Handgemaak met liefde

Trek los met materiaalverf 

In die een voorbeeld is ’n boom met bloeisels met die hand op ’n frokkie geverf. Op die ander frokkie is ’n kurkprop gebruik om blou en geel kolle te skep. Dié verftegniek is maklik. Skep met ’n lepel een kleur verf in ’n streep op ’n bordjie. Skep die volgende kleur verf reg langsaan sodat dit ook in ’n streep loop. Druk die punt van die kurkprop in albei kleure gelyk sodat die streep tussen die kleure in die middel is en druk ’n kol op die frokkie.

Herhaal die proses, maar maak seker dat die streep altyd op dieselfde plek val wanneer jy die prop in die verf doop. Plaas ’n stuk papier in die frokkie om te keer dat die verf na die rugpant deurslaan. Jy kan ook patrone met stensils of aartappelvorms maak.

Kleur materiaal in die ombre- of knoop-en-doop-styl

Maak ’n kleurbad gereed volgens die aanwysings van die materiaalkleursel wat jy gekies het. Vir die ombre-styl: Hang ’n natgemaakte frokkie halflyf in die bad. Die water sal self ’n klein bietjie na die bokant deursypel. Vir die knoop-en-doop-styl: Rol die frokkie in die lengte op en bind op verskillende plekke styf met tou vas. Dompel dan die hele frokkie in die kleurbad. Volg die aanwysings vir die res van die kleurproses. Sodra die knoop-en-doop-frokkie klaar gekleur is, kan jy die tou losknip.

Vrolike versierwerk

Doen appliekwerk met vilt of stukkies materiaal. Vir ’n seuntjie kan jy ’n strikdas-en-kruisband-uitrusting aanbring. Koop lint wat effens kan rek. Steek dit met spelde aan die voorkant van die uitrusting vas waar dit moet kom en werk dit met garing vas. Maak ’n strikdas wat met ’n haak- of borsspeld aan die frokkie vasgespeld kan word sodat dit op wasdag afgehaal kan word.

Vir ’n meisietjie kan jy ’n mooi Peter Pan-kraaghempie maak: Sny twee stukke vilt in verskillende kleure en werk dit met borduurgaring teen die halslyn van die frokkie vas. Jy kan dit net so vaswerk of eers die vilt met violeen vasstryk. Rond af met tosseltjies of knopies.

Patrone wat pof

Koop pofverf by ’n kunsvlyt- of materiaalwinkel. Plaas ’n stuk papier tussen die voor- en agterpant van die frokkie. Vorm ’n interessante patroon of tekening direk op die frokkie se materiaal. Gewoonlik word die verf oornag gelaat om droog te word – lees die aanwysings op die botteltjie om te kyk of dit nodig is. Blaas dit die volgende dag met ’n haardroër sodat die verf kan oppof. Dieselfde effek kan met ’n strykyster verkry word.

Maak jou merk met 'n materiaalpen

Skryf ’n oulike sêding of teken ’n skets op ’n frokkie. Plaas ’n stuk papier binne-in die frokkie terwyl jy werk sodat die viltpen se ink nie na die agterkant deurslaan nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters