsesse – selfs al neem jy medikasie om jou melkproduksie te onderdruk.

As julle skielik moet ophou, soos wanneer jy ’n mediese prosedure moet ondergaan, is ’n natuurlike benadering veiliger, vinniger, en doeltreffender.

GAAN SÓ TE WERK

• Melk uit wanneer jou baba sou gevoed het, maar net genoeg om jou borste gemaklik te hou. Rek die sessies gaandeweg verder uitmekaar.

• Gebruik koue kompresse en koolblare vir pyn en swelling.

• Kry mediese hulp as ’n jy teer, rooiwarm knop in jou bors kry en/of grieperig voel. Hoewel die speenproses gewigtig voel, is dit ’n enkele treetjie op jul borsvoedingsreis – ’n oomblik in jul lewenslange verhouding. Benader dit sensitief en liefdevol, doen wat vir julle werk, en koester die mooi herinneringe. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters